Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Parktown-tragedie: ‘Lesufi probeer politieke munt slaan’

Terwyl Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, Vrydag aangekondig het die skoolhoof van Parktown Boys’ High School is geskors, was Malcolm Williams nog onder die indruk hy sal Maandag die geleentheid kry om sy kant te stel.

Dit het daartoe gelei dat sommige onderwyskenners beweer Lesufi het die publiek blatant mislei met dié aankondiging.

Die LUR se aankondiging Vrydag het gekom te midde van ’n ondersoek na die dood van Enock Mpianzi (13), ’n gr. 8-leerling van dié spogskool, ten tyde van ’n oriënteringskamp.

lesufi
Edward Mosuwa, departementshoof van die Gautengse onderwysdepartement, en Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys, Vrydagaand ná die ouervergadering van Parktown Boys' Highschool

Mpianzi se lyk is verlede Vrydag in die Krokodilrivier by die Nyati-oord naby Brits gekry nadat hy aan ’n wateraktiwiteit deelgeneem het.

Volgens Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), het Lesufi die besluit geneem om Williams te skors. Hy is egter nie by magte om dit te doen nie.

Net Edward Mosuwe, hoof van die departement van basiese onderwys, het die mandaat om ’n onderwyser te skors. Williams is nooit deur Mosuwe ingelig dat hy geskors is nie, kon Netwerk24 bevestig.

“Williams is nog nie amptelik geskors nie en dus het Lesufi gelieg.

“Williams se regte is vertrap en sy ‘skorsing’ kan hom benadeel in die ondersoek wat gaan volg,” sê Klopper.

Paul Colditz, hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê Lesufi wek die indruk dat Williams skuldig is nog voordat hy sy kant van die saak kon stel.

Klopper sê Lesufi het deur sy aankondiging politieke munt uit die situasie probeer slaan.

Elijah Mahlangu, woordvoerder van die nasionale departement van onderwys, het Saterdag alle navrae na Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse onderwysdepartement, verwys.

Mabona het op sy beurt gereageer deur te sê dit maak nie saak dat Lesufi Vrydag aangekondig het dat Williams geskors is nie.

Williams se regte is vertrap en sy ‘skorsing’ kan hom benadeel in die ondersoek wat gaan volg.

Same-same,” is al wat hy in ’n e-pos gesê het.

Hy het nie gesê of Lesufi se skorsing deur Mosuwe goedgekeur is nie.

Die departement het die prokureursfirma Harris Nupen Molebatsi aangestel om die voorval te ondersoek.

Lesufi het Vrydag gesê Williams is op grond van die voorlopige bevindinge van dié ondersoek geskors.

André Aggenbach, ’n prokureur wat in arbeidsreg praktiseer, sê Lesufi het nie noodwendig verkeerd opgetree met sy aankondiging nie.

“Sonder al die feite is dit moeilik om te sê of Lesufi uit ’n regsoogpunt verkeerd was. Die geweldige openbare reaksie, asook die feit dat kinders hierdeur geraak word, kon ’n rol gespeel het,” sê Aggenbach.

“Al was die skoolhoof onder die indruk dat hy eers Maandag sy redes moet verskaf, kon die skorsing in sekere omstandighede wel geregverdig gewees het. So ook die besluit om dit Vrydag reeds aan te kondig,” sê Aggenbach.

Dit hang volgens hom ook af of Lesufi die regte prosedure gevolg het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.