Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Parktown-tragedie: Oord verbreek stilte
Sandra Boketsu, Anto Mpianzi en Elie Kodiemoka, onderskeidelik Enock Mpianzi se tannie, ma en sussie, was baie emosioneel toe hulle Dinsdag by die rivier kom waar hy dood is. Foto: Arisa Janse van Rensburg

’n Week nadat Enock Mpianzi (13) op ’n oriënteringskamp van Parktown Boys’ High School dood is, het die oord waar die tragedie afgespeel het, sy stilte verbreek.

Daniël Eloff, regsverteenwoordiger van die Nyati-oord buite Brits in Noordwes, het Woensdag in ’n verklaring gesê die skool se gr. 8’s het op 15 Januarie aan ’n avontuuraktiwiteit bekend as die stretcher run deelgeneem.

Mpianzi het vermoedelik tydens die aktiwiteit verdrink en sy lyk is Vrydag by die rivier in die oord gevind.

Luidens die verklaring het die aktiwiteit tussen 15:00 en 16:00 plaasgevind en 17 van Nyati se fasiliteerders en personeellede van die skool het toesig oor die seuns gehou.

Die oorblyfsels van ’n vlot wat soortgelyk is aan een van die wat Enock Mpianzi glo gebruik het om die rivier aan te durf, is Dinsdag langs die rivier gevind. Foto: Arisa Janse van Rensburg

Eloff sê in die verklaring ’n gedeelte van die aktiwiteit was in die rivier. Hy sê leerlinge is in spanne van ongeveer sewe verdeel. Een van die spanlede is op ’n draagbaar, wat as ’n vlot gebruik is, geplaas en vier opblaasbande is hieraan vasgemaak.

Volgens hom moes hulle dié vlot gebruik om deur 20 m in ’n vlak gedeelte van die rivier te roei. Agt fasiliteerders en onderwysers het oor dié deel toesig gehou.

“Die leerlinge wat aan die aktiwiteit deelgeneem het, was opgewonde en mededingend. Die groepe was gretig om eerste oor die wenstreep te kom en het ander groepe in die water verbygesteek. Ondanks duidelike opdragte om dit nie te doen nie, het van die groepe na die dieper gedeelte van die rivier beweeg waar die stroom sterker was. Die fasiliteerders moes drie groepe help om uit die water te kom. Hulle het nie in enige stadium opgemerk dat een van die groeplede deur die stroom weggevoer is nie. Die aktiwiteit is dadelik beëindig toe hulle die gevaar besef,” sê Eloff.

Leerlinge het hierna op ’n staptog gegaan.

Die aand is die leerlinge se name op ’n lys afgemerk en agt leerlinge het volgens Eloff nie geantwoord nie. Enock was een.

Omdat die skool, volgens Eloff, nie voor die tyd leerlinge se name afgemerk het nie, was dit moeilik om agter te kom wie werklik op die kamp was. Toe Enock se ouers Donderdagoggend bevestig hy is wel op die kamp, is die soektog begin.

Ouers het intussen beweer dat die leerlinge nie reddingsbaadjies gedra het nie en dat daar geen toesig was tydens die aktiwiteit nie. Volgens hulle was die vlotte uit stukke bamboes en skoenveters gemaak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.