Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Parktown-tragedie: Oudleerling praat oor ‘waarheid van kampe’

WAARSKUWING: Van die inhoud van hierdie berig kan sommige lesers ontstel.

Snitches get stiches” en “if you cry then you die”.

Dit is maar net ’n paar van die “lesse” wat ’n oudleerling van die Parktown Boys’ High School in Johannesburg glo in sy skoolloopbaan geleer het.

Enock Mpianzi, die seun van Parktown Boys’ High School wat Woensdag verdrink het.

Jason Dally (19), wat daartoe ingestem het om geïdentifiseer te word, sê dié kultuur van geheimhouding begin alles op die gr. 8-oriënteringskamp.

Hy was in 2014 op ’n kamp soos die een waarop Enock Mpianzi (14), ook ’n leerling aan die skool, verlede Woensdag dood is.

Hy kan nie onthou waar die kamp was nie.

Dally sê sy broer was die vorige jaar op ’n soortgelyke kamp en het vir hom gesê hy kan nie daaroor praat nie.

Die aand voor die kamp het gr. 9-leerlinge in die koshuis ook vir hom gesê hulle “mag nie” uitpraat nie, sê hy.

Gedurende die kamp van drie dae is hulle elke aand deur die matriekseuns wakker gemaak om opstote, opsitte en burpees (opstoot en spring in die lug – alles in een beweging) te doen, sê die seun.

“As van die seuns inmekaar gesak het weens uitputting, is die hele groep gestraf en moes ons as straf hardloop of weer van vooraf begin met die getal opstote wat aan ons gegee is. In die drie dae het ons miskien vyf ure slaap ingekry,” sê hy.

Wat vir hom die ergste van die kamp was, is toe hy glo uitgesonder en verneder is vir iets wat hy nie gedoen het nie.

Die matriekseuns het gesê: ‘Sien julle, as jy nie luister nie, gaan jy gestraf word’. Almal was toe te bang om te sê as hulle seerkry.

Dally sê hulle was besig met ’n vlotbou-aktiwiteit toe een van hul fasiliteerders se skoene in die water beland.

Die fasiliteerder het glo die seuns beskuldig.

“Die onderwysers en matrieks het vir ons gesê as die skuldige party teen aandete nie na vore kom nie, sal ons almal gestraf word,” sê hy.

Die seuns het besef dat hulle iemand moet “offer” in ’n poging dat nie almal gestraf word nie. Dally het toe aangebied om homself op te offer – hy sou sê dat hy die fasiliteerder se skoen in die water gegooi het.

“Jy sou in elk geval gestraf word. Só is daar net een ou gestraf,” sê hy.

Hy het aan die fasiliteerder “erken” en is toe glo aan die matriekseuns “oorhandig”.

Dally sê hy moes toe bergop agter ’n vierwielmotorfiets wat deur die fasiliteerder bestuur is, aanhardloop en “die son probeer vang”.

Die motorfiets het af en toe gestop en hy moes toe opstote doen dat “die klippe in my kneukels indruk”, sê hy.

Die aand moes hy glo die hele gr. 8-groep om verskoning vra.

“Die matriekseuns het gesê: ‘Sien julle, as jy nie luister nie, gaan jy gestraf word’. Almal was toe te bang om te sê as hulle seerkry,” sê hy.

By die kamp is hulle volgens hom ook afgekraak en name soos “idioot” genoem.

Volgens Dally is hulle op sportkampe met hokkiestokke en swembadpype geslaan as deel van ’n ontgroeningsproses.

Volgens die seun was hy ook in die koshuis waar hy fisiek en emosioneel afgetakel is.

Die matrieks het ook gekyk hoe die gr. 8’s stort, “om seker te maak ons gebruik net koue water, sodat hulle warm water kan hê”.

Hy sê in een geval het die gr. 11-leerlinge in die gr 8’s se storte ingekom en hul penisse teen die seuns gedruk.

Die matrieks het ook gekyk hoe die gr. 8’s stort, “om seker te maak ons gebruik net koue water, sodat hulle warm water kan hê”.

Collan Rex, ’n voormalige sportafrigter van die Parktown Boys’ High School in Johannesburg, is in November 2018 tot 23 jaar tronkstraf opgelê nadat hy skuldig bevind is op 144 aanklagte van seksuele aanranding van minderjariges en op 12 aanklagte van aanranding.

Hy het skuld op dié aanklagte beken.

Dally was een van Rex se slagoffers.

Hy het ’n verklaring by die polisie afgelê en dit het deel gevorm van die aanklagte teen Rex.

Volgens Dally moes hy dele van sy gr. 12-eksamen in ’n psigiatriese hospitaal skryf weens alles wat gebeur het.

Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir onderwys, het Vrydag gesê ondanks pogings van die departement om dit stop te sit, is die kultuur van geheimhouding steeds teenwoordig.

Die aantygings by die skool is reeds in 2018 ondersoek deur ’n prokureursfirma wat aanbeveel het dat die kampe stopgesit word.

Op ’n vraag oor waarom kampe steeds voortgegaan het, het Lesufi gesê: “Ons moet onthou drie belangrike aspekte is destyds ondersoek: die skool se gedragskode, bewerings van seksuele misdrywe by die skool en die kampe asook die ontgroeningspraktyke wat daarmee saam gaan. Ons het die leierskap van die skool en die gedragskode daarna verander. Hoewel ons dit alles op papier reggestel het, lyk dit of die kultuur van geheimhouding steeds by die skool voortgaan en dit is iets wat ons beslis sal moet ondersoek,” sê Lesufi.

Die skool het nie gereageer op navrae oor die bewerings nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.