SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Onderwys
PE-leerlinge hou optog teen geweld

Leerlinge van verskillende skole in Port Elizabeth se noordelike voorstede het Vrydag ’n optog teen misdaad en geweld, en veral geweld teen kinders, gehou.

Onderwysers van die Hillcrest Primary School in Helenvale, waar Recolin Witbooi (9) skoolgegaan het, het die optog gereël nadat oorskot wat vermoedelik syne is, Sondag gekry is.

Hy is op 6 Julie laas gesien terwyl hy saam met maats in ’n kloof in die omgewing van sy ouerhuis in Barcelona naby Gelvandale in Port Elizabeth gaan visvang het.

Verskeie soektogte sedertdien deur die polisie en gemeenskapsgroepe was onsuksesvol.

Leerlinge van verskillende skole in Port Elizabeth se noordelike voorstede het aan Vrydag se optog deelgeneem. Foto: Lulama Zenzile

Sondagoggend het ’n man en sy hond op die oorskot van ’n kind afgekom in ’n veld by Uitbreiding Ses tussen Gelvandale en Malabar.

Volgens Chriszelda Witbooi, Recolin se ma, was die klere wat by die oorskot gevind is, dié van haar vermiste seun.

Recolin se dood plaas geweldpleging teen kinders in Port Elizabeth se noordelike voorstede opnuut in die kollig.

Leerlinge, ouers, en onderwysers van die Hillcrest Primary School, die Helenvale Primary, die Fontein Primary School en die Primêre Skool Republiek, het aan die optog deelgeneem.

Optoggangers het gedreunsing “jou kind is my kind” en “genoeg is genoeg”.

Recolin Witbooi Foto: Verskaf

Witbooi het by die Gelvandale-stadion, waar die optog geëindig het, in trane uitgebars toe sy Recolin se skoolmaats in hul skooluniforms en met plakkate sien aankom.

“Ek en my gesin is dankbaar vir al die ondersteuning wat ons sedert my seun se verdwyning van die gemeenskap kry.

“Om al die kinders vandag hier te sien, is oorweldigend. Dit is ’n pragtige en hartroerende gebaar.

“Ek wil almal van heinde en ver wat vir ons bid, bedank vir hul gebede. Jul gebede dra krag.”

Witbooi sê haar seun sou trots gewees het op sy maats en dat hy baie lief was vir skoolgaan.

Sy sê ook sy wil haar seun begrawe, hoewel die familie nog wag op die uitslag van DNS-toetse.

Lede van die gemeenskap het Woensdag weer ’n gebedsdiens gehou op die plek waar die oorskot gekry is.

Die polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen.

Meer oor:  Recolin Witbooi  |  Port Elizabeth  |  Geweld Teen Kinders  |  Leerlinge  |  Misdaad  |  Optog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.