Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Pedofiele gekant teen seksonderrig’

Van die mense wat teen die nuwe seksonderrig vir skoolkinders gekant is, is pedofiele, sê die onderwysdepartement.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van basiese onderwys, het teruggekap teen diegene wat ontsteld is oor die nuwe lesplanne vir die vak lewensoriëntering wat van volgende jaar vir gr. 4’s tot gr. 12’s gebruik gaan word.

Rapport het verlede week berig onderwysers dreig om die kurrikulum te boikot omdat dit nie met hul waardes ooreenstem nie. Van die meer omstrede aspekte is ’n illustrasie van hoe om ’n vrouekondoom te gebruik (gr. 9), besprekings oor masturbasie (gr. 7) en beskrywings van “wat tydens vaginale, orale en anale seks gebeur” (gr. 8).

Daar was ouers wat sê hulle sal daardie bladsye met lemmetjies uit hul kinders se boeke sny.
 Chris Klopper, SAOU

Mhlanga het aan Hanlie Retief gesê die materiaal moet eksplisiet wees, want “die lewe is eksplisiet”. Ook dat “alle” gr. 9’s al seks het en dat van die klaers eintlik net pedofiele is wat nie wil hê kinders moet bemagtig word nie.

Die departement het ook in ’n verklaring wal gegooi deur te sê 117 010 tienermeisies het swanger geraak tussen April 2017 en Maart 2018. Dit wys duidelik dat die bestaande maatreëls om kinders te bemagtig nie voldoende is nie.

Die gepaai het nie die omstredenheid geblus nie. Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê hulle het die afgelope week ’n dringende ontmoeting met die minister oor die nuwe leermateriaal aangevra.

Hy sê die SAOU het oorweldigende reaksie van ouers én onnies gekry oor die nuwe inhoud.

“Daar was ouers wat sê hulle sal daardie bladsye met lemmetjies uit hul kinders se boeke sny. Ons het gevra vir die hele nuwe kurrikulum, die lesplanne, die handboeke en leermateriaal en die voorgestelde plan om onnies op te lei.”

Die departement hou vol die omstredenheid word eintlik net deur een organisasie aangeblaas wat erg konserwatief is en sekere ongegronde besware het soos dat homoseksualiteit as normaal uitgebeeld word.

Die Christelike drukgroep FOR SA sê hulle is die organisasie waarna verwys word. Hulle het verlede week na die inhoud as “sagte pornografie” verwys. Hulle ontken egter dat hulle enigiemand mislei het en sê die departement moes vooraf met belanghebbendes gekonsulteer het.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) stem saam. Hy sê die departement wat nou beweer daar was “wye konsultasie”, praat twak. “Ek weet nie van enigiemand met wie hulle gekonsulteer het nie.” Fedsas het ook die afgelope week amptelike besware by die departement geopper.

Basil Manuel, uitvoerende hoof van die onderwysersvakbond Naptosa, sê hulle wil al die lesplanne en handboeke sien.

“Hierdie hele projek is gehul in geheimsinnigheid. Die departement reageer op en korrigeer wat hulle misleidende inligting noem, maar terselfdertyd deel hulle nie alle inligting met belanghebbendes nie. Met dié benadering is dit onmoontlik om te verstaan hoe hulle verbaas en bekommerd kan wees dat daar verwarring en paniek onder Suid-Afrikaners kan wees.”

Nomsa Marchesi, die DA se woordvoerder oor basiese onderwys, sê haar party het Dinsdag aan die relevante parlementêre komitee geskryf om te vra dat departementele amptenare ontbied word om te kom verduidelik.

Die DA wil ’n voorlegging sien van wat die seksonderrig behels.

Toe Rapport vir Mhlanga vra of hulle van plan is om ná al die versoeke die kurrikulum vir die groepe te wys, het hy gesê die kurrikulum is al sedert 2000 onveranderd. Dis net die lesplanne vir dieselfde kurrikulum wat “gevorder” het en aangepas is ná konsultasie met “verskeie belanghebbendes”.

* Lees Hanlie Retief se volledige onderhoud met Mhlanga in Stemme.

Meer oor:  Chris Klopper  |  Elijah Mhlanga  |  Seksonderrig  |  Skole  |  Saou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.