Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Persentasie swart matrieks wat graad vang, daal

Hoewel daar meer swart en bruin studente in Suid-Afrika tans is, is die persentasie matrikulante in dié bevolkingsgroepe wat ’n B-graad verwerf laer as wat dit in die 1980’s was.

Dit blyk uit ’n voorlegging wat dr. Pali Lehohla, uittredende statistikus-generaal, Dinsdag oor die finansiële statistieke van tersiêre-onderwysinstellings gelewer het,

In 1975 het rondom 12% van bruin en swart matrikulante ’n B-graad verwerf, maar dit het in 2015 tot 5% gedaal.

Onder bruin leerlinge is daar ’n stewige afname van rondom die jaar 2000 af opgemerk. Onder swart leerlinge het dit van 1990 af gedaal en van 2000 af nog skerper afgeneem.

Die hoogste persentasie van swart matrikulante wat B-grade verwerf het, is 15% in 1985.

Dr. Pali Lehohla, uittredende statistikus-generaal. Foto: Samson Ratswana

Wat wit leerlinge betref, het dié persentasie van 20% in 1975 tot 25% in 2015 toegeneem.

Die persentasie Indiese en Asiese matrikulante wat ’n B-graad verwerf het oor dié tydperk het redelik stabiel gebly en van 12% in 1975 tot 15% in 2015 gestyg.

In 2014 het swart studente (48 686) die grootste groep gegradueerdes opgemaak, met wit studente as die tweede grootste groep (20 510) en bruin studente (5 622) derde.

Tussen 1996 en 2006 was die getal swart en wit gegradueerdes naastenby gelyk tussen 15 000 en 20 000.

Die getal gegradueerdes per 1 000 mense het onder swart mense van 0,14 in 1986 tot 1,12 in 2014 toegeneem en van 2006 af begin skerper styg.

Onder bruin mense het dié verhouding van 0,45 per 1 000 mense tot 1,18 in 2014 toegeneem.

Dié syfer is egter steeds die hoogste onder wit mense en het van 3,53 per 1 000 mense in 1986 tot 4,5 mense gestyg.

Indiese en Asiese studente het die grootste groei getoon van 1,71 af tot 4,12 per 1 000 mense in 2014.

Volgens Lehohla was daar tussen 1994 en 2016 ’n toename onder geskoolde indiensneming in die ouderdomsgroepe van 15 tot 24 en 25 tot 34 onder alle bevolkingsgroepe, behalwe swart Afrikane.

In die eerste kwartaal van 2017 was die gemiddelde werkloosheidsyfer in Suid-Afrika 27,7%. Werkloosheid onder mense sonder matriek het op 33,1% gestaan, met 27,9% onder mense wat matriek verwerf het en 7,4% vir gegradueerdes.

In 2016 was 975 837 studente by Suid-Afrikaanse universiteite ingeskryf, waarvan 58,1% vroue en 41,9% mans is. Hiervan is 701 482 van die studente swart (72%), 152 489 wit (16%) en 61 963 bruin (6%). Altesaam 203 078 studente het verlede jaar ook gegradueer.

Luidens Lehohla se voorlegging het Suid-Afrikaanse universiteite in 2016 altesaam R67,4 miljard ontvang – 11% meer as in 2015. Dit sluit in ’n toelae van R30 miljard (44,6%) en studiegeld van R21,6 miljard (32,1%)

Universiteite se uitgawes het in dieselfde jaar R59 miljard beloop, wat 10% meer as in 2015 was. Hiervan is R33,7 miljard (57,2) aan werknemers se salarisse bestee en R21,6 miljard (36,6%) op goedere en dienste.

Meer oor:  Pali Lehohla  |  Matrieks  |  Statistieke  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.