Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Plaasskool se matrieks styg uit

Ten spyte van die agterstand van die leerlinge aan die Rusoord Secondary School naby Meyerton in Midvaal, het dié plaasskool se slaagsyfer in een jaar met byna 30 persentasiepunte gestyg.

Voorts het die Midvaal-munisipaliteit Vrydag vir dié skool ’n prys gegee vir die grootste verbetering in die gebied.

“Rusoord het bewys dat almal optimaal kan presteer as ons die kans gegun word,” het Bongani Baloyi, burgemeester, by die munisipaliteit se eerste toekenningsgeleentheid aan die gebied se toppresteerders gesê.

Bongani Baloyi, Midvaal-burgemeester, gesels met Samuel Mogale en Teboho Khune van die Rusoord Secondary School naby Meyerton.Foto’s: JEANELLEGREYLING

“Die skool het enkele jare ge­lede ’n groot agterstand in hulpbronne en infrastruktuur gehad.

“Die leerlinge en onderwysers was egter vasberade om bo hul omstandighede uit te styg.”

Baloyi het die skool belowe die munisipaliteit sal die basiese hulpbronne voorsien sodat die leerlinge optimaal kan presteer.

In ruil vir die bystand moes die leerlinge wys hulle is toe­gewyd tot hul akademie.

“Die skool het slegs ’n maand later ’n matraskamp begin, ’n inisiatief waar die leerlinge oor naweke by die skool oorslaap en gratis ekstra klasse neem.”

Rusoord se matrieks van 2017 het ’n slaagsyfer van 61,1% gehad.

“Vandag spog hulle met ’n styging van byna 30 persentasiepunte met ’n slaagsyfer van 90,9%,” het Baloyi onder luide toejuiging gesê.

Dokkies is tops. Chanté Blignaut van die Hoërskool Dr. Malan het pryse ontvang omdat sy die toppresteerder in Midvaal en in haar skool is asook die beste punte in wiskunde en fisiese wetenskappe behaal het. Rossie Briers, skoolhoof, het die pryse vir die beste skool in Midvaal en die skool met die meeste onderskeidings in Midvaal namens die Hoërskool Dr. Malan in ontvangs geneem.

Nomalanga Maduna, skoolhoof, sê die munisipaliteit en weldoeners het onder meer toiletware en skoolskoene aan die leerlinge geskenk.

Die skool het lopende water en elektrisiteit ontvang en die rioolprobleme by Rusoord is opgelos.

“Baloyi het selfs gehelp om die klasse te verf.

“Hy het die leerlinge gereeld besoek, bloot om hulle te motiveer,” het Maduna gesê.

“Die leerlinge was ook toegewyd. Hulle het die meerderheid van die jaar sewe dae ’n week skoolgegaan.”

Nomalanga Maduna, skoolhoof van Rusoord, ontvang ’n prys vir die skool wat die grootste verbetering in Midvaal getoon het. Links van haar is Bongani Baloyi, burgemeester, en regs is Ronny Moloi, ’n verteenwoor­diger van die onderwysdepartement in Sedibeng-Oos.

Baloyi het verder gesê die leerlinge stel ’n voorbeeld aan alle Suid-Afrikaners.

“Die leerlinge aan Rusoord moet twee keer harder as ander werk, maar hulle het bewys dat jy uitnemende uitslae kan behaal deur konsekwentheid, dissipline en harde werk.

“Ons kan nie vir ons leerlinge sê jy kan ten spyte van jou agtergrond sukses behaal as ons nie vir hulle die noodsaaklike hulpbronne en ondersteuning gee om hul bes te doen nie.”

Ook die Hoërskool Dr. Malan in Meyerton het pryse ontvang omdat dit die beste skool in Midvaal is en met die meeste onderskeidings in Midvaal spog.

Die Destinata School, ook in Meyerton, is vir sy 100%-slaagsyfer vereer.

Die Meyerton Secondary School was die bes presterende townshipskool.

Die burgemeester kon met die winste van geldinsamelingsprojekte soos sy gholfdag beurse aan toppresteerders van die ses skole in Midvaal skenk.

Die beurse sal die klas- en boekegeld by tersiêre instellings dek.

Die begunstigdes is:

  • Chanté Blignaut, toppresteerder van Dr. Malan. Sy is ook die beste presteerder in Midvaal en het die beste uitslae in wiskunde en fisiese wetenskappe behaal.
  • Samuel Mogale, toppresteerder van Rusoord.
  • Mpho Mngomezulu, top­presteerder van die New Hope Secondary School.
  • Zane Venter, toppresteerder van Destinata.
  • Tsholofelo Moholane, toppresteerder van die Assemblies of God College.
  • Kelneilwe Makhura, toppresteerder van Meyerton.
  • Teboho Khune, ook van Rusoord, ontvang ’n beurs omdat hy na 2018 se matriekklas deurgesit is en toe besonderse uitslae behaal het.
Meer oor:  Meyerton
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.