Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Plasings in skole: Chaos in Gauteng duur voort
Daar was Maandag vroegoggend reeds geen parkering by die Vodacom ICT-sentrum in Sunnyside, Pretoria, nie. Foto: Verskaf

’n Gautengse ma is raadop oor die probleme met skoolplasings in Gauteng nadat sy Maandag die tweede keer voor dooiemansdeur beland het toe sy met die plaaslike onderwysdepartement hieroor wou praat.

“Ek weet nie waarheen my kind gaan nie. Dis die klein dinge wat my bekommer. Ek kan nie sokkies of skoolskoene koop nie, want ek weet nie watter kleur die skool gaan vereis nie,” sê Nonala Buthlezi.

Haar 14-jarige dogter, Azize Maphumulo, is een van talle kinders wat nog nie plek in ’n skool gekry het nie.

Buthlezi was een van die ouers wat Maandagoggend na die Vodacom ICT-sentrum in Sunnyside, Pretoria, gegaan het met die hoop om duidelikheid te kry oor waar haar kind geplaas is.

Dit kom nadat sy verlede jaar op 3 November ook voor ’n streekkantoor gewag het toe die departement ouers “verkeerdelik” daarheen gestuur het.

Net soos voorheen het die onderwysdepartement ouers per ’n kennisgewing ingelig om hulle daar aan te meld.

Buthlezi het Maandag om 06:30 by die lokaal opgedaag waar die parkering reeds stampvol was. Sy sê dit blyk sommige ouers het toe reeds van 04:00 af daar gewag.

Buthlezi het in 2018 haar dogter by Pretoria Girls High ingeskryf, want “sy het nie geld om haar dogter na ’n private skool te stuur nie”.

“Ek weet van ouers wat nou noodgedwonge private skole moet oorweeg, want daar is geen terugvoer van die departement nie.”

Buthlezi sê toe sy haar dogter inlig dat vandag ook geen resultate opgelewer het nie, het die meisie begin huil.

“Haar pa is in 2011 oorlede. Vandag vra sy my of sy ook deur hierdie stryd vir plasing sou gegaan het as haar pa nog geleef het,” sê Buthlezi.

Sy sê ’n verteenwoordiger van die onderwysdepartement het ná ’n paar ure opgedaag en vir hulle gesê om weer Woensdag terug te gaan, want die departement se personeel “begin eers Woensdag werk”.

‘Laat plasings plaas druk op skole-infrastruktuur’

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê laat plasings het ’n geweldige invloed op skole.

“Skole het reeds hul beplanning gedoen en roosters en handboeke uitgedeel. ’n Klomp bykomende leerlinge bring ontwrigting. Dis nie die skool se fout nie, want skole is vol,” sê Klopper.

Klopper sê ’n digitale inskryfstelsel wat deur die skool self beheer word, sou baie beter gewerk het. “Derduisende aansoeke gaan nou na een plek (die departement) en maak dinge kompleks. Elke skool verteenwoordig ’n gemeenskap; die departement wil alles sentraal doen.”

Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame in Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê laat plasings gaan veroorsaak dat te veel leerlinge na skole gestuur word.

“Meer leerlinge in skole plaas druk op hul infrastruktuur. Is daar genoeg badkamers? Indien ’n tragedie soos Driehoek gebeur, is daar genoeg ontruimingsgeriewe? Dit plaas ook druk op opvoeders, want hulle het meer nasienwerk. Dis vir die leerling moeilik om ’n verhouding met die onderwyser te bou, want die klaskamer is te vol.”

Deacon sê skole in Gauteng word teen ’n baie stadige tempo gebou.

“Die krisis in Gauteng is weens ’n gebrek aan goeie leierskap en beplanning oor ’n lang tydperk.”

Tseliso Ledimo, Sadou se hoofsekretaris in Gauteng, sê hy hoop die plasing van alle leerlinge sal spoedig afgehandel word. Hy sê groot getalle leerlinge in ’n skool het uitkringende gevolge. “Wanneer die aantal leerlinge in ’n klas toeneem, word die klas moeilik bestuur. Hou in gedagte dat elke kind uit ’n ander agtergrond kom,” sê Ledimo.

Adv. Anton Alberts, VF Plus-LP, meen die aanlyn plasingstelsel vir skole in Gauteng moet onmiddellik afgeskaf word.

“Daar is tans steeds duisende Gautengse leerlinge wat nog nie geplaas is nie weens die geweldige administratiewe rompslomp wat geskep Lesufi se aanlyn plasingstelsel geskep het,” sê Alberts.

Hy sê die stelsel skep chaos en daar moet teruggekeer word na die vorige stelsel waar ouers self by skole vir die plasing van leerlinge aansoek kan doen.

“Die VF Plus is daarvan oortuig dat die stelsel nie na behore funksioneer nie en geskep is met die motief om deur kunsmatige manipulasie Afrikaanse skole se demografie te verander en sodoende die skole se Afrikaanse karakter te vernietig.

“Die VF Plus het daarom besluit om te vra dat die openbare beskermer (OB) die stelsel ondersoek en het ’n klag daaroor by die OB ingedien,” sê Alberts.

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse onderwysdepartement, sê Lesufi gaan ouers Dinsdag oor die uitkoms van appèlle en laat registrasies van gr. 1- en gr. 8-leerlinge inlig.

Laat registrasies kan volgens die verklaring van 15 tot 24 Januarie gedoen word.

* Die loopbrug by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark het vroeg in 2019 ineengestort. Die betonblok wat meegegee het, het op die kinders geval wat op daardie oomblik op die grondvloer geloop het. Kinders wat bo-op die betonblok was wat meegegee het, het ook geval en is beseer. 20 leerlinge is ernstig beseer en vier is dood toe die loopbrug ingeval het.

Meer oor:  Gauteng  |  Onderwysdepartement  |  Plasings  |  Chaos  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.