Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Plasingskrisis steeds nie opgelos

Talle Gautengse leerlinge sal dalk volgende Woensdag hul eerste skooldag tuis moet deurbring.

Rolspelers sê dit is te danke aan die provinsie se departement van basiese onderwys se onvermoë om plasings in skole te hanteer.

Panyaza Lesufi, die provinsie se LUR vir onderwys, het op 3 Desember bekend gemaak dat 27 000 leerlinge nog nie geplaas is nie, “omdat hul ouers nie die nodige papierwerk voltooi het nie”.

Organisasies sê egter dié getal het sedertdien verhoog.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê Gauteng is een van die provinsies wat in Januarie weens verstedeliking ’n groot instroming mense kry.

“Die departement sal met ’n oplossing moet kom om leerlinge te akkommodeer. Skole word bykomende klaskamers, onderwysers en leermateriaal belowe. Dié wat dit wel ontvang, moet maande daarvoor wag, terwyl ander nooit iets ontvang nie,” sê Klopper.

Duisende leerlinge in Gauteng is nog nie in skole geplaas nie en sal dalk hul eerste skooldag tuis moet deurbring. Foto: Argief

Melanie Buys, hoof van Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS), sê hulle het ’n lys van honderde ouers wat nog wag vir plasing van hul gr. 1- en gr. 8 kinders.

“Ek dink vanjaar is dit selfs ’n groter probleem as ander jare omdat die skole geen beheer oor die plasingsproses gehad het nie.”

Buys voeg by dat Lesufi eers die kwessie van disfunksionele skole in die provinsie moet oplos.

“Sommige skole staan leeg omdat ouers doodeenvoudig weier om hul kinders soontoe te stuur,” sê Buys.

Tseliso Ledimo, Gautengse sekretaris van die onderwysvakbond Sadou, sê die plasingsprobleme sit onnodige druk op onderwysers en skole se infrastruktuur.

“Klasse word al hoe groter en onderwysers se leermateriaal soos handboeke al minder,” sê Ledimo.

Volgens Tseliso was Sadou onder die indruk dat alle leerlinge reeds geplaas sou wees wanneer skole heropen.

Adele Vermeulen van Krugersdorp is een van die ouers wat weekliks navrae doen om te hoor of haar dogter (6) by Monument Primary School in Krugersdorp plek het. Dit is die enigste Engelse laerskool in hul omgewing, sowat 3 km van hul huis.

Vermeulen het op 6 November begin navrae doen by distrikkantore en die skool self, maar het nog nie terugvoering ontvang nie.

Haar dogter moet volgende week met graad een begin. “Ons is raadop. My dogtertjie vra my die heeltyd waarom ons nog nie haar skoolklere gaan koop het nie en dan breek my hart. Ons het al tot met die direkteur gepraat, maar dit val op dowe ore,” sê Vermeulen.

Die departement het haar dogter by die Laerskool Muldersdrift, ’n Afrikaanse laerskool 10 km van haar huis, geplaas maar haar kind se plek in dié skool het ook sedertdien verdwyn, sê Vermeulen.

Elmarie Buys van Danville, Pretoria, sit met ’n soortgelyke probleem.

Haar dogtertjie Zelmarie (6), wat ook vanjaar met graad een begin, is volgens die departement in die Laerskool Tuine geplaas, hoewel die skool niks daarvan weet nie.

Buys sê sy gaan Maandag na die skool om klarigheid te kry.

“Sy het reeds skoolklere en al haar skryfbehoeftes is reg. Ons wag nou net om te hoor na watter skool toe sy moet gaan,” sê Buys.

Tuine was ook nie Buys se eerste keuse nie aangesien die skool ongeveer 45 minute se stap van hul huis is.

“Maar ons sal elke oggend saam met haar stap en in die middae weer gaan haal, net solank sy kan skool toe gaan,” sê Buys.

Netwerk24 het Steve Mabona, Lesufi se woordvoerder, onder meer gevra:

* Is die 27 000 leerlinge reeds geplaas, al dan nie?

* Wat is die totale getal leerlinge wat tans nie plek het in skole nie?

* Waarom het ouers wat al die nodige prosedures gevolg het se kinders steeds nie klarigheid nie?

* Waarom is sommige kinders meer as 45 minute van hul tuiste geplaas?

Hy het daarop gereageer deur ’n mediaverklaring van 6 Januarie aan te stuur.

Luidens die verklaring open die proses vir laat aansoeke eers op 15 Januarie en sluit dit dan weer op 24 Januarie.

“Leerlinge sal dan slegs geplaas word by skole wat nog nie vol is nie. Plasings sal bevestig word sodra ouers die nodige dokumentasie ingedien het en geen appèlaansoeke sal toegestaan word nie aangesien daar beperkte ruimte is,” lees die verklaring.

Lesufi sê in dieselfde verklaring dat die departement dag en nag werk om die plasingskwessie op te los.

Meer oor:  Solidariteit  |  Chris Klopper  |  Skole  |  Plasings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.