Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Popi-klag oor inligting van duisende Gautengse ouers, leerlinge

’n Klag ingevolge die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popi) is teen die Gautengse onderwysdepartement ingedien nadat meer as 11 000 leerlinge, ouers en voogde se persoonlike inligting glo onregmatig bekend gemaak is.

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) het die klag by die Inligtingsreguleerder ingedien.

Luidens die klag, wat Netwerk24 gesien het, is ’n Excel-dokument met die persoonlike inligting van 11 507 leerlinge, ouers en voogde in die Tshwane-Wes-distrik per e-pos aan 100 ontvangers gestuur.

Leerlinge se voorname, van, geslag, geboortedatum, ID-nommer, huistaal en onderrigtaal is in die inligting vervat. Verder bevat die e-pos ouers en voogde se voorname, van, ID-nommer, selfoonnommer en huisadres.

Jaco Deacon, waarnemende uitvoerende hoof van Fedsas. Foto: Verskaf

Die inligting is volgens Fedsas van die amptelike stelsel vir skoolbestuur en -administrasie (Sasams) verkry. ’n Werknemer van een van die departement se hoofbeamptes het die e-pos gestuur, waarin skole versoek word om hul inligting na te gaan en te wysig, indien nodig.

Dr. Jaco Deacon, waarnemende uitvoerende hoof van Fedsas, sê hulle vra al ’n jaar lank dat die provinsiale onderwysdepartemente en Sasams aan die Popi-wetgewing voldoen.

“Sasams is duidelik nie ’n beskermde stelsel nie en bevat die persoonlike inligting van miljoene skoolgaande kinders en hul ouers of voogde. Die doel van die Popi-wet is juis om gestalte te gee aan individue se grondwetlike reg op privaatheid deur hul persoonlike inligting te beskerm,” sê hy.

Volgens Fedsas het instansies jare gehad om gereed te maak vir die Popi-wet, wat op 1 Julie in werking getree het.

“Dis kommerwekkend dat so ’n reuse-databank, boonop een wat deur die staat beheer word, nie voldoen aan die vereistes van die wetgewing nie en amptenare op ’n roekelose wyse die inligting deel,” sê Deacon.

“Die Gautengse onderwysdepartement is veronderstel om bewus te wees daarvan dat die departement, as verantwoordelike party, die plig het om die nodige stappe te doen om die inligting in sy besit of onder sy beheer te beskerm en amptenare op te lei.”

Dis kommerwekkend dat so ’n reuse-databank, boonop een wat deur die staat beheer word, nie voldoen aan die vereistes van die wetgewing nie en amptenare op ’n roekelose wyse die inligting deel.

Deacon sê die departement moet ook wanneer hy daarvan kennis neem dat onregmatige toegang tot persoonlike inligting verkry is, die betrokke persone daarvan inlig. Fedsas kon nie vasstel of dit wel gebeur het nie.

“Indien persoonlike inligting van onder andere minderjarige kinders wel onregmatig versprei is, sal dit growwe nalatigheid aan die kant van die Gautengse onderwysdepartement wees,” sê Deacon.

Die Inligtingsreguleerder het teenoor Netwerk24 bevestig dat die klag ontvang is.

Deacon het Donderdag weer ’n brief aan die direkteur-generaal van onderwys gerig om te versoek dat alle provinsiale departemente in September terugvoering gee oor of hulle aan die Popi-wetgewing voldoen.

Navrae is aan die Gautengse onderwysdepartement gerig, maar is teen Vrydagmiddag nog nie beantwoord nie.

Meer oor:  Fedsas  |  Jaco Deacon  |  Gauteng  |  Klagte  |  Inligting  |  Wetgewing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.