Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Private Afrikaanse skole beplan

Gemeenskappe moet self verantwoordelikheid vir moedertaalonderrig neem, want die regering kan nie daarmee vertrou word nie.

Dit is hoekom die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) op die been gebring is, sê vennote van dié nuutgestigte organisasie.

Een van dié organisasie se planne is om ’n netwerk van bekostigbare, private Afrikaanse skole te bou, berig Rapport.

Dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, sê die AON sal “na die langtermynbelange van Afrikaanse onderwys” omsien.

“Die toekoms van Afrikaanse onderwys lê in die hande van sy sprekers. Daarom doen ons ’n beroep op alle Afrikaanssprekendes om die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) ten volle te ondersteun,” sê Hermann.

Helpende Hand se skole-ondersteuningsentrum is een van die AON se vennote.

Op die vraag of die privatisering van Afrikaanse skole tot ongelykheid sal lei, sê Hermann die idee is glad nie om iets elitêr te vorm nie.

“Die inisiatief se doel is nie om ’n wins te maak nie, dit is meer ’n geval dat die gemeenskap verantwoordelikheid neem vir sy eie kinders.”

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), ook een van die rolspelers in die AON, sê dit gaan nie net oor privatisering nie.

“Eerstens wil ons verseker dat daar skole in die openbare sektor is waar Afrikaans as moedertaal aangebied word. In die openbare sektor kry Afrikaans die wind van voor, veral in die hoër onderwys. Waar dit nie moontlik is vir openbare skole om Afrikaans te wees nie, sal private skole gestig word.”

Mugwena Maluleke, hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou), is egter bekommerd dat private skole in Suid-Afrika ongelykheid bevorder.

“Ons moet openbare skole vir almal verbeter, of dit nou Afrikaanse skole of Zoeloe-skole is. Private skole is nie volhoubaar vanuit ’n ekonomiese oogpunt nie, en hulle het die geneigdheid om arm gemeenskappe uit te sluit.”

Dit is egter hartseer dat ons op ’n punt gekom het waar moedertaalonderrig privaat verskaf moet word in plaas daarvan dat die staat dit doen.

Tim Gordon, uitvoerende hoof van die Stigting vir Beheerliggame (GBF), sê hy hoop ook dat dié skole nie sal lei tot die vervreemding van mense nie.

“Dit sou beter wees om die owerhede te oorreed om moedertaalonderrig aan mense te bied sonder die behoefte om die privatiseer.”

Daan Potgieter, huidige hoof van die Hoërskool Waterkloof in Pretoria en die uitvoerende hoof van die AON, sê dit is glad nie die idee om Afrikaans te omhein nie, en dat dié organisasie nie gekoppel is aan politieke of rassekwessies nie.

Colditz herhaal dié gedagte en sê dat verskeie organisasies in die bruin gemeenskap betrokke is by die AON.

“Alle Afrikaanse skole in die land is of bruin, of gemeng. Daar is kinders van alle kleure en geure. Dié organisasie gaan allermins oor wit Afrikaanssprekendes, veral as ’n mens in ag neem dat die meerderheid Afrikaanssprekendes nie wit is nie.”

Beide Gordon en Maluleke sê hulle verstaan waarom die organisasie op die been gebring is.

“Alle tale is belangrik. Afrikaans is ook belangrik, ek kan nie die gemeenskap daarvoor blameer dat hulle die taal wil beskerm nie,” sê Maluleke.

Gordon sê dit is ’n sensitiewe saak, maar dat hy verstaan wat die groep wil doen.

“Dit is al vir ’n lang tyd deel van die filosofie in opvoedkunde dat kinders die beste leer in hul moedertaal. Dit is egter hartseer dat ons op ’n punt gekom het waar moedertaalonderrig privaat verskaf moet word in plaas daarvan dat die staat dit doen.”

Die skolewet maak egter voorsiening vir private skole en dit is die ouers se keuse of hulle hul kinders na private skole wil stuur.

Op die vraag oor wie die AON gaan finansier, sê dr. Theuns Eloff, voorsitter van die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO), dat die Trust vir Afrikaanse Onderwys aanvanklik gebruik gaan word om projekte te finansier. Hy sê egter dat die AON ook ’n spanpoging tussen verskeie partye soos Fedsas, die SAOU, die ATKV en Solidariteit Helpende Hand is.

“Ons gaan ook die dienste van ander onderwysorganisasies gebruik. Almal doen werk vir Afrikaanse onderwys, dit is net nie gekoördineer nie.”

Oor waar die geld vir die bou van private skole vandaan gaan kom, sê Eloff dat beleggers waarskynlik genader sal word.

“Die bou van skole sal uiteraard meer geld kos. Ons sal waarskynlik beleggers vra om in Afrikaanse onderwys te belê.”

Eloff sê ’n konsultant is aangestel om ’n kosteberaming te doen oor hoeveel dit gaan kos om dié skole te bou.

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse onderwysdepartement, het Sondag by navraag gesê Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, sal eers berigte oor die AON moet bestudeer voordat hy daarop kommentaar lewer.

Troy Martens, woordvoerder vir die minister van onderwys, Angie Motshekga, het by navraag gesê die minister is tans in die buiteland.

“Die skolewet maak egter voorsiening vir private skole en dit is die ouers se keuse of hulle hul kinders na private skole wil stuur,” sê Martens.

Meer oor:  Atkv  |  Solidariteit  |  Saou  |  Afrikaans  |  Onderwys  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.