Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Private matriekafskeid is toelaatbaar, maar . . .

Dit is nie onwettig om ’n private matriekafskeid te hou nie, maar dit word op eie risiko gedoen en die organiseerders moet streng hou by Covid-19-maartreëls.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die nasionale onderwysdepartement, sê daar sal ’n beperking op die getal mense moet wees en gesonde afstande moet gehandhaaf word.

“Ons kan nie ouers keer om ’n matriekafskeid vir hul kinders te reël nie, maar hulle moet besef dit word op eie risiko gedoen en die departement sal geen verantwoordelikheid kan aanvaar as iemand siek word nie,” sê Mhlanga.

Volgens die vlak 2-regulasies van die nasionale staat van inperking word net 50 mense op byeenkomste toegelaat en gesonde afstande moet streng gehandhaaf word.

Mense word ook verplig om gesigsmaskers te dra, behalwe wanneer hulle eet of drink.

Ons kan nie ouers keer om ’n matriekafskeid vir hul kinders te reël nie, maar hulle moet besef dit word op eie risiko gedoen en die departement sal geen verantwoordelikheid kan aanvaar as iemand siek word nie.

Luidens riglyne van die onderwysdepartement mag skole geensins naskoolse aktiwiteite hou tydens die Covid-19-pandemie nie.

Netwerk24 het vroeër berig matriekafskeidsgesellighede sal nie vanjaar toegelaat word nie. Die besluit is geneem nadat skole en die departement ooreengekom het dat dit veiliger sou wees vir alle betrokkenes om die geleenthede af te stel.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys. Foto: Argief

Mhlanga het toe gesê daar is in elk geval nie nou tyd om matriekafskeid te hou nie.

“Dit vat baie tyd om so ’n geleentheid te reël. Die matrieks moet eerder nou op hul eindeksamen fokus as om matriekafskeid te hou,” het Mhlanga gesê.

Dawie Kriel, hoof van die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp, sê ook by dié skool is die matriekafskeid vir vanjaar gekanselleer.

Hy weet egter van private geleenthede wat deur ouers gereël word. “Die skool distansieer hom van die geleenthede,” sê hy.

Die Hoërskool Monument, ook in Krugersdorp, het ook ná gesprekke met leerling en ouers besluit om vanjaar se matriekafskeid te kanselleer.

Niekie van Blerk, skakelbeampte van die Hoërskool Monument, sê alhoewel hy nie nou weet van enige private geleenthede nie, sal hy nie verbaas wees as daar sulke geleenthede is nie. Ook dié skool distansieer hom van die geleenthede.

Netwerk24 het met ’n ouer van ’n matriekleerling van die skool gepraat wat bevestig het dat private geleenthede gehou sal word.

Die ouer is bekommerd oor die geleenthede. “Dit is alles goed en wel, maar wat as een van ons kinders siek word? Die eindeksamen is om die draai en as ons kinders met Covid-19 besmet word, sal hulle nie eksamen kan skryf nie,” sê die ouer.

Paul Colditz, voorsitter van Fedsas. Foto: Nelius Rademan

Paul Colditz, voorsitter van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê matriekleerlinge verdien om so ’n geleentheid te hê.

“Hulle is deur baie vanjaar. Hulle moet egter verantwoordelik optree en alle Covid-19-maatreëls moet in plek wees,” sê hy.

Colditz sê solank die geleenthede nie op die skoolterrein gehou word nie, kan die onderwysdepartement niks daaromtrent doen nie.

“As dit weg van die skoolterrein gehou word, is die betrokkenes nie meer onderhewig aan die reëls van Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, nie, maar eerder aan dié van dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering,” sê Colditz.

Vorms sal ingevul moet word, hande sal ontsmet moet word en leerlinge se temperatuur sal geneem moet word.

Hy sê dieselfde Covid-19-siftingstoetse wat soggens by skole gedoen word, sal op die geleenthede gedoen moet word.

“Vorms sal ingevul moet word, hande sal ontsmet moet word en leerlinge se temperatuur sal geneem moet word,” sê Colditz.

Mlungisi Mtshali, Dlamini-Zuma se woordvoerder, het nie Donderdag of Vrydag op navrae gereageer nie.

Meer oor:  Elijah Mhlanga  |  Matriekafskeid  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.