Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Private skole se leerlinge mag eers op 1 Februarie terugkeer

Leerlinge van private skole sal weer toegelaat word om op 1 Februarie terug te keer skool toe.

Dit is volgens regulasies wat Vrydagmiddag deur die departement van onderwys in die Staatskoerant gepubliseer is.

Luidens die regulasies mag onafhanklike skole twee weke ná Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, se aankondigings oor die heropening van openbare skole, heropen.

Haar adjunkminister, dr. Reginah Mhuale, het op 15 Januarie namens haar aangekondig dat openbare skole eers op 15 Februarie sal heropen weens stygende koronavirusinfeksies in die land.

Volgens die regulasies wat pas gepubliseer is, word onderwysers en skoolbestuurspanne wel op skoolterreine toegelaat om voorbereidings vir die komende skooljaar te tref.

Ebrahim Ansur, sekretaris-generaal van die Nasionale Alliansie van Onafhanklike Skole in Suid-Afrika (Naisa), het Vrydagaand by navraag gesê Naisa ondersteun die besluit om private skole eers op 1 Februarie te heropen. “Die departement het met ons gekonsulteer en ons stem saam dat private skole eers dan moet heropen. Ons moet almal ons deel doen om die druk op hospitale te verlig,” sê hy.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van basiese onderwys, het Vrydagaand by navraag gesê die tydperk van twee weke, sedert die minister se aankondiging, wat private skole gesluit sal wees, gee die gesondheidsektor tyd om te herstel. “Die twee weke gee die gesondheidsektor die nodige verligting in ’n tyd waar daar baie beweging in die land is,” sê hy.

Intussen het belanghebbendes en die onderwysdepartement Vrydag vergader oor ’n voorgestelde skoolkalender vir 2021.

Volgens ingeligtes het sowat 90% van belanghebbendes die departement se voorstelle op die vergadering verwerp.

Die voorgestelde datums was dat skole se bestuurspanne reeds op 25 Januarie moet aanmeld en onderwysers op 1 Februarie, terwyl húl laaste dag van die skooljaar 17 Desember sal wees.

Die departement se voorgestelde kalender vir skooltermyne is:

• Eerste kwartaal: 15 Februarie tot 23 April;

• Tweede kwartaal: 3 Mei tot 9 Julie;

• Derde kwartaal: 26 Julie tot 1 Oktober; en

• Vierde kwartaal: 11 Oktober tot 15 Desember.

Paul Colditz, voorsitter van Fedsas. Foto: Nelius Rademan

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), het Vrydagaand gesê Fedsas het die voorgestelde kalender Vrydag op die vergadering met die onderwysdepartement verwerp. “Die voorgestelde datums is ’n bietjie onrealisties. Daar is baie onderwysers wat reeds volgende week volstoom gaan begin met aanlyn klasse. Dit sal beteken dat hulle, sowel as leerlinge, vir byna drie maande aaneen moet werk voordat daar ’n blaaskans is,” sê hy.

Hy sê die voorgestelde kalender is ook deur Fedsas verwerp weens die ekonomiese impak wat dit op die toerismebedryf sal hê. “Duisende vakansiegangers is verlede jaar tydens die inperking gedwing om hul vakansies uit te stel. Toe die oorspronklike datums vir 2021 se skooljaar bekend gemaak is, het hulle vir die skoolvakansies bespreek. Die bedryf kan baie geld verloor weens die datums,” sê hy.

Hy sê vakbonde het Vrydag voorgestel die oorspronklike voorgestelde datums vir 2021 se skooljaar, waarop in 2020 ooreengekom is, moet vir vanjaar se skooljaar geld.

Die volgende kalender vir skooltermyne is toe voorgestel:

• Eerste kwartaal: 27 Januarie tot 31 Maart;

• Tweede kwartaal: 13 April tot 25 Junie;

• Derde kwartaal: 13 Julie tot 23 September; en

• Vierde kwartaal: 5 Oktober tot 8 Desember.

Die regulasies wat Vrydag in die Staatskoerant gepubliseer is, het klem daarop gelê dat openbare skole eers op 15 Februarie sal open.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), het ook Vrydagaand bevestig dat dié vakbond die regering se nuutste voorgestelde datums verwerp het.

Hy het bevestig dat hoewel vakbonde voorstel dat daar by die oorspronklike voorgestelde datums gehou moet word, is daar ooreengekom dat leerlinge steeds op 15 Februarie sal begin. “Byna almal het Vrydag die departement se datums verwerp.”

Oor die vergadering Vrydag het Mhlanga gesê belanghebbendes se insette sal bestudeer word voordat ’n finale besluit geneem sal word. “Daar is baie faktore wat ons in ag moet neem.”

Meer oor:  Paul Colditz  |  Onderwys  |  Private Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.