Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Prof. Jansen gelooi ná uitlating oor Afrikaans
Prof. Jonathan Jansen, oudrektor van die UV, voor die hoofgebou. Foto: Argief

Prof. Jonathan Jansen, oudrektor van die Universiteit van die Vrystaat (UV), se stelling dat die konstitusionele hof se beslissing om die voertaal by dié universiteit Engels te maak, te make het met “oorgenoeg bewyse” dat Afrikaanse studente bevoordeel is, lok skerp kritiek uit.

Jansen, onder wie se leiding ’n nuwe taalbeleid aangevoor is, skryf op Facebook belangrike oorwegings met die besluit om die tweetalige beleid af te skaf, was die segregasie van wit en swart studente in Afrikaanse en Engelse klasse. Om saam te leer is ’n noodsaaklikheid in ’n rasverdeelde gemeenskap.

“Dit het gelei tot ’n de facto- ongelyke onderwys. Daar was oorgenoeg bewyse dat onderrig en taksering die Afrikaanse klasse bevoordeel het ongeag die bedoelings van die individuele lektor.”

Afrikaanse lektore aan die UV het gesê dit is ’n lasterlike stelling. Dit kon nooit bewys word dat Afrikaanse studente deur Afrikaanse lektore bevoordeel word nie. Jansen en sy bestuur is herhaaldelik om bewyse gevra, maar kon dit nooit gee nie.

Dit is mos nie waarvoor ons in Suid-Afrika gestem het nie.

Integrasie soos Jansen aanvoer, kan ook nie in ’n klaskamer plaasvind nie. Daar is bloot nie tyd daarvoor nie. Dit vind plaas op die sportveld en in koshuise waar die UV reeds ver voor is.

Prof. Johan Rossouw van die departement filosofie aan die UV, het by navraag gesê hy meen van al die rassegroepe in Suid-Afrika is bruin mense die mees verontregte. Die gemiddelde Afrikaanssprekende is bruin, baie arm en van die Noord-Kaap. Hulle word die meeste deur die beslissing te na gekom.

Die Universiteit van die Vrystaat (UV) se hoofgebou.Foto: Argief

“Dis ’n onvergeeflike onreg wat hulle aangedoen word. Diegene vir wie moedertaal belangrik is, is nou op hul eie aangewese. Hulle sal hul eie hulpbronne moet bewerkstellig.”

Rossouw, wat aanvanklik lid van die taalkomitee was wat die nuwe taalbeleid moes saamstel, sê daar is in 1994 allerlei beloftes van versoening gemaak, maar al wat nou gebeur, is meerderheidsoorheersing.

“Dit is mos nie waarvoor ons in Suid-Afrika gestem het nie.”

Jansen het ook sy “span” geprys wat die konstitusionele hof se beslissing moontlik gemaak het. Prof. Lis Lange, voormalige vise-rektor: akademie, het die proses gestuur. JC van der Merwe het die studenteproses gelei en Dionne van Reenen het die komitee gelei.

Jansen is kort hierna weg en is nou by die Universiteit van Stellenbosch en Lange is as adjunkvisekanselier: onderrig-en-leer aan die Universiteit van Kaapstad (UK) aangestel.

Rhoda Kadalie, menseregte-aktivis en rubriekskrywer, het in haar reaksie geskryf: “Regter Mogoeng het pas die opperheerskappy van die Engelse taal in hoër onderwys onderskryf. ’n Spesiale soort kolonialisme.”

Sanco het die hofbeslissing dat Engels voortaan die voertaal aan die UV is in AfriForum se aansoek as ’n “positiewe stap na veeltaligheid” bestempel.

Kobus Lombaard, ’n oud-Kovsie van Bloemfontein, skryf op Facebook dit is ’n kortsigtige besluit in ’n land met soveel meertaligheid. Hy het wel “absoluut niks” teen Engels nie.

“Sal die bestuur asseblief ook vir die studentebemarkers van Kovsies opdrag gee om nie na Afrikaanse gr. 11’s te vry by Afrikaanse skole nie? Afrikaanse leerlinge in gr. 11’s is goed genoeg om by te bemark, maar het nêrens behalwe Pukke/NWU om na te gaan nie. Los die dubbelslagtigheid! Hou verby, Afrikaanse skole. Lekker Kovsies!”

Sanco het die hofbeslissing dat Engels voortaan die voertaal aan die UV is in AfriForum se aansoek as ’n “positiewe stap na veeltaligheid” bestempel.

“Die oorwinning oor die magte wat gekant is teen radikale sosio-ekonomiese transformasie en kulturele verdraagsaamheid sal die projek van eenheid, versoening, nasiebou en sosiale kohesie aanhelp,” het Jabu Mahlangu, Sanco se woordvoerder gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.