Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Prof. Kgwadi bly g’n in gastehuise in Potch

Prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU), woon wel in die amptelike universiteitswoning in Potchefstroom wanneer hy in die stad is.

Prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die Noordwes-Universiteit. Foto: Verskaf
Netwerk24 Foto: Verskaf

Volgens prof. Johannes Froneman, sy woordvoerder, is bewerings dat hy en sy voertuigbestuurder teen hemelhoë koste in gastehuise in die stad tuisgaan en die amptelike woning onbenut staan ’n verdraaiing van wat die werklike situasie is.

“Kgwadi moes wel vir ’n tydperk ná sy aanstelling in 2014 in ’n gastehuis woon omdat uitgebreide herstelwerk aan die ampswoning gedoen is. Met Kgwadi se destydse aanstelling is duidelik aangedui dat hy en sy gesin in Pretoria woon en die NWU-raad was tevrede daarmee.”

’n Gedeelte van die ampswoning is nou as ’n wooneenheid vir Kgwadi en sy bestuurder ingerig.

Froneman se reaksie kom nadat beswaarde “belanghebbendes” by die NWU in ’n prokureursbrief hul misnoeë te kenne gegee het oor Kgwadi glo nie die ampswoning gebruik nie en die geldelike implikasies daarvan.

In die brief wat die regsfirma Moolman & Pienaar Ingelyf aan die NWU-raad gestuur het, staan daar die belanghebbendes wil nie hul identiteit bekend maak nie uit vrees dat hulle benadeel kan word.

Volgens Froneman word die gedeelte van die huis wat Kgwadi nie gebruik nie, wel vir onder meer funksies en verblyf benut. “Senior amptenare wat soms tydelik daar woon, betaal huur.”

Froneman sê die ampswoning is vroeër vir die rektor van die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) gebruik. “Daardie persoon was net in Potchefstroom gestasioneer en het hier gewerk. Deesdae is die visekanselier hoof oor al drie kampusse in onderskeidelik Potchefstroom, Vanderbijlpark en Mahikeng.

“Kgwadi reis baie. Die kampusse is tussen 200 km en 300 km van mekaar en Kgwadi moet ook na Johannesburg en Pretoria gaan vir vergaderings. Dis onbillik om dit te vergelyk met voormalige rektore se werksomstandighede. Kgwadi se voorganger, dr. Theuns Eloff, het in die huis gaan woon toe hy nog rektor was.”

Volgens Froneman word moontlikhede ondersoek hoe die ampswoning uitgebrei en verander kan word sodat dit meer gereeld vir funksies en verblyf benut kan word. “Onder meer die beperkte toiletgeriewe en sonering as ’n woonhuis beperk dié moontlikhede nou.”

Die beswaarde belanghebbendes vra in hul brief aan die raad dat dié en ander kwessies van beweerde wanbestuur by die NWU ondersoek word.

Uitgawes vir gastehuisverblyf is ’n interne aangeleentheid tussen die NWU en die werknemer en vorm deel van die ouditproses van die universiteit.

Hans-Jurie Moolman van die regsfirma het Sondag gesê hulle het ’n skriftelike antwoord van die NWU ontvang, maar die inhoud is vertroulik. Louis Jacobs, NWU-woordvoerder, het gesê die universiteit gaan ook nie die inhoud bekend maak nie omdat dit ’n saak tussen die NWU-raad en die regsfirma is.

“Uitgawes vir gastehuisverblyf is ’n interne aangeleentheid tussen die NWU en die werknemer en vorm deel van die ouditproses van die universiteit.”

Die ander kwessies in die brief gaan oor onder meer aanstellings, skeidingspakkette en ’n ondersoek na beweerde plagiaat onder senior akademici op die Mahikengkampus.

Prof. Bismark Tyobeka, voorsitter van die NWU-raad, sê in ’n mediaverklaring die raad is bewus van die kwessies en dat die raad meeste daarvan reeds hanteer het.

“Daar is dus geen rede vir enige interne ondersoek nie,” het Jacobs Sondag gesê. “Die raad was betrokke by die besluite wat geneem is en dit is so genotuleer.

Die universiteit het verskeie beleide wat dit vir personeel, studente en lede van die publiek moontlik maak om enige ongerymdhede aan te meld, het Tyobeka gesê. “Die raad moedig alle belanghebbendes aan om die bestaande universiteitskanale te gebruik om sake aan te meld waaroor hulle bekommerd is.”

Plagiaat-ondersoek

Louis Jacobs, NWU-woordvoerder, sê wat betref die ondersoek na beweerde voorvalle van plagiaat, is die raad ingelig dat die eksterne hersieningspaneel sy werk afgehandel het. “Die paneel het ’n omvattende verslag aan die visekanselier voorgelê. Hy het die betrokke lynbestuurders opdrag gegee om die saak/sake te hanteer in ooreenstemming met NWU-beleide en -reëls.”

Volgens Jacobs sal ’n statusverslag hieroor op die eerste raadsvergadering in 2019 ter tafel gelê word.

Meer oor:  Potchefstroom  |  Gastehuise
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.