SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Prof. Wim het niks verkeerd gedoen’

In ’n onafhanklike ondersoek deur ’n afgetrede regter is bevind dat die Matie-rektor, prof. Wim de Villiers, geen oortreding begaan het toe hy oudregter Edwin Cameron genader het om hom as Matie-kanselier te benoem nie.

Prof. Wim de Villiers

De Villiers en nog ’n raadslid van die universiteit, adv. Jean Meiring, het Cameron genader in dieselfde tyd wat die drukgroep Gelyke Kanse die hof gevra het om die Universiteit Stellenbosch (US) se Engelse taalbeleid ongrondwetlik te verklaar. Die meeste van dié gesprekke het plaasgevind terwyl Cameron besig was om die uitspraak te skryf waarin hy uiteindelik ten gunste van De Villiers en die universiteit bevind het.

Oudregter Burton Fourie het egter bevind dat daar geen bewyse is dat die gedrag van die rektor, ten opsigte van die benoeming van Cameron vir die amp van kanselier van die US, ’n oortreding van die wet of ernstige wangedrag behels het nie.

Dié ondersoek, waarvan die verslag in Rapport se besit is, is begin ná ’n klag van dr. Leon Schreiber, DA-LP en voormalige lid van die US se institusionele forum. Die verslag word môre op ’n raadsvergadering ter tafel gelê.

Fourie het in sy ondersoek onderhoude gevoer met minstens nege mense met eerstehandse kennis van gebeure.

‘Gelyke Kanse was van al die ontwikkelinge salig onbewus.’

In sy chronologiese uiteensetting skryf Fourie dat De Villiers Cameron reeds op 16 Julie op sy selfoon gebel het om te hoor of hy ’n benoeming sal aanvaar, waarna Cameron gereageer het dat hy daaroor sou nadink. Op 2 Augustus lig Cameron vir De Villiers per e-pos in dat hy nie die benoeming kan aanvaar nie oor sy betrokkenheid by die litigasie tussen Gelyke Kanse en die US. Op 8 Augustus word die saak aangehoor, met De Villiers wat op 10 Augustus sy teleurstelling aan Cameron uitdruk omdat die oudregter nie die benoeming sou aanvaar nie.

Op 16 Augustus kom Meiring volgens die verslag “tot die gevolgtrekking” dat Cameron die “ideale kandidaat” sal wees nadat Meiring ’n verjaardagpartytjie van ’n vriend in Johannesburg bygewoon het waarna Cameron ook uitgenooi is. Meiring het, aldus die verslag, egter vir Cameron gevra of hy kan aanhou om hom te probeer oortuig om die benoeming te aanvaar, waartoe Cameron ingestem het.

Ná ’n foonoproep tussen Meiring en De Villiers op 18 Augustus het Meiring “onder die indruk verkeer” dat hy die beste toegerus is om vir Cameron te oortuig om die benoeming te aanvaar, waarna hy op 19 Augustus ’n “lang e-pos” aan Cameron gestuur het waarin hy hom ingelig het waarom hy ’n “uitstekende, transformatiewe” keuse as kanselier sou uitmaak.

Cameron het amptelik op 20 Augustus as regter afgetree en die volgende dag vir De Villiers inlig dat hy die benoeming heroorweeg nadat Stellenbosse sakemanne, waaronder Chris Otto, Michiel le Roux en Edwin Hertzog, hom oor die benoeming gekontak het. Cameron het egter volgehou dat daar eers ’n “aanduiding” van adv. Jan Heunis van Gelyke Kanse gekry moet word.

Op 26 Augustus het De Villiers vir Heunis telefonies gekontak met die boodskap dat Cameron die benoeming sal aanvaar as Gelyke Kanse daartoe instem, maar nie noodwendig ondersteun nie.

Volgens Fourie se verslag verskil Heunis se siening rakende die oproep egter van De Villiers, en ontken Heunis dat De Villiers hom gevra het of hy sou instem tot Cameron se benoeming. Volgens Heunis het verskeie alumni wat geaffilieer is aan Gelyke Kanse ook geglo dat Cameron ’n goeie kanselier sou wees, maar dat hulle nie hom nie genader het nie omdat dit “onbehoorlik” sou wees. Volgens die verslag het Heunis die indruk gekry dat De Villiers hom gekontak het om te verseker dat Gelyke Kanse se kandidaat, dr. Christo van der Rheede van Agri SA, se benoeming onttrek word.

Op 27 Augustus kontak Gelyke Kanse se prokureur Danie Rossouw die universiteit se regsverteenwoordigers om te sê dat De Villiers se kontak met Cameron “uiters onvanpas en onverantwoordelik” was. Volgens Fourie is De Villiers se weergawe van sy oproep met Heunis “meer guns­tig”, maar wil hy nie ’n amptelike bevinding daaroor maak nie.

Heunis het op 29 Augustus aan Cameron geskryf Gelyke Kanse sou nie teen sy benoeming beswaar aanteken nie, maar dat hulle hom nie self wou benoem nie omdat hulle dit as onvanpas beskou het om hom te nader rakende die hangende hofsaak.

Op 30 Augustus het Cameron dit aan De Villiers duidelik gemaak dat hy nou beskikbaar is om die benoeming te aanvaar, waarna die twee ’n ontmoeting vir 17 September by die Intercontinental-hotel by O.R. Tambo ge-reël het. De Villiers se vrou was by en daar is, volgens De Villiers, “niks van belang” bespreek nie.

Schreiber is ergerlik oor dié ontmoeting en hy sê hy is “erg geskok” dat die twee “skaars ’n maand voor die hofuitspraak” in die geheim vergader het – sonder die medewete of teenwoordigheid van die applikant of die onderskeie regspanne.

Heunis sê hy en Gelyke Kanse was van al die ontwikkelinge salig onbewus.

Volgens Heunis is veral Fourie se interpretasie van sy en De Villiers se oproep gebrekkig: “My weergawe was nie, soos wat regter Fourie suggereer, dié van ’n nie-spesifieke onskadelike gesprek tussen my en De Villiers nie. Allesbehalwe.

“(Dit) word ook geïllustreer deur die feit dat hy van my skrywe aan Cameron sê dat dit enige benoeming sou insluit, of dit nou deur iemand verbonde aan die US was of enige iemand anders. Dit kan mos nie, soos wat dit veronderstel is om te doen, kontak tussen ’n party tot die saak en die regter kondoneer nie, net so min as wat dit gereelde kontak tussen De Villiers en Cameron daarna, en voordat uitspraak gegee is, kon kondoneer nie.”

Cameron is op 25 September met ’n reusemeerderheid as kanselier verkies. Die konstitusionele hof se uitspraak, wat Cameron geskryf het, is eindelik op 10 Oktober gelewer.

Cameron het by navraag gesê hy sal kommentaar lewer nadat hy die verslag gesien het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.