Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Prof. Wim se duur vlugte ‘’n uitstekende belegging’

Die Universiteit Stellenbosch (US) sê die R6,2 miljoen wat hy sedert 2015 aan die reise van prof. Wim de Villiers bestee het, was elke sent die moeite werd.

Prof. Wim de Villiers Foto: Jaco Marais

Want in dieselfde tydperk is meer as R1,7 miljard vir die universiteit ingesamel.

Die bekendmaking van inligting oor die reiskoste van De Villiers, die US se rektor en visekanselier, kom nadat dr. Leon Schreiber, die DA se kiesafdelingshoof vir Stellenbosch, ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) by die US ingedien het.

Die US se inligting toon die duurste jaar vir reise was, sover bekend, 2019, toe R1,9 miljoen bestee is, meestal aan vliegtuigkaartjies.

Vlugte in Mei daardie jaar na Amerika en Duitsland het R511 313 gekos sodat De Villiers die Universiteit van Hamburg se eeufeesviering kon bywoon, asook ’n vergadering met alumni in Berlyn en ’n akademiese konferensie in San Diego in die VSA.

Vlugte na Europa en Brittanje in September 2019 het R275 579 gekos, vir vergaderings met skenkers en alumni. De Villiers het ook deelgeneem aan ’n fietstoer tussen Brighton en Londen waarmee hy £8 060 (destyds sowat R150 000) ingesamel het vir studentebeurse.

Via De Villiers is R1,7 miljard ingesamel,

In Oktober 2019 is R195 982 bestee aan vliegtuigkaartjies na China en Duitsland, waar De Villiers met potensiële skenkers vergader het, asook R193 433 in Julie 2019 vir vlugkaartjies na Italië, Brittanje en Ierland, waar De Villiers ook met skenkers en ander universiteite vergader het.

Ook 2017 (R1,4 miljoen) was ’n duur reisjaar.

Volgens die US is dit die plig van die rektor is om internasionaal te reis om geld in te samel.

“Die investering wat die US maak ten einde donateurs, internasionale maatskappye, trusts en oorsese vennote te kan besoek, lewer deurlopend ’n opbrengs wat oor en oor die koste en inset werd is,” het die US by navraag gesê.

“Via prof. De Villiers se volgehoue betrokkenheid in die afdeling ontwikkeling en alumni-betrekkinge se skakeling met belanghebbers, was dit moontlik om tussen 2015 en Mei vanjaar R1,7 miljard se filantropiese finansiering in te samel waarvan ’n driekwart van trusts en stigtings, individue en maatskappye kom.”

Die US sê internasionale skenkers se bydraes het in dieselfde tydperk van 13% van alle skenkings tot 19% gestyg.

“Die sukses van hierdie belegging deur die US word in perspektief gestel deur ’n ontleding deur die Buro vir Ekonomiese Ondersoek, wat uitwys dat die opbrengs 50 keer meer is as die koste (R6,17 miljoen) wat aangegaan is,” sê die US.

Al hoe meer US-alumni woon boonop oorsese kontakgeleenthede by.

“In 2015 het 883 alumni US-geleenthede in die buiteland bygewoon en in 2019 het dit vermeerder na 3 518 alumni,” sê die US. “Hoewel die opbrengs op belegging dus duidelik kwantifiseerbaar is, is oorsese besoeke nie net afgestem op fondswerwing nie, maar ook op die vestiging en uitbou van noodsaaklike en strategiese, internasionale vennootskappe en netwerke.

“Benewens die uitruil van akademiese en navorsingskundigheid bied netwerke en ooreenkomste voordele soos skenkersadvies, vennote wat in adviesrade dien, mentorskaprolle, die uitruil van personeel en studente en deelname aan akademiese bedryfsgesprekke.”

Die US se reisbeleid bepaal dat rektoraatslede besigheidsklas kan vlieg na die buiteland. Binnelands mag net die rektor besigheidsklas vlieg. Sedert die Covid-19-pandemie internasionale reise lamgelê het, het De Villiers se reis- en verblyfkoste aansienlik afgeneem – tot R272 378 verlede jaar en R40 358 sover vanjaar.

Schreiber sê hy hoop die US ken geld wat hy tydens die pandemie aan reisgeld spaar, aan die universiteit se taalbeleid toe. Dit kom nadat De Villiers gesê het dat “bykomende uitgawes op veeltaligheid ten koste van ander belangrike institusionele doelstellings onregverdigbaar is”. Dié kommentaar het in “Die Rektoraat se siening oor meertaligheid en die US taalbeleid”verskyn wat in Mei publiseer is.

Die huidige begroting vir die taalbeleid is R44,9 miljoen.

“Noudat Covid dit onmoontlik gemaak het vir De Villiers om só rond te rits, versoek ons . . . dat die byna R2 miljoen wat voorheen elke jaar aan die rektor se reise bestee is, gebruik word om die Afrikaanse aanbod te verhoog,” sê Schreiber. “Ons neem ook kennis van die US se erkenning dat meer as R1,7 miljard se nuwe geld nou beskikbaar is, wat bevestig dat daar meer as genoeg geld is om vir Afrikaans ’n gelyke plek te gee.”

Hieroor sê die US hulle volg ’n streng begrotingsmodel en dat geld nie net “goedsmoeds geskuif kan word nie”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.