Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Pukke daag ander uit om organe te skenk
Prof. Fika Janse van Rensburg, rektor van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, toe hy Woensdag as orgaanskenker geregistreer het. By hom is Martie Geertsema, ’n oud-Puk wat op ’n longoorplanting wag.

Studente van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus (NWU-Pukke) daag nou alle ander kampusse in die land uit om die meeste orgaanskenkers binne die volgende ses maande te registreer.

Prof. Fika Janse van Rensburg, rektor van die Potch-kampus, het Woensdag self ’n voorbeeld gestel toe hy op die kampus se Joolplaas geregistreer het om ’n orgaanskenker te word.

Die veldtog vorm deel van Jool, wat staan vir Jou Onbaatsugtige Opoffering vir Liefdadigheid.

“Om ’n orgaan te skenk is die laaste opoffering wat ’n mens ná jou dood vir enigiemand kan maak,” sê Marno Rossouw, voorsitter van die NWU-Pukke se Joolkomitee.

Die orgaanskenkveldtog, wat ook ná Jool sal voortduur, is geïnspireer deur ’n oud-Puk, Martie Geertsema. Sy wag self op ’n longoorplanting nadat pulmonêre hipertensie haar longe erg verswak en beskadig het.

Die Meds4Martie-orgaanskenkingsveldtog vind in samewerking met Weefselskenking SA, die Suid-Afrikaanse Orgaanskenkingstigting en PUKfm plaas, sê Geertsema. Met haar Meds4Martie-veldtog samel sy ook geld in vir duur medikasie van oorsee wat sy moet gebruik.

Elize Scheepers, ’n koördineerder vir die Suid-Afrikaanse Orgaanskenkingstigting, sê 67 mense het al sedert Dinsdag op die Joolplaas in Potchefstroom geregistreer om orgaanskenkers te word.

“Een van hulle is ’n student wat vroeër kornea-oorplantings gehad het. Baie jong mense dink nie aan orgaanskenking nie omdat die natuurlike verloop gewoonlik nie is dat jong mense sterf nie. Baie sterf egter wel.”

Rosina Mentoor (18) (links), een van die Pukstudente wat as ’n orgaanskenker geregistreer het as deel van die kampus se Joolbedrywighede. Mentoor het self vroeër kornea-oorplantings ontvang. By haar is Elize Scheepers, ’n koördineerder van die Suid-Afrikaanse orgaanskenkingstigting.

Enigiemand bo 16 kan organe skenk. Mans kan sekere weefsel tot op 80 skenk en vroue tot op 75.

Een skenker kan sewe lewens red en 50 mense se lewens beïnvloed, sê Geertsema. “Ons einddoel is om dit die verstek te maak in Suid-Afrika dat almal orgaanskenkers is, behalwe mense wat verkies om nie te wees nie.”

Jool bereik Saterdag ’n hoogtepunt wanneer 14 vlotte waaraan studente al sedert verlede week bou, se optog om 08:00 deur die stad se strate begin. Volgens Rossouw word met dié blikskud-aksie gewoonlik sowat R90 000 ingesamel.

Dit word aan die Studente Jool Gemeenskapsdiens (SJGD) oorhandig sodat dit vir ander liefdadigheidsprojekte dwarsdeur die jaar gebruik kan word.

Die NWU-Pukke het verlede jaar R2,8 miljoen aan verskillende individue en liefdadigheidsorganisasies oorhandig. Dis met tientalle liefdadigheidsprojekte ingesamel.

* Besoek Geertsema se Facebook-blad Meds4Martie of haar webblad meds4martie.co.za. Besoek odf.org.za of skakel 0800 22 66 11 vir nog inligting oor orgaanskenking.

Die roete wat die NWU-Pukke se Joolvlotte Saterdag deur Potchefstroom gaan volg.

Meer oor:  Noordwes-Universiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.