Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
R120 miljoen vir ‘n flenter-skool

Skaars sewe jaar nadat die Gautengse regering R120 miljoen gegee het vir ’n nuwe skoolgebou en koshuis vir die Magaliesburg Secondary School in Ga Mohale naby Krugersdorp, lyk dié plek só oes dat leerlinge weier om langer daar skool te gaan.

Die toegangshek na die Magaliesburg Secondary School lyk heel indrukwekkend, maar leerlinge weier om langer daar skool te gaan omdat die koshuis besig is om uitmekaar te val. Foto: Deon Raath

Die skool en koshuis het nie water of elektrisiteit nie en die infrastruktuur kort baie werk.

Toe sy die projek in 2012 aangekondig het, het Nomvula Mokonyane, destydse premier van Gauteng, gespog die skool, met plek vir sowat 800 leerlinge, gaan wêreldklasgeriewe hê. Arm kinders sou danksy dié inspuiting nie meer ver tussen huis en skool moes pendel nie. Die skool het onder meer gespog met ’n biblioteek, rekenaarkamer en ’n laboratorium.

Twee jaar later is die skool geopen, maar sedertdien het die wiele lelik begin afval.

‘Ek hou niks van wit Boere nie. . .’

Volgens leerlinge en bronne wat die skool goed ken, het hulle al maande lank nie warm water vir die koshuis nie.

“Hulle het in die winter die warm water reggemaak, maar twee weke later het die geiser weer gebreek en van daar af het ons net koue water gehad,” sê een leerling.

In Desember het die koshuis se elektrisiteit ook opgehou werk.

“Daar is gastoerusting in die kombuis, maar die koshuis het nie gas nie. Ons kry al maande lank met elke ete net brood en braaivleis, want niemand kan kosmaak nie,” sê nog ’n leerling.

Skade aan die plafon van die koshuis.

Hy sê die koshuis is in ’n gehawende toestand binne.

“Daar is oop kragdrade en die plafon val op baie plekke op die boonste vloer inmekaar. Dis te gevaarlik om daar te bly en die regering doen niks nie. Hulle het van ons vergeet.”

Die koshuise het elk twee verdiepings, maar al die kinders bly nou onder.

“Hulle moet nou vier of meer in ’n kamer slaap wat gebou is vir twee. Sommige kinders slaap selfs op die vloer,” sê ’n leerling.

Nou het die kinders besluit om weg te bly van die skool af totdat die Gautengse onderwysdepartement aandag gee aan hulle klagtes.

Magalies Sekondêre Skool
Kinders sê hulle is bang om op die boonste verdieping te woon omdat die plafonne beskadig is en elektriese kabels ontbloot is.

“Ons gaan op 4 Februarie terug skool toe om te kyk of hulle iets gedoen het. As die koshuise nog lyk soos nou, gaan ons weer die skool boikot,” sê ’n leerling.

Toe Rapport Woensdag probeer het om die skool te besoek, is die verslagspan verwys na die onderwysdepartement en verhinder om foto’s te neem.

’n Man, volgens bronne die bestuurder van die skool se koshuise, Khosi Mumba, het saam met sekerheidswagte die verslagspan probeer verwilder.

“Ek hou niks van wit Boere nie. Moenie hier kom met julle rassisme nie,” het hy onder meer gesê. Toe Rapport se joernalis ’n video-opname van die gesprek begin maak, het Mumba die selfoon probeer gryp en die joernalis teen sy arm geklap.

“Ek soek jou nie hier nie. Moenie met jou rassisme hier kom nie, ek sal jou trap,” het hy geskreeu.

Steve Mabona, woordvoerder van die departement, het Donderdag verskoning gevra daaroor en gesê dis onaanvaarbaar vir enige amptenaar om die media swak te behandel.

“Ons sal die nodige stappe doen en na behore optree. Ons is regtig jammer oor hoe die joernaliste behandel is,” het hy in ’n WhatsApp-boodskap laat weet.

Hy het erken dat daar probleme is met die geriewe by die koshuis. “Ons infrastruktuur-beamptes is tans op die terrein saam met ’n diensverskaffer om al die gebreke te herstel,” sê Mabona.

“Die spyskaart is geaffekteer deur die feit dat daar nie elektrisiteit was nie, maar die elektrisiteit sal teen Vrydag weer werk. Hopelik sal die skool teen volgende week weer ongehinderd voortgaan. Ons amptenare onderhandel tans met ouers en rolspelers oor die pad vorentoe.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.