Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
R2 miljoen vir een eersteklas-matriek

Vir elke kind wat matriek met universiteitsvrystelling in ’n arm skool slaag, bestee die onderwysstelsel R2 miljoen en 104 jaar se skoolonderrig, wys nuwe navorsing.

Alle laerskoolleerlinge kan op 26 Julie weer heeltyds terugkeer skool toe. Fopnuus dat skole op 26 Mei sal sluit en weer 28 Junie open, het die afgelope week die ronde gedoen. Foto: WhatsApp

Dié kosteberaming wat deur die The Learning Trust (TLT) gedoen is, reflekteer die onderrigtyd wat bestee word aan kinders wat nooit dié mylpaal haal nie én aan dié wat ekstra jare op die skoolbanke deurbring.

Die Covid-19-pandemie, wat die ongelykhede en probleme in die onderwysstelsel vererger het, kan dié koste nóg verder laat styg, waarsku die navorsers.

TLT is ’n nieregeringsorganisasie wat onder meer naskoolse programme vir jong mense in arm gemeenskappe ondersteun.

TLT het data van dr. Nic Spaull, ’n onderwysnavorser verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US), en die departement van onderwys gebruik om uit te werk wat die resultate is van die skoolstelsel se beleggings per leerling.

Hulle het bevind ’n leerling wat ná 12 jaar matriek slaag in ’n kwintiel 4-5-skool, kos die stelsel R239 000.

In kwintiel 1-3-skole, waar daar nie skoolgeld betaal word nie, word R614 000 bestee vir elke leerling wat slaag en R2 miljoen vir elke leerling wat met universiteitsvrystelling slaag.

Een fout was om net te fokus op die matrieks en nie die laer grade nie.
Prof. Michael le Cordeur van die US

Weens die hoë uitval- en herhalingsyfers verg dit gemiddeld 15 jaar se onderrig om ’n kind in matriek te kry, 31 jaar se onderrig vir elke kind wat matriek slaag en 104 jaar se onderrigtyd vir elke kind wat slaag met universiteitsvrystelling.

Daar was volgens die departement van basiese onderwys (DBO) se amptelike 2009-verslag “School Realities” altesaam 1 105 186 gr. 1’s in 2009, van wie net 607 226 verlede jaar matriek geskryf het.

Volgens die verslag is net 33% van leerlinge in kwintiel 1-skole die gepaste ouderdom vir hul graad, teenoor 69% in kwintiel 5-skole.

Spaull het Woensdag met die bekendstelling van die verslag gesê daar is ’n persepsie dat daar verlede jaar leerverliese was en dat ons besig is om op te vang.

“Nee, die leerverliese is nou aan die gang, dis voortdurend. Dit sal aanhou totdat alle leerlinge voltyds terugkeer skool toe,” het hy gesê.

Die DBO het Vrydag laatmiddag in die Staatskoerant afgekondig dat alle laerskoolkinders vanaf 26 Julie voltyds sal terugkeer skool toe.

Die jongste Nids-Cram-studieverslae (“National Income Dynamics Study – Coronavirus Rapid Mobile Survey”) toon die geraamde leerverliese weens die pandemie vir gr. 4’s is 76% in hul huistaal en 48% in Engels as eerste addisionele taal.

Leerlinge in gr. 1 tot gr. 5 het ’n geraamde 60% van ’n moontlike 198 skooldae verloor (in 2020), het die Nids-Cram-studies gewys.

Virtuele leer by die huis is nie vir almal in Suid-Afrika ’n moontlikheid nie, lui die verslag.

Intussen het verskeie skole oor die land heen die afgelope twee weke tydelik gesluit weens positiewe Covid-19-gevalle. In die Noord-Kaap het 49 skole sedert 1 Mei tydelik gesluit.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê daar was kwaai druk op die DBO om die skole volledig te heropen, veral van ouers wat sê hulle weet nie wat om met hul kinders te doen op die dae wat hulle nie skool mag bywoon nie.

“Wie kyk na hulle?”

Die SAOU se navorsing wys dat veral gr. 2’s beduidende leeragterstande toon omdat hulle veronderstel was om verlede jaar in gr. 1 behoorlik te leer lees en skryf. “Baie van hulle kan dit nog nie behoorlik doen nie.”

Wiskundige geletterdheid bly ook in baie grade in die slag, sê hy.

Basil Manuel, besturende direkteur van die onderwysersvakbond Naptosa, sê daar is geen twyfel oor die erge leerverliese wat veral die kinders in laer grade gely het nie.

Onderwysers, selfs in skole wat toegang het tot aanlyn leer, sê dit wat nou aan die gang is, werk nie.

Kinders sit die rekenaar aan en gaan speel buite.

Manuel sê vanjaar se graad 1’s kry baie swaar. “Onthou, verlede jaar se gr. 1’s het darem die eerste kwartaal skool gegaan en hul onderwysers leer ken.”

Die grootste verliese van die afgelope jaar was in kurrikulum-dekking, sê hy.

Die kleintjies het sekere basiese begrippe nie geleer nie “en dit gaan vir die res van hul skoolloopbaan by hulle spook.

“Die oplossing is nie eenvoudig nie. Jy kan nie net daarop fokus en die virus ignoreer nie.”

Jaco Deacon, adjunkvoorsitter van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê dit is belangrik om te onthou dat skole sedert September verlede jaar alle leerlinge kon terugbring sou hulle kon voldoen aan die regulasies en die DBO net daarvan in kennis stel.

“Waarvan ek hou van dié direktief is dat skole moet laat weet hoekom nie. Is die skole net lui of is daar regte redes? Ons gaan nou ’n bietjie die koring van die kaf kan skei.”

Hy dink die langtermyneffek van Covid-19 en die ontwrigtings sal eers oor ’n jaar of twee gesien kan word.

“Ek dink ons staan dalk nou nog te naby aan die vuur om regtig te sien.”

Prof. Michael le Cordeur, hoof van kurrikulumstudies aan die US, sê dis verblydend om te sien dat die regering luister en leer uit sy foute.

“Een fout was om net te fokus op die matrieks en nie die laer grade nie, veral omdat daar kritieke vaardighede soos lees en skryf is wat kinders in laer grade moet aanleer.”

Hy sê matriek se fokus is op inhoud wat ’n 18-jarige kind op sy eie kan leer, maar ’n kleintjie het toesig en leiding werklik nodig.

Meer oor:  Michael Le Cordeur  |  Nic Spaull
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.