Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Raad vir private hoër onderwys gestig
Piet le Roux, akademiese hoof van Akademia.Foto: Lisa Hnatowicz

’n Raad vir private hoëronderwysinstellings is verlede week gestig om dié sektor se gehalte en posisionering in die land te verbeter.

Luidens ’n verklaring van SA Private Higher Education (SAPHE) wil die raad openbare bewustheid oor die private hoëronderwyssektor skep en hoër onderwys meer toeganklik maak.

“Die raad gaan ook verseker dat die publiek ’n beter begrip het van die opsies van gehalteonderrig buite openbare universiteite,” lui die verklaring.

Volgens Piet le Roux, akademiese hoof van Akademia, Solidariteit se instelling vir hoër onderwys, verkeer hoër onderwys in Suid-Afrika tans in ’n krisis.

“Die krisis kan slegs met die inisiatief van gemeenskappe en die sakesektor opgelos word en nie met belastinggeld nie.”

Le Roux sê Akademia ondersteun die oogmerke van die SAPHE.

“Ons het reeds verlede jaar by die groep in sy informele fase betrokke geraak en sal vanjaar die moontlikheid van ’n formele aansluiting verder voer,” sê Le Roux.

Dr. Felicity Coughlan, voorsitter van die SAPHE, sê in die verklaring die term “private universiteite” het die laaste paar maande taamlik gewild begin word.

“Verskeie mense is wel nie bewus daarvan dat die private onderwysinstellings wetlik nie na hulself as private universiteite mag verwys nie en daarom is verskeie voornemende studente nie bewus van die hoëgehaltekwalifikasies wat by gerespekteerde private instellings verwerf kan word nie,” sê Coughlan.

Volgens Le Roux sal ’n sterker private hoëronderwysstelsel die toelatingsdruk op openbare hoëronderwysinstellings verlig, asook die druk op die staatskas.

“Die ontstaan van formele plaaslike private hoëronderwysliggame is ’n belangrike stap om die regulatoriese, praktiese en finansiële uitdagings agter die huidige krisis die hoof te bied. Dit alles in die belang van die universiteitswese in Suid-Afrika in die geheel,” sê Le Roux.

Volgens Le Roux is Akademia oortuig daarvan dat die private gemeenskapsinisiatief “onmisbaar is vir die voortsetting van Afrikaanse hoëronderwys”.

“Dis ’n inisiatief wat in noue samewerking met ander private instellings van enige taal, plaaslik en internasionaal, gaan moet plaasvind.”

Ander instellings wat deel van die SAPHE is, sluit in The Independent Institute of Education (Varsity College, Rosebank College, Vega, Design School SA en The Business School by Varsity College), Monash, Da Vinci, Boston, Milpark Business School, Southern Business School, die International Hotel School, Aros, St. Augustine, Afda en Inscape.

Meer oor:  Onderwys  |  Onderrig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.