Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Raak net normaal,’ hoor gay kinders

‘Julle kan buite gaan gay wees en julle ander k*k gaan aanvang wat af is. Nie in die f****n skool nie, want dit is vir k*k soek. Hou op om aan te gaan oor justice en sulke k*k. F*k daai k*k. Raak groot. Respekteer ons hoof se keuses. Raak net normaal asseblief.”

André Roux, voorsitter van die Hoërskool D.F. Malan se beheerliggaam. Foto’s: Jaco Marais

Só sê ’n leerling van die Hoërskool D.F. Malan in Bellville in ’n video wat Vrydag per WhatsApp aan LGBTQI+-leerlinge gestuur is en ook ’n tyd lank op die sosialemediaplatform Instagram was voordat dit verwyder is.

Dit volg nadat dié kinders verbied is om Pride-maand by die skool te vier. Dié wat wel reënboogvlaggies aan hul baadjies vasgespeld of reënboogmussies gedra het, is uitgeskel.

“Ons het nog steeds nie ’n aanvaarbare verskoning gekry nie en kinders word steeds geboelie,” het ’n leerling wat nie geïdentifiseer wou word nie Vrydag aan Rapport gesê.

Die leerling sê as jy nou enigiets met reënboogkleure by die skool dra word dit afgeruk en opgeskeur.

“Dinge het nie verbeter nie.

“Kinders word nog steeds by die skool gedreig hulle gaan brand in die hel. Daar is geen stappe gedoen teen die kind wat die video gemaak het nie en ander kinders wat soos hy optree.”

Die boelies is nonchalant omdat die skool nie standpunt wil inneem nie.

Nog ’n leerling wat deel was van die groep sê hulle het nog geen versekering van ondersteuning by die skool gekry nie.

“Die skool se houding is dat ons onsself teikens gemaak het en dat alles ons skuld is. Die boelies is nonchalant omdat die skool neutraal is en nie standpunt wil inneem nie.”

In die video sê die leerling: “Kom ek maak gou een ding straight. Mnr. Sias Conradie is my skoolhoof en hy hoef nie f****n jammer te sê nie.

“LGBTQI-kinders dis julle k*k. Hy het gesê julle moenie hier kom Pride-month vier in DF self nie. Dis ’n reël. Dis ’n Christelike skool. Respekteer sy f****n keuse en kom oor dit. Julle het niks f****n jammer nodig nie. Vir wat?

“Sê nou jy is gay . . . dis nie een sonde nie. Jy f****n sondig elke f****n dag van jou lewe wat jy gay is. Jy leef elke dag daai sonde. As ons vloek, so what? Jy kan maklik ophou of net jammer sê elke aand. Jy kan nie net jammer sê omdat jy gay is nie. Jy bly in daai sonde.”

Die Hoërskool D.F. Malan in Bellville.

Hy sê verder: “Julle kan mos orals daar buite julle vlaggies gaan waai. As julle dit by die skool wil doen, dan word julle gespot en, nommer twee, dan word julle heavy depressief. En dan wonder julle hoekom. Dan is dit julle eie skuld as julle vlaggies waai en wys ek is gay. Whatever. Ons worry nie. Dis net vir str**t soek. Respekteer net die skool se reëls. As jy nie die skool en die skool se geloof respekteer nie, is dit nie die regte skool vir jou nie. Jy moet dan vir jou ’n ander skool gaan soek.”

’n Meisie wat deel van die viering was, sê: “Die skool is nie ’n veilige plek vir hulle (die LGBTQI+-kinders) nie.

“Ons het dit gedoen vir die jonger LGBTQI+-leerlinge wat onseker, bang en alleen is. Ons wou vir hulle wys dat daar wel ’n LGBTQI+-gemeenskap in die skool is en dat daar vir hulle ondersteuning is. Daar is kinders wat na my toe kom wat sê: ‘Het jy geweet dié of dáái juffrou ondersteun ons?’

“Ek wens die skool wil duidelik vir die LGBTQI+-leerlinge sê hulle ondersteun hulle en aanvaar hulle en dat hulle teen boeliegedrag beskerm sal word.”

’n Ouer sê sy is bewus van ’n juffrou wat wel die regte ding gedoen het en vir die kinders gesê het hulle is jammer oor wat gebeur het en dat hulle lief is vir hulle.

“Die probleem is dat dit nie die amptelike standpunt van die skool is nie. Die hoof moet ook sê ek steun julle en ek aanvaar julle.”

Die skoolbeheerliggaam het Donderdag in ’n verklaring gesê hy het ’n leerling se aansoek om Pride-maand te vier afgekeur omdat dit tot spanning en verdeeldheid binne die skool kon lei.

“Die hoof het aan die leerling voorgestel dat daar moontlik ander geleenthede kan wees, soos om Jeugmaand te vier, wat meer inklusief sou wees.”

Wat toe gebeur het, is presies wat die skool wou verhoed, lui die verklaring.

Nadat die Menseregtekommissie gesê het hy gaan klagtes van diskriminasie teen LGBTQI+-leerlinge ondersoek, het die skool in nog ’n verklaring sy volle samewerking belowe.

André Roux, voorsitter van die beheerliggaam, het aan Rapport gesê hulle het foute gemaak met die hantering van die kwessie.

“Ons moes nie die Pride-maand-vieringe by die skool bloot verbied het nie, maar saam met die kinders gewerk het om dit op ’n sinvolle manier aan te bied.”

Roux sê hulle moes verder erken het dat daar probleme is met inklusiwiteit by die skool.

“Die probleem is nie net homofobie nie. Daar is ’n dieper liggende probleem oor die aanvaarding van mense wat anders is as jy. Ons doelwit is om inklusief te wees en ’n veilige ruimte vir elke leerling te skep.”

Meer oor:  Hoërskool D.F. Malan  |  Homofobie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.