Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Randfontein: ‘Afskuwelike porno’ aan kinders gestuur

Die verspreiding van digitaal- gemanipuleerde foto’s, onder meer pornografiese materiaal, onder skoolkinders in Randfontein aan die Wes-Rand, het ouers rasend van bekommernis.

“Kinders van verskillende skole word sonder hul toestemming by ’n WhatsApp-kletsgroep gevoeg waarop vieslike goed versprei word,” sê die ontstelde ma van ’n gr. 8-leerling.

Volgens haar het haar dogter “by verskeie geleenthede” die kletsgroep, wat as “The Crazy Ones” bekend staan, verlaat, maar sy word telkens net weer bygevoeg.

'Dis om van siek te word'

“Die pornografiese foto’s wat hulle hierop versprei, is om van siek te word,” sê ’n ouma van twee laerskoolkinders in Randfontein.

“Onskuldige kinders word by dié groep betrek en ’n mens weet nie wie agter die kind sit wat al hierdie afskuwelike materiaal versprei nie. Dit kan dalk ’n volwassene wees wat deel is van een of ander sindikaat.

“Ek dink die Gautengse departement van onderwys moet dringend ingryp. Ouers moet koppe bymekaar sit en bewyse aan die polisie en die departement gee sodat die hele affêre ondersoek kan word.”

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, sê by navraag die verspreiding van pornografiese materiaal onder leerlinge word in ’n baie ernstige lig beskou.

Ouers moet kinders waarsku

“Ouers moet met hul kinders praat oor die gevare van pornografie, teistering en afpersing.”

Hy het die Randfonteinse ouers gevra om dadelik met bewyse by die departement se distrikskantoor aan te klop sodat dié kwessie deeglik ondersoek en die nodige stappe gedoen kan word.

Van die foto’s wat op die WhatsApp-groep versprei word, sluit in ’n digitaal- gemanipuleerde foto van die Hollywood akteur Will Smith se kop waarop die kaal bolyf van ’n vrou geplak is in die plek van sy hare. Ander foto’s beeld anale seks en seks tussen twee mans en ’n vrou uit.

Die ma van die gr. 8-leerling sê meisies wat sê hulle is 16 of selfs jonger, adverteer hulself op die WhatsApp-groep aan seuns. Hulle gee selfs ’n selfoonnommer daarby.

Meisies adverteer hulself

“Die oomblik toe die ouers snuf in die neus kry, het die administreerder van die groep dit gesluit en dié persoon se selfoon is nou buite werking. Niks keer dat nog ’n groep gestig, skoolkinders bygevoeg en met dié bedrywighede voortgegaan word nie,” sê die ma.

Marius Botha, ’n onafhanklike onderwyskonsultant, sê uit die 892 tugverhore by skole in Gauteng, die Wes-Kaap en Noordwes waarby hy in 2018 betrokke was, het die helfte verband gehou met seksuele uitbeelding op sosiale media.

“Die verspreiding van pornografie is ’n oortreding van die Wet op Rolprente en Publikasies, ’n oortreding wat strafregtelik vervolg kan word. Verlede week was daar ’n geval waar die gesig van ’n foto van ’n hoërskoolmeisie van Pretoria op die naakte lyf van ’n vrou gebruik is en haar gesin op so ’n wyse afgepers is. Dit het later aan die lig gekom dat die persoon agter die afpersing in Australië sit. Afwykende en verwronge seks, wat dikwels verkragting en marteling uitbeeld, word ook toenemend in skole versprei,” sê Botha.

Meer oor:  Randfontein  |  Kinders  |  Pornografie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.