Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Rebellie bars los oor die skole-wet

Derduisende ouers, onderwysers en ander belanghebbendes het gereageer op die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys.

“Ons is heeltemal oorweldig deur die reaksie. Daar was nog nooit soveel teenkanting teen enige voorgestelde wetgewing sedert die Skolewet in 1997 in werking getree het nie,” sê Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas).

Duisende ouers het petisielyste by skole onderteken en honderde skole het versoekskrifte teen die wysigings aan Fedsas gestuur.

Bykans 100 000 mense het teen Vrydagmiddag kommentaar gelewer op die vakbond Solidariteit se webwerf en meer as 76 000 mense het teen gister ’n versoekskrif teen die voorgestelde wysigings op die webwerf Go Petition onderteken.

“Ek sit met bladsye en bladsye se kommentaar en ek het nog nie kans gehad om dit alles by mekaar te tel nie. Ek moes al my tyd gebruik om skole en beheerliggame te help om hul kommentaar op te stel voor Vrydag se spertyd,” sê Colditz.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê hulle is ewe uit die veld geslaan deur die reaksie. “Dit het duidelik ’n sensitiewe snaar by ouers geroer wat dalk meer geduldig is oor baie ander dinge in die land, maar woedend is wanneer hul kinders benadeel word,” sê hy.

Vir baie ouers is die vernaamste knelpunt die feit dat die ­nuwe wetgewing die beheerliggame se reg om skoolhoofde en onderwysers aan te stel, gaan beperk.

“Daar is geweldige teenkanting teen die wysigings waarvolgens die staat oor toelatings, taal, skoolkapasiteit, aanstellings, klasgroottes en taalsamestellings sal besluit,” sê Hermann.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die onderwysdepartement, sê die huidige wetgewing leen hom tot magsmisbruik.

Die “geld vir poste”-skandaal ’n paar jaar gelede en die onderwysvakbond Sadou se inmenging met die aanstelling van skoolhoofde, is van die faktore wat aanleiding gegee het tot die voorgestelde wysigings.

Caiphas Moshutla van die
Saviour Associaton of School Governing Bodies sê egter hul vrees is dat korrupsie juis sal gedy as die aanstelling van hoofde en onderwysers nie onder toesig van beheerliggame gebeur nie.

Hy reken die wysigingswetsontwerp sal juis meebring dat meer poste verkoop word.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Danie van Wyk van die Suid-Afrikaanse Onderwysontwikkelingstrust, ’n organisasie wat fokus op die ontwikkeling van skoolbeheerliggame in voorheen benadeelde gemeenskappe, sê die aanstelling van hoofde en onderwysers is ook hul ouers en skole se vernaamste probleem. Hulle vrees hulle sal eienaarskap van hul skole ontneem word as hulle nie mag besluit wie vir hul kinders mag klas gee en wie hul skole bestuur nie, sê hy.

Prof. Marius Smit van die Noordwes-Universiteit, wat ook in Potchefstroom Gimnasium se beheerliggaam dien, sê die departement probeer die wysigings stoomroller.

Colditz waarsku die hele openbare onderwysstelsel kan in duie stort as die wetswysigings in sy huidige vorm deurgevoer word. Ouers dra R15 miljard per jaar by tot openbare skole.

Volgens Roberto Boni, voorsitter van die Plettenberg Bay Primary School se beheerliggaam, dink ouers reeds daaraan om hul kinders uit die skool te haal as die wetswysigings deurgevoer word. “Dit sal ’n totale ramp vir ons wees as dit gebeur.”

Hy sê die departement is al lank besig met die wetgewing, maar het dit stil gehou en daarom het skole nou eers daarvan gehoor. “Die ouers praat nou oor niks anders nie.”

Kenners sê daar is aspekte van die wetsontwerp wat nie sleg is nie.

Prof. Elda de Waal, onderwyskenner aan die Noordwes-Universiteit se Edu-Right-navorsingsentiteit, het aan Netwerk24 gesê die wysigingswetsontwerp gee ’n beter omskrywing van watter voordele onvanpas sou wees ten opsigte van die onregverdige bevoordeling van sekere werk­-nemers. “Dit is ook goed dat die verwysings na drank en onwettige middels in die nuwe wet strook met die Drankwet.”

Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van Fedsas, sê hulle stem saam met die wysiging in die wetsontwerp dat ouers strafregtelik vervolg kan word as hulle jok om vrystelling van skoolgeld te kry.

Meer oor:  Paul Colditz  |  Skolewet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.