Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Red die land van mislukte politieke leiers’
Dr. Sizwe Mabizela, visekanselier van die Rhodes-Universiteit in Grahamstad. Foto: WERNER HILLS

Suid-Afrika word verswelg deur onstuimigheid en rassepolarisasie en dit is dringend noodsaaklik dat studente wat gegradueer het, hul rol speel en standpunt inneem om die land van bedrog en swak leierskap te red.

Prof. Sizwe Mabizela, visekanselier van die Rhodes-Universiteit, het die naweek dié sterk standpunt gestel op die gradeplegtigheid van 2 457 studente.

Hy het gesê dié studente gradueer op ’n tydstip dat die grondwetlike demokrasie uitgedaag word en buitengewone gebeure plaasvind.

Die kern van dié uitdaging is die “skouspelagtige mislukking van politieke leierskap”.

“Julle gradueer in ’n land waar gierigheid, misleiding en die misbruik van mag tot ’n kuns ontwikkel is. Julle gradueer in ’n land wat ons onsself nie ’n maand of wat gelede kon voorstel nie.

“Hierdie is buitengewone tye. Dit is onsekere tye.

“Die huidige krisis beklemtoon hoe belangrik dit is om leiers te verkies wat bekwaam, verantwoordbaar, eerlik en betroubaar is.”

Mabizela moedig studente aan om nie vasgevang te raak in ’n gevoel van magteloosheid nie. Hulle moet die leuens en ongegronde aansprake wat as die waarheid opgedis word, en die “spin” en valse verduidelikings wat ’n belediging vir ons almal is, uitdaag.

Suid-Afrika het die tydperk van “post-waarheid” betree en studente moet waak teen anti-intellektuele, populistiese retoriek en leë slagspreuke.

“Julle kan ’n betekenisvolle bydrae lewer om die land van die afgrond te red. Studente is deel van die bevoorregtes, die sterk ‘kennis-elite’.

“Ons kan nie bekostig om die hoop te verloor wat ons in die donker dae van apartheid gedra het nie. Ons kan nie bekostig om op te hou droom van ’n beter gemeenskap en ’n beter wêreld nie.

“Moet nooit bang wees om te veg teen die maatskaplike, ekonomiese en politieke probleme wat die land teister nie.

“Ons land is by die kruispad. Dit is by breekpunt en die gemeenskap rafel vinnig uit,” sê hy.

* Betogings by die universiteit is die afgelope weke gehou nadat salarisonderhandelinge ’n dooiepunt bereik het.

Vakbonde eis ’n verhoging van 7,5% en die universiteit bied 5% aan.

Mabizela sê die aanbod is ’n bitter pil, maar universiteite is in ’n geldelike krisis omdat klasgeld nie verlede jaar verhoog is nie en dit vanjaar met ’n maksimum van 8% verhoog kan word. Groter salarisverhogings kan die lewensvatbaarheid van die universiteit bedreig.

Meer oor:  Krisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.