Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Regering bestee sowat 8% minder op dié leerlinge – verslag

Die regering het die afgelope tien jaar weens ’n krimpende begroting vir basiese onderwys sowat 8% minder op elke leerling in ’n staatskool in Suid-Afrika bestee.

Dít ondanks die feit dat die meerderheid van hierdie leerlinge luidens ’n verslag van die nieregeringsorganisasie Equal Education (EE) se regsentrum nie aan die basiese vereistes vir geletterdheid, syfergeletterdheid en die kurrikulum voldoen nie, terwyl hulle ook nie toegang tot ’n veilige en gesonde leeromgewing het nie.

Die verslag getiteld “The State of Education 2014-’19” is Dinsdag deur Rubeena Parker, senior navorser by die EE-regsentrum, aan LP’s in die portefeuljekomitee oor basiese onderwys in die parlement voorgelê.

Luidens die verslag toon navorsing dat gr. 4-leerlinge in Suid-Afrika die laagste punte uit leerlinge in 50 lande behaal het wat aan lees-toetse deelgeneem het en dat 78% van hulle nie met begrip kan lees nie.

Progressiewe finansiering en doeltreffende besteding is nodig om die uitkomste vir basiese onderwys te bevorder.

“Die landelike gebiede word die ergste geraak met 91% van die gr. 4-leerlinge in Limpopo, 85% in die Oos-Kaap en 83% in Mpumalanga wat nie met begrip kan lees nie.

“Terselfdertyd is daar ’n versuim om norme en standaarde vir skoolinfrastruktuur, regulasies oor staatskoolgeld-vrystellings, asook nasionale en provinsiale beleid vir die voorsiening van vervoer vir leerlinge, in werking te stel. “Progressiewe finansiering en doeltreffende besteding is nodig om hierdie uitkomste te verbeter. Ongelukkig toon nadere ondersoek dat dit nie in plek is in die begroting vir basiese onderwys nie,” lui die verslag.

Volgens Parker is die verslag ’n hersiening van sommige sleutelkwessies waarvoor die organisasie hom die afgelope vyf jaar in die sektor beywer het.

Aanbevelings word ook daarin gedoen oor onder meer hoe die departement van basiese onderwys ander problematiese gebiede in die sektor, soos vroeëkinderontwikkeling, leerlingvervoer, uitsluitende toelatingsvereistes, veral vir kinders met leerprobleme en gestremdes, sowel as skole-infrastruktuur en -sanitasie, kan verbeter.

Die EE-regsentrum erken wel in die verslag dat die departement vordering in hierdie tydperk gemaak het, maar dit word ook bevraagteken in die lig van regressiewe finansiering van onderwys, chroniese onderbesteding en ’n konstante versuim om doelwitte te behaal.

Dit lui verder dat die verslag deur die assessering van belangrike onderwysdoelwitte oor die afgelope vyf jaar kritieke stelsel-mislukkings met data-insameling, samewerkingsprobleme tussen staatsdepartemente en belanghebbendes, sowel as erge wetgewende en beleidsgapings en die inwerkingstelling daarvan, onthul het.

Die verslag beveel ook aan dat provinsiale onderwysdepartemente die per leerling toekenning aan geen-fooi-skole moet prioritiseer sodat die nasionale minimum drempel vir alle kwintiele nagekom word.

“Progressiewe finansiering en doeltreffende besteding is nodig om die uitkomste vir basiese onderwys te bevorder.

“Suid-Afrika het egter in die oorsigtydperk regressiewe finansieringsneigings getoon. Die departementele begroting het onder meer die afgelope vyf jaar in reële terme afgeneem en die besteding per leerling het sedert 2010 met ongeveer 8% gedaal.”

Die verslag beveel onder meer aan dat die begrotings vir basiese onderwys verhoog word.

“Die verslag beveel ook aan dat provinsiale onderwysdepartemente die per leerling toekenning aan geen-fooi-skole moet prioritiseer sodat die nasionale minimum drempel vir alle kwintiele nagekom word.”

LP’s in die portefeuljekomitee het Dinsdag onder meer voorgestel dat die nasionale en provinsiale departemente van onderwys wat in die verslag genoem word, versoek moet word om daaroor aan die komitee verslag te doen.

* Intussen het die nieregeringsorganisasie Section 27 Dinsdag aan die komitee gesê dat ’n ondersoek getoon het dat sowat 765 skole in Limpopo steeds gebruik maak van puttoilette.

Meer oor:  Equal Education  |  Leerlinge
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.