Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Regering wurg skole

Die minister van basiese onderwys, Angie Motshe­kga, pleit dat die private sektor “ruim moet bydra” om openbare skole te help red terwyl haar regering begrotings vir die bou van skole, biblioteke, toilette en laboratoriums besnoei en versuim om miljarde rande wat reeds vir onderwys opsy gesit is, te bestee.

Minder as 3% van openbare skole in die vrotste provinsies het ten volle toegeruste biblioteke, net die helfte van skole landwyd het spoeltoilette en skaars 40% hoegenaamd ’n sportveld.

Puttoilette sonder deure by Lutoli Junior Secondary School in die Oos-Kaap.

’n Amptelike dokument wat Motshe­kga se departement in Maart vanjaar aan die parlementêre komitee vir basiese onderwys voorgelê en waarvan Rapport ’n afskrif het, toon dat veral provinsiale regerings bykans geen van hul eie doelwitte vir die bou en opknap van skoolinfrastruktuur haal nie.

Die geld kom uit ’n begroting vir Asidi, die versnelde skoolinfrastruktuur-inisiatief.

Die verslag wys:

  • Slegs agt nuwe skole is verlede jaar gebou. Die doelwit was 34.
  • Slegs 19 uit die beplande 33 tydelike skole is vervang.
  • Net 18 uit die beplande 140 nuwe laboratoriums is landwyd gebou.
  • Net 15 skole het verlede jaar biblioteke gekry. Die teiken was 109.
  • Lopende water is verlede jaar verskaf aan net die helfte (666) van die 1 252 skole waarvoor begroot is.
  • Meer as 16 000 skole was volgens die jongste beskikbare syfers (2016) met slegs puttoilette toegerus. Tog het net 453 van hierdie skole laas jaar sanitasiestelsels gekry.

In Maart het klein Lumka Mke­twa (5) in ’n puttoilet by haar skool in die Oos-Kaap verdrink. In ’n soortgelyke voorval het die vyfjarige Michael Komape in 2014 ook in ’n puttoilet by sy skool in Polokwane verdrink.

  • In Gauteng is geld uit die Asidi-projek beskikbaar gemaak vir die bou van 12 skole in die eerste drie kwartale van die 2017-’18-boekjaar. Slegs een is gebou in ’n provinsie waar duisende leerlinge elke jaar sukkel om plek op ’n skoolbank te kry en waarheen duisende leerlinge van ander provinsies elke jaar stroom.
  • Die Gautengse departement van onderwys het ook net 40% van geld vanaf die nasionale departement vir die instandhouding van infrastruktuur bestee en 34% van die begroting vir opknappings. Altesaam 570 nuwe klaskamers is wel in drie kwartale in die provinsie gebou, maar geen laboratoriums of biblioteke nie.
  • In Noordwes is slegs 11% van die onderwysdepartement se begroting vir die opknapping van infrastruktuur bestee en geen nuwe skole of klaskamers is gebou nie. Die teikens was ses nuwe skole en 248 nuwe klaskamers.

Volgens Motshekga se departement het baie kontrakteurs hul werk gestaak voordat die projekte voltooi is, en maak ’n gebrek aan infrastruktuur in sommige provinsies dit moeilik om bouwerk aan skole te onderneem.

Syfers van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) wys hoe benard die toestand van baie skole is en waar dit die slegste gaan.

  • Amper 5 000 skole in KwaZulu-Natal het in 2016 nog puttoilette gehad. 101 spoeltoilette is verlede jaar gebou.
  • Net 17% (3 318) van die land se skole het in 2016 biblioteke gehad wat ten volle toegerus is. In Limpopo is die syfer 2,8%.
  • 18% (3 285) van skole landwyd het laboratoriums gehad.
  • 43% van skole (9 966) het nie ’n sportveld gehad nie. In Noordwes het 395 van 1 485 skole nie sportvelde gehad. Sewe sportvelde is intussen landswyd aangebring, maar geen in Noordwes.

‘Ons gaan sukkel,’ sê Motshekga

Teen hierdie agtergrond is die nasionale begroting vir skole-infrastruktuur oor die volgende drie jaar met R3,5 miljard besnoei.

In haar begrotingsrede Woensdag het Motshekga gesê die tesourie het basiese onderwys se begroting besnoei om geld vir die finansiering van gratis hoër onderwys vir arm studente beskikbaar te stel.

Die regering se onderrig-infrastruktuur-skenking (EIG) en die Asidi-projek se begroting is onderskeidelik met 1,3% en 43% verminder tussen die 2017-’18- en 2018-’19-boekjaar. Die EIG ontvang vanjaar R9,8 miljard en Asidi R1,5 miljard.

Weens dié besnoeiings, sê Motshe­kga, sal haar departement vanjaar sukkel om aan die norme en standaarde vir skole-infrastruktuur te voldoen, waarvolgens alle skole teen einde 2016 reeds lopende water, elektrisiteit en spoeltoilette moes gehad het.

Alle strukture van modder, hout en asbes moes toe al verwyder gewees het.

‘Kinders onder die bus’

“Die regering gooi ons kinders onder die bus ten gunste van gratis universiteitsonderrig,” waarsku Ian Ollis, DA-skaduminister van basiese onderwys. “Hierdie leerlinge gaan egter sukkel om hul studies te slaag met die power wiskunde- en wetenskaponderrig wat hulle ontvang.”

Ollis sê dié besnoeiing sal ’n “infrastruktuurnagmerrie” tot gevolg hê. “Dit sal die grootste krisis sedert 1994 tot gevolg hê en skole sal inmekaarstort.”

Die krisis in duisende openbare skole vergroot nogmaals die reeds tamaai kloof tussen “ryk en arm en swart en wit”, sê Frans Cronjé, uitvoerende hoof van die SAIRV.

“Die swak gehalte van ons onderwysstelsel is die grootste struikelblok tot gelykheid en transformasie.”

Die staat is boonop al hoe suiniger met die beskikbaarstelling van inligting oor wat in skole aangaan.

Die instituut is die afgelope week deur die departement van basiese onderwys gevra om ’n vertroulikheidsooreenkoms te onderteken voordat data beskikbaar gestel is wat in die openbare domein hoort, luidens ’n briefwisseling wat in Rapport se besit is.

Philile Ntombela-Masson, navorser van die drukgroep Equal Education, sê arm, meestal swart leerlinge se kans op gehalteonderrig word al hoe skraler. “Ons skoolstelsel is reeds besaai met uitdagings soos onveilige sanitasiegeriewe en klaskamers wat nie struktureel op peil is nie. Die groeiende aantal leerlinge van skoolgaande ouderdom vereis méér geld vanaf die regering, nie minder nie.”

‘Hoe geld bestee word, is probleem’

In reaksie op Motshekga se versoek vir hulp uit die private sektor sê Rob Stokes, onderwyskenner en hoof van Red and Yellow Creative Business School, dit is nie sakelui se verantwoordelikheid om die openbare skoolstelsel te finansier nie.

“Suid-Afrikaners betaal reeds belasting en die regering bestee ’n groter deel van die begroting aan onderwys as die meeste ander lande. Die manier waarop geld bestee word, moet eerder verander.”

Volgens die SAIRV se statistieke bestee Suid-Afrika tans 6,8% van die bruto binnelandse produk (BBP) aan basiese onderwys, meer as die 6,3% in 1995. Amerika en Brittanje bestee 5,6% van hul BBP aan onderwys.

Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse skole (Fedsas), sê ook dit sal nie help om meer geld na die probleem te gooi nie.

“Ons moet eerder swak leiers tot verantwoording roep en wanbesteding aanpak. Dit help nie maatskappye gee geld wat verdere korrupsie en wanbesteding finansier nie.”

Hy meen wel skoolgemeenskappe moet verantwoordelikheid vir skole aanvaar en self inspring om infrastruktuur op te knap. “Openbare skole is nie net die staat se verantwoordelikheid nie en gemeenskappe het ’n belangrike rol om te verseker dat skole gehalteonderrig lewer.”

Stokes sê hoewel Suid-Afrika enkele uitnemende openbare skole het, sal hoëgehalte- private skole al hoe aanlokliker word vir leerlinge wie se ouers dit kan bekostig. Hoewel baie meer leerlinge steeds in openbare skole is, het die getal inskrywings by private skole tussen 2000 en 2016 met 130% (van 256 000 tot 590 000) toegeneem. In dié tydperk het die getal by openbare skole met 6% (van 11 647 000 tot 12 342 000) gestyg.

Maar Deacon dink nie private skole is die oplossing vir power openbare onderrig nie. “Bitter min ouers kan dit bekostig. Net meer as 3 000 openbare skole vereis nog dat ouers skoolgeld betaal. Sou dié ouers na private skole migreer, sal openbare onderrig finaal in duie stort.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.