Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
OORSIG: Juffrou is 'geslagte lam op altaar'

Die vakbond Solidariteit gaan regstappe aankondig wat spruit uit die skorsing van Elana Barkhuizen uit die Laerskool Schweizer-Reneke nadat 'n rasseherrie uitgebreek het.

Só lyk die gewraakte foto wat deur ’n juffrou by die Laerskool Schweizer-Reneke gedeel is waarin wit en swart leerders skynbaar geskei word. Foto: VERSKAF

Die fokus hiervan is die optrede deur Sello Lehari, LUR vir onderwys in Noordwes, sowel as stappe om Barkhuizen se skorsing op te hef, aldus Solidariteit.

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het Lehari se "oorhaastige en populistiese optrede" daartoe gelei dat Barkhuizen onregmatig en onskuldig geskors is. "Indien hy die ander kant van die saak gehoor het, sou hy tot 'n ander gevolgtrekking gekom het. Hy het haar egter in 'n boendoehof-styl voor 'n opgesweepte massa aangekla en skuldig bevind,” sê Hermann.

Solidariteit gaan ook op 'n nuuskonferensie stappe aankondig teen die politieke partye wat hy meen die voorval "misbruik het".

Barkhuizen sal na verwagting 'n kort verklaring maak.

Dit is wat jy nou moet weet:

1. Solidariteit het aangekondig dat hy vandeesweek 'n dringende aansoek voor die hof gaan bring om Elana Barkhuizen se skorsing op te hef. 

2. Solidariteit oorweeg ook siviele eise teen die LUR van onderwys en sportontwikkeling in Noordwes, Sello Lehari, en die onderwysdepartement omdat hy meen die skorsing is onwettig. 

3. Solidariteit sê Barkhuizen is "'n lam wat op die altaar" deur 'n boendoehof geslag is. Sy het niks verkeerd gedoen nie.

4. Barkhuizen was by tye te emosioneel om uit haar verklaring voor te lees. Sy het herhaaldelik gesê: "Ek is 'n goeie onderwyser." Sy wil voortgaan met die saak om te sorg dat dit nooit weer met 'n ander onderwyser gebeur nie.

5. Solidariteit sê die realiteit is dat Tswana-kinders in Noordwes, wat nie 'n woord Afrikaans of Engels kan verstaan nie, in Afrikaanse skole geplaas word. Nou moet onderwysers oplossings daarvoor vind.

Lees ook:

'Skool is nié rassisties', sê swart ma

Nog 'n juffrou van Schweizer dalk geskors

Eksklusief: Geskorste juffrou: Dit was nie haar klas

elana barkhuizen
Elana Barkhuizen, onderwyseres van Laerskool Schweizer-Reneke wat geskors is. Dirk Herman, bestuurshoof van die vakbond Solidariteit praat op 'n gesamentlike mediakonferensie met Barkhuizen oor die onlangse gebeure by dié dorp se laerskool. Solidariteit kondig regstappe aan om die onregmatige skorsing van Barkhuizen op te hef. Die vakbond kondig ook sekere stappe aan na aanleiding van die optrede van Noordwes se LUR vir onderwys, Sello Lehari. Foto: Deaan Vivier

15 Jan. 13:12:56

Die nuuskonferensie is verby.

15 Jan. 13:12:08

Mulder: "Wit en swart ouers veg om hul kinders in Barkhuizen se klas te kry. Sy is 'n lam wat op die altaar geslag is."

15 Jan. 13:08:42

Hermann: "Die skoolhoof het haar Woensdag 'n minuut voor die tyd gebel. 'n Minuut voor die LUR op die verhoog gegaan het om aan te kondig dat sy geskors is. Hulle het 'n groot fout gemaak."

15 Jan. 13:07:38

Hermann: "Die LUR het met sy aankondiging Barkhuizen se naam genoem in verband met die segragasie van kinders. Dis eers dae later dat hulle gesê het sy is geskors omdat sy die foto geneem het. Niemand het ooit aan haar verduidelik hoekom sy geskors is nie insluitend die skoolbeheerliggaam. Sy het die Vrydag net een sin ontvang wat sê dat sy geskors is met betaling. Dit is ook onwettig."

15 Jan. 13:05:19

Mulder: "Ons moet nie vir die onderwyser vertel hoe om haar werk te doen nie. In die platteland buig onderwysers agteroor om kinders te help, soos Elana. En nou word sy gekruisig.  Dis die onderwysdepartement wat moet pa staan."

15 Jan. 13:01:09

"Indien hulle van die begin gemeng sit en hulle verstaan nie kind langs hulle nie is dit nie in die belang van die kind nie. Hulle het als in hulle vermoë gedoen om alle kinders tegemoet te kom. Die suksesstorie is in die fotos wat minute later geneem is. Dit is onregverdig dat die departement nie oplossings vir die taalprobleem kry nie, maar dit aan die onderwysers oorlaat om selfs oplossings te soek."

15 Jan. 12:59:58

Sitplekreëlings

"Hoe die leerlinge gesit het is nie deur Barkhuizen gedoen nie, want dit was nie haar klas nie. Dis nie ons plek om namens die ander onderwyser te verduidelik hoekom sy die kinders so laat sit het nie. Nee, die kinders word nie op ras by die skool by plekke ingedeel nie. Dit was ook nie die geval daardie oggend nie. Ouers en leerlinge het twee dae voor die tyd gekom en daar is gewys waar die kinders gaan sit. Hier praat ons van die realiteit van kinders wat nie Afrikaans of Engels kan praat nie. Nou moet jy 'n huiswerker bring wat dit moet fassiliteer. Hulle is so gesit om hul gemaklik te laat voel vir die begin. Minute later het die kinders gemeng gespeel. Dit is 'n praktiese rede."

15 Jan. 12:56:11

Hermann: "Die verkeerde onderwyseres is geskors omdat 'n boendoehof plaasgevind het. Die LUR het sy mandaat ver oortree. Die skoolbeheerliggaam is bewus van die regsaksie, maar ons het nie met die departement in verbinding getree nie."

15 Jan. 12:54:34

Dirk Hermann sê die groot probleem is dat die departement nie geslaag het om 'n groter Tswana-aanbod te maak nie. "Nou moet die onderwyseres die probleem oplos. Dit is nie haar verantwoordelikheid nie. Dit is nie so maklik om te sê dat die skool Tswana as onderrigtaal moet instel nie." Hermann sê die tweede onderwyseres wie se klaskamer dit was, sal waarskynlik nie na die ondersoek geskors word nie.

15 Jan. 12:52:20

"Daar is nie genoeg goeie skole in die omgewing nie. Nou kom kinders na die skool en kan nie Afrikaans praat nie. Die onderwyser kan nie blameer word vir die LUR, wat meer skole moet bou, se mislukkings nie. Die onderwysers sit met die gebakte pere," sê Solidariteit. Hermann sê Barkhuizen was nie lid van 'n vakbond nie. Sy het na die voorval by Solidariteit aangesluit. Ons sal nou namens haar optree omdat sy 'n lid is. "Ons doen dit ook in die openbare belang."

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.