Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
OORSIG: Motshekga 'jok nie oor vraestelle'

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, praat oor die vordering met die matriekeksamen.

Twee vraestelle het reeds uitgelek sedert die eksamen begin het.

Volg Netwerk24 se regstreekse dekking hier:

04 Des. 15:09:45

Motshekga 'jok nie oor vraestelle'

Motshekga sê sy jok nie oor die aantal vraestelle wat uitgelek het nie. Dit was egter net die wiskunde-, fisiese wetenskap- en sakestudies-vraestelle wat uitgelek het.

Die uitlekking van die sakestudies-vraestel kon egter betyds vasgestel word voordat dié eksamen geskryf is, en daarom kon 'n alternatiewe vraestel  gebruik word.

Dit is die einde van die mediakonferensie.

04 Des. 15:04:19

Laaste vrae gestel

Motshekga beantwoord die laaste stel vrae. Sy sê daar kon nog nie bereken word presies hoeveel die oorskryf van die vraestelle die departement gaan kos nie, omdat die provinsies self daarvoor moet betaal.

Die berekening van die volle koste sal daarná gedoen kan word.

Sy sê matrikulante het tydens die sagter inperking in groot getalle teruggekeer skool toe. Daar was egter ook baie kinders in die laer grade wat nie teruggekeer het skool toe nie. Daar sal eers in die nuwe jaar gesien kan word wat die situasie is en of daardie leerlinge die jaar moet herhaal, en of hulle permanent weg is.

04 Des. 15:00:44

Raad oor beveiliging ontvang

Mathanzima Mweli, direkteur-generaal van die departement, sê hulle is deur veiligheidsagentskappe raad gegee oor hoe hulle die vraestelle kan beveilig.

"Ons het baie dinge gedoen. Ons het gesê dat ons hierdie jaar om verskeie redes gereed moet wees met 'n tweede vraestel vir elke vak vir ingeval so iets gebeur. Dit is ook waarom die ministers en Raad van Onderwysministers ooreengekom het om leerlinge wat met die virus besmet is, hul vraestelle later te laat skryf."

Die hele eksamenproses sal nou geoudit word.

"Dit is vroeër ook in Limpopo gedoen maar sal nou veel wyer uitgebrei word. Die departement sal ook nou meer belê in inligtingstegnologie om die vraestelle beter teen uitlekking te beveilig."

04 Des. 14:58:09

Motshekga tjoepstil oor lekkasie 

Sy kan nie onthul hoe daar uitgevind is van die uitgelekte vraestelle nie.

Volgens haar ontvang die departement tans baie advies om soortgelyke voorvalle in die toekoms te verhoed.

"Ons sal alles moontlik doen om te verhoed dat dit weer gebeur. Ons het vyf jaar gelede ook 'n uitgelekte vraestel gehad. Ons het baie daarin belê om die vraestelle oor die jare te beskerm, maar dit is 'n menslike aspek wat vir die jongste voorvalle verantwoordelik is."

04 Des. 14:57:42

Moeilike tyd vir dié jaar se matrieks

Sy sê ook die groep leerlinge wat nou hierdeur geraak word, moet bygestaan word omdat dit baie spanningsvol en emosioneel vir hulle en hul ouers moet wees.

"Dit is moeilik, want vanjaar se matrikulante is eers getref deur Covid-19 en nou moet hulle oorskryf. Die oorskryf moet egter plaasvind vir hul eie beswil en om die integriteit van die eksamen te beskerm."

04 Des. 14:54:03

Vraag-en-antwoordsessie

'n Vraag is oor watter stappe gedoen sal word teen die maatskappy wat die vraestelle gedruk het.Nog een is wat gedoen gaan word om toekomstige uitlekke te verhoed.

Motshekga sê die ondersoeke duur voort. "Ons het nog nie besluit wie verantwoordelik is vir die uitlekking nie."

Daar moet nog bepaal word wat presies gebeur het. Daar is ook 'n hofsaak, dus kan sy nie te veel oor die kwessie uitbrei nie.

04 Des. 14:50:03

Gelekte vraestelle: Leerlinge het mekaar probeer beskerm

Volgens haar is dit baie hartseer dat die vraestelle oorgeskryf moet word. Vir die leerlinge ook. Dit skep ook nou onsekerheid by die leerlinge oor hul punte. Sy sê dit is nie soos voorheen toe 'n vraestel net in Mpumalanga uitgelek het nie.

Hierdie keer is die vraestel oor die land heen uitgelek. 

Sy sê die leerlinge het selfs mekaar probeer beskerm tydens die ondersoek, wat dit bemoeilik het, en daarom moes daar besluit word om die aankondiging te maak dat die vraestelle oorgeskryf moet word.

Sy sê die risiko kan nie geneem word as Umalusi sê dat hulle nie die uitslag van die vraestelle wat reeds geskryf is, aanvaar of sal sertifiseer nie. Daarom moet daar oorgeskryf word om die integriteit van die eksamen te beskerm.

Motshekga is nou klaar. Elijah Mhlanga, haar woordvoerder, sê dit is nou tyd vir vrae.

04 Des. 14:48:58

Sterk boodskap moet uitgestuur word oor gepeuter met matriekvraestelle

Dit was nie maklike besluit nie. Sy sê dit is egter nodig onder die omstandighede. Volgens Motshekga moet daar hard gewerk word aan die menslike kant van die eksamenstelsel, omdat hierdie probleem nou baie kos.

Sy sê die Valke ondersoek ook die gevalle en sy is bly daar is al inhegtenisnemings. Die Valke was baie behulpsaam.

Volgens Motshekga moet 'n sterk boodskap uitgestuur word dat dit 'n baie ernstige oortreding is om met nasionale eksamens te peuter.

Volgens haar is dit egter nie die einde van die uitlek-kwessie nie.

04 Des. 14:43:26

Motshekga weer aan die woord

Motshekga praat dan verder. Sy sê daar is steeds uiteenlopende menings oor die besluite wat geneem is, maar dat dit geneem moes word.

Volgens haar is daar ooreengekom dat die wiskunde 2- en fisiese wetenskap 2-vraestelle nasionaal oorgeskryf moet word. Se sê dit is jammer en dit is nou die eerste ooit dat so iets in die land moet gebeur.

"Ons kondig aan dat die wiskunde-vraestel op Dinsdag 15 Desember oorgeskryf sal word. Ons moes dit doen terwyl ons leerling nog besig is om eksamen te skryf. Die fisiese wetenskap-vraestel sal Donderdag 17 Desember oorgeskryf word. Ons kon nie ander datums vind nie."

04 Des. 14:42:24

Omvang kon nie bepaal word

Volgens Poliah het daar diverse menings uit die konsultasies gespruit. Van dit was dat daar aanvaar moet word dat die vraestelle gekompromiteer is omdat dit op openbare platforms versprei is. Daar was ander wat gevoel het dat daar nie genoeg bewyse is nie.

"Wat sterk uitgekom het, was die vraag of ons die 391 000 Wiskunde 2-matrikulante kan laat oorskryf. Ons moet egter dié ongewilde besluit neem. Die Suid-Afrikaanse Gehaltebeheerraad en Umalusi was baie belangrik in dié opsig. Toe ons Umalusi genader het, was ons ondersoeke nog nie afgehandel nie. Hulle het ook saamgestem dat die volle omvang van die verspreiding van die uitgelekte vraestelle nie bepaal kon word nie en dat die integriteit van die vraestelle inderdaad gekompromiteer is."

Meer oor:  Angie Mo­Tshekga  |  Matrikulante  |  Matrieks  |  Eksamen  |  Uitgelekte Vraestelle  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.