Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Regte besluit om opening uit te stel – Fedsas

Dit is Vrystaatse skole waar beheerliggame vir die staat se verpligtinge pa gestaan het, wat Maandag gereed was om te heropen, sê dr. Jaco Deacon, adjunk- uitvoerende hoof van die Federasie van Suid-Afrikaanse Beheerliggame (Fedsas).

Dr. Jaco Deacon Foto: Argief

Deacon sê die provinsie was nie gereed om al sy skole Maandag vir leerlinge in gr. 7- en gr. 12-leerlinge te open nie.

Hy sê Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, se besluit om die skole se heropening met ’n week uit te stel, was die regte een. Dit was egter ’n “ enorme fout” om dié aankondiging so op die nippertjie te doen. Hy sê dié boodskap het die skolegemeenskap veels te laat bereik.

Ouers is Sondagaand ingelig hul kinders gaan nie Maandagoggend agter die skoolbanke inskuif nie.

Deacon meen Motshekga moes vroeër gehoor gegee het aan dit wat vir haar gesê word.

“Ons is dankbaar dat die minister al die verslae en inligting wat onder meer beheerliggaam-organisasies vir haar gegee het, ter harte geneem.”

Hy glo die skole sal volgende Maandag nasionaal gereed wees om te heropen en daarom is dit nou tyd om skouer aan die wiel sit.

“Die departement en verskaffers moet weet: Jy het vier dae tyd, dan moet alles reg en by skole wees.”

Deacon sê daar moenie volgende naweek ’n herhaling van die naweek se gebeure wees nie.

Fedsas wil nie sien dat die skole langer toe bly nie.

Fedsas wil nie sien dat die skole langer toe bly nie.

“Die jaar is nou te kort en die skole wat dan reg is, kan maar aangaan.”

Hoewel daar koshuise is wat hul leerlinge vooraf opdrag gegee het om eerder tuis te bly totdat daar meer duidelikheid is, is daar ander skole wat leerlinge moes ontvang.

“By ’n paar van die plattelandse dorpe het kinders by koshuise opgedaag – kinders wat uit diep landelike gebiede kom of van plase af ingery het. In daardie gevalle moet die skool maar voorsiening maak vir die leerlinge die week in die koshuis.”

In Bloemfontein het Grey-kollege, St. Michael’s School for Girls, Eunice High School en die Hoër Meisieskool Oranje leerlinge Saterdagaand in ’n gesamentlike verklaring aangeraai om eerder tuis te bly.

“Fedsas en die vakbonde het die skole gewaarsku. Ons het Vrydag al gesê ons het vir die minister gesê die kinders behoort nie terug te gaan nie, alles is nie in plek nie. So ek dink nie dit was ’n groot verrassing vir die stelsel nie.”

Charles Liversage, hoof van die HTS Louis Botha, het ook sy leerlinge vooraf laat weet om nie te kom nie.

“Die direkteur van die Motheo-distrik het aan die begin van die naweek die raad na skole deurgegee dat ons nie in Motheo kinders moet inneem voordat die minister gepraat het nie,” sê Liversage.

Reniël Lodewyk, provinsiale sekretaris van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) in die Vrystaat, sê die afgelope naweke het baie onsekerheid by onderwysers, ouers en kinders geskep.

Daar was talle skole in die provinsie wat gereed was, maar hordes wat nie was nie. Skole in meer stedelike gebiede soos Bloemfontein, Kroonstad en Sasolburg was gereed, maar op dorpe en die platteland is daar skole met ernstige probleme wat infrastruktuur betref.

“As ’n mens net kyk hoe die departement die naweek gespook het om watertenks oral te vervoer en op te sit. . .”

Volgens dr. Tate Makgoe, LUR vir onderwys, se Twitter-rekening het 87 skole in die distrikte Xhariep en Thabo Mofutsanyane die naweek watertenks ontvang.

Lodewyk is dankbaar vir die uitstel, sodat al die skole saam kan begin en ’n regverdige proses gevolg word.

Maar die SAOU is ook bekommerd oor die akademiese jaar, sê hy, omdat die tyd al hoe minder word.

Hy sê die vakbond salueer onderwysers vir die enorme druk wat hulle in dié tyd moet trotseer en die ekstra myl wat hulle loop om hul leerlinge te help.

Hy vertrou dat die skole Maandag sal heropen.

Anne-Marie Klink, hoof van die Hoër Meisieskool Oranje,

sê haar personeel is positief. Die skool was Vrydag gereed vir sy heropening, maar neem die skole in ag wat nog nie gereed was nie.

“Dit help nie een skool gaan vorentoe en die ander bly agter nie. Ek dink die departement doen regtig moeite om dinge in plek te kry.”Motshekga was Vrydag in Zamdela in Sasolburg en het Maandag in haar toespraak na dié Vrystaatse besoek en skole se gereedheid verwys.

“Ek het Vrydag die Vrystaat besoek en hulle was verby gereed. By een van die skole was hulle reeds besig om leerlinge in te lig en te oriënteer.”

Motshekga het gesê die onderwysers hier het self baie angstig gevoel toe hulle terug skool toe is en het gemeen die leerlinge moet voor Maandag oriënteer word as hulle onderrig gaan word.

https://twitter.com/MECTateMakgoe/status/1267201881564221443

Meer oor:  Fedsas  |  Jaco Deacon  |  Onderwys  |  Onderrig  |  Vlak 3
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.