Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Regulasies vir onafhanklike skole ‘ongeldig’

Solidariteit en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) gaan die hooggeregshof nader indien Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, nie reageer op ’n regsbrief wat vra dat die nuwe regulasies vir onafhanklike skole teruggetrek word nie.

Ingevolge regulasies wat Vrydag deur Motshekga in die Staatskoerant gepubliseer is, mag onafhanklike skole eers op 1 Februarie heropen weens die tweede vlaag koronavirusinfeksies. Openbare skole mag eers op 15 Februarie vir leerlinge heropen.

Skole sou aanvanklik op 25 Januarie heropen, maar Motshekga het op 15 Januarie aangekondig dit word uitgestel. Talle rolspelers het egter verlede week daarop gewys dat onafhanklike skole hul eie skoolkalender bepaal en daar is geen regulasies wat dié skole verhoed om te heropen nie.

Solidariteit vra dat die nuwe regulasies vir onafhanklike skole se heropening voor Maandag 16:00 teruggetrek word en dat ’n omsendbrief uitgestuur word waarvolgens dié skole kan open as hulle aan die nodige gesondheidsprotokol voldoen.

Die brief is ook aan dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, en Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, gerig.

Enige ander skool wat nou steeds in Gauteng oop is, is oop in weerwil van die regering se wense. Ons sal hulle tot ’n sekere mate probeer oortuig.

Luidens die brief het Motshekga buite haar magte opgetree toe sy regulasies vir onafhanklike skole uitgereik het en is dit daarom ongeldig. Volgens Solidariteit mag net Dlamini-Zuma regulasies ten opsigte van die ramptoestand weens Covid-19 uitreik.

Luidens die brief is daar ook nie bewyse dat Dlamini-Zuma aan Motshekga die gesag verleen het om die regulasies af te kondig nie.

Dit is ook volgens Solidariteit onduidelik of private dagsorgsentrums ook aan die nuwe regulasies moet voldoen. Dit sal teenstrydig wees met ’n vroeëre hofbeslissing oor dié geriewe.

“Ons soek ’n geskrewe bevestiging dat die regulasies teruggetrek sal word en dat die minister met die relevante belanghebbendes sal vergader oor die kwessies wat hier genoem word,” lui die brief.

Volgens Solidariteit sal hy geen ander keuse hê as om die hooggeregshof te nader indien Motshekga nie op die brief reageer nie.

Elijah Mhlanga, woordvoerder vir die departement van basiese onderwys, het Sondag gesê die departement se regspan bestudeer die kwessie en die volgende stappe sal op die regte tyd aangekondig word.

Lesufi het op 18 Januarie die onafhanklike skool Helpmekaar Kollege in Johannesburg besoek nadat hy gehoor het die skool sou vroeër heropen. Helpmekaar Kollege het egter sy heropening uitgestel en gaan aanlyn voort. Klaus König, skoolhoof, het gesê hulle is geensins geïntimideer om die heropening uit te stel nie.

Lesufi het ook met die Curro-groep gepraat oor sy skole wat op 13 Januarie heropen het.

Curro het hierna in ’n verklaring gesê “in reaksie op die gesondheidskrisis” het hy besluit om so lank as wat dit nodig is na aanlyn leer te skuif.

“Enige ander skool wat nou steeds in Gauteng oop is, is oop in weerwil van die regering se wense. Ons sal hulle tot ’n sekere mate probeer oortuig. As hulle nie oortuig wil word nie, sal ons ongelukkig moet optree. Ons sal ’n meganisme binne die wet kry om toepaslik op te tree,” het Lesufi gesê.

Meer oor:  Solidariteit  |  Panyanza Lesufi  |  Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma  |  Skole  |  Koronavirus  |  Regulasies  |  Heropening  |  Pandemie  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.