Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Regulering van kleuter-onnies ook nodig’

Dit is een ding om kleuterskole te reguleer, maar wat van onopgeleide kleuterskoolonderwysers, vra die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU).

“Daar is duidelik ’n groot behoefte aan wetgewing om onopgeleide en swak toegeruste persone te verhoed om kleuterskole te begin,” lui ’n verklaring deur die SAOU.

Refiloe Nt’sekhe Foto: Christiaan Kotze

Refiloe Nt’sekhe, DA-woordvoerder oor maatskaplike ontwikkeling, het Vrydag skoksyfers uit die derdekwartaalverslag van die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling bekend gemaak wat toon dat slegs 1 247 uit 2 262 sentrums vir vroeë-kinderontwikkeling ten volle geregistreer is.

Dit volg op die aanranding van kleuters by die Ninnie’s Neurons-kleuterskool wat in ’n video’s op sosiale media aan die lig gekom het.

Dié kleuterskool het nie meer ’n geldige permit nie, is bevind en dit is intussen gesluit.

Die vrou in die video’s, Neli Senwamadi (40), het reeds verlede Maandag in die plaaslike landdroshof op ’n voorlopige aanklag van aanranding van ’n minderjarige verskyn.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU.

“So belangrik soos die registrasie van sentrums vir vroeë-kinderontwikkeling is, los dit nie die probleem van die ongeregistreerde onderwysers op nie,” sê Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU.

“Terwyl onderwysers hulle by die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders (SARO) moet registreer, is daar geen sodanige reguleerder vir kleuterskoolonderwysers nie.

“Die kwalifikasie of ervaring van ’n kleuterskoolonderwyser is nie deel van die kleuterskool se registrasievereistes by die departement van maatskaplike ontwikkeling nie.”

Klopper sê hy wil nie veralgemeen nie, maar meen ’n groot gros kleuterskoolonderwysers bevind hulle slegs in die beroep om ’n salaris te verdien.

“Hoopvolle ouers laat hul kinders in die sorg van iemand anders, want die ekonomie dwing hulle om te werk. Ons kinders word in sommige gevalle aan ’n spul boewe uitgelewer,” meen Klopper.

Hy benadruk dit is een van die SAOU se belangrikste doelwitte om toe te sien dat kleuterskoolonderwysers hulle ook by die SARO registreer.

Meer oor:  Chris Klopper  |  Onderwys  |  Aanranding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.