Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Rykes’ wil kinders skool toe stuur

Meer as 60% van volwassenes het in ’n onlangse meningspeiling gesê skole moet tot die einde van die jaar toe bly.

Jaun en Chantel Shaw is kwaad omdat hul seuns, Milan (8) en Ruben (6), nie kan skool toe gaan nie.

Meer mans (63%) as vroue (57%) steun dié standpunt.

Navorsers aan die Universiteit van Johannesburg (UJ) en die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) het die peiling vanaf 3 tot 17 Julie onder 2 500 Suid-Afrikaners gedoen.

Van hulle het 13,1% gesê die skole moet vir alle grade heropen, 21,1% meen skole moet slegs vir gr. 12- en gr. 7-leerlinge oop wees en 5,4% weet nie.

Dit blyk ryker mense is meer geneë om hul kinders terug te stuur skool toe.

Van dié wat tussen R1 001 en R2 500 per maand verdien, het net 9% gesê hulle wil hê skole moet vir alle grade heropen, teenoor 37% van dié wat meer as R20 000 per maand verdien.

Twee-derdes van die laags besoldigde groep (wat minder as R1 001 per maand verdien) sê skole moet nie oopmaak nie, teenoor 41% van die hoogs besoldigdes.

Ek help kinders met liefde.

“Dit is baie duidelik dat armer mense wat minder as R20 000 per jaar verdien, meer bekommerd is,” het prof. Narnia Bohler-Muller aan Netwerk24 gesê. “Ek dink dit is omdat die skole nie gereed is nie.

“Die armer skole het nie al die toerusting nie en daarom is die onderwysvakbonde nie ten gunste daarvan dat die skole heropen nie.”

Verskeie ouers het vandeesweek aan Rapport gesê hulle is ontsteld omdat skole nou weer gesluit word.

Chantel Shaw se seuns, Milan (8) en Ruben (6), is in onderskeidelik gr. 2 en gr. R aan die Laerskool Helderkruin in Roodepoort.

“Hulle moet by die skool wees,” sê sy. “Ek is nie ’n onderwyseres nie.”

Shaw en haar man, Jaun, hanteer motorregistrasies namens handelaars.

“Ons sit die kar op jou naam en doen lisensieskyfies – dít alles by die huis terwyl ons die kinders daar moet leer in twee verskillende grade. Dit is regtig erg en ons was net reg daarvoor om weer ’n normale tyd binne te gaan. Nou is die skool weer toe.”

Adri van Zyl van Pretoria-Oos was weens “dié snaaksste virus” aanvanklik bang om haar gr. 8-seun, JP, na die Hoërskool Garsfontein terug te stuur. “Ek was bekommerd oor my kind moes teruggaan skool toe. Nou is ek weer bekommerd oor ons moet home school.” Sy sê die skool is puik toegerus wat betref sanitasiegeriewe en maatreëls vir afstandhouding. “Dit is sleg dat die skole wat goed voorbereid was ook moet toemaak, maar ons sal met dit ook cope.”

Sy sê JP het darem ’n volle twee dae by die skool gehad. “My hart is seer vir my kind, want die bietjie nuwe normaal was so kortstondig. Nou is dit terug na die eetkamer-skoolbank met die (kwaai en ongeduldige) mamma-onderwyseres wat moet seker maak dat die skoolwerk wel gedoen word terwyl sy haar eie werk ook gedoen moet kry.”

Lize de Jager van Sasolburg help familie en vriende met skoolwerk tydens die inperking. “Ek help kinders met liefde, want ek kan sien hoe dit vir ouers kan moeilik raak.”

Sy sê sy verstaan veiligheid is belangrik, maar dis ook erg om te sien hoe die kinders nie mag skool toe gaan nie.

Nóg ’n ma skryf op Facebook: “De moer in, want daar’s nie logika agter die besluite nie!”

jaco.nel@rapport.co.za

Meer oor:  Narnia Bohler-Muller  |  Adri Van Zyl  |  Lize De Jager  |  Chantel Shaw  |  Covid-19  |  Skole  |  Meningspeiling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.