Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
SA Akademie ook bekommerd oor taal op US

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het Woensdag sy stem by die kritiek op die gebeure die afgelope weke by die Universiteit Stellenbosch (US) oor die gebruik van Afrikaans op sy kampus en sy konseptaalbeleid gevoeg.

Dit volg op die onlangse gesamentlike verklaring deur die Afrikaanse Taalraad en die DAK-netwerk oor die versnelde verengelsing van die US ná onthullings dat studente verbied word om Afrikaans te praat.

Taal in koshuise

Volgens die US is dit in ooreenstemming met sy taalbeleid dat taal in koshuise en leefomgewings so gebruik word dat niemand van die aktiwiteite uitgesluit word nie.

Prof. Anne-Marie Beukes, uitvoerende hoof van die Akademie, sê in ’n verklaring kommer oor die taalkwessie aan die US “spruit uit die waarneming dat een van die land se inheemse tale, en daarby die jongste taal uit Afrikabodem wat die afgelope eeu tot volle wasdom as ’n wetenskapstaal ontwikkel het, se waarde klaarblyklik deur die US geringgeskat word”.

Wat van taaldiversiteit?

“Die Akademie betreur die toenemend verbeeldinglose tegnokratiese omgang van Stellenbosch met die werklikheid van veeltaligheid en hoe dit sedert 2014 manifesteer in hierdie universiteit se taalbeplanning, -beleid en -implementering. En dít desondanks die taalgebruiksprofiel van die universiteit se primêre voedingsgebied waar Afrikaans die mees gebruikte taal is,” lui die verklaring.

“ ’n Wesenskenmerk van die Wes- en die Noord-Kaap is juis die ryk kulturele en taaldiversiteit waarmee hierdie provinsies geseën is en waaruit Stellenbosch sy primêre studentekorps trek. Hierdie diversiteit behoort immers as ’n hulpbron benut te word in diens van sy primêre voedingsgemeenskap. Kennelik beskou die US egter hierdie diversiteit as ’n lastige probleem wat tot elke prys stelselmatig in sy strewe na ’n verskraalde eentalige wetenskapkultuur en internasionale statuur wégbestuur moet word.”

Vyandige omgewing gevrees

Volgens Beukes behoort universiteite nie in “ ’n hovaardige, eensydige bo-na-benede-verhouding met hul gemeenskappe te staan deur ’n vyandige omgewing te skep nie”.

“Die Akademie doen ’n beroep op die US om sy jongste konseptaalbeleid grondig te hersien deur ’n taalwetenskaplik verantwoorde en raadplegende taalbeplanningsproses van stapel te stuur. Stellenbosch se voedingsgemeenskap verdien dit,” sê Beukes.

Die US het intussen belangstellendes uitgenooi om kommentaar op die eerste konsep van sy hersiene taalbeleid te lewer. Die tydperk vir openbare deelname sluit op 12 April. ’n Tweede geleentheid vir openbare deelname word vir later vanjaar beplan.

Meer oor:  Universiteit Van Stellenbosch  |  Sa Akademie  |  Taal  |  Afrikaans  |  Taalbeleid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.