Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Sage oor Grey-hoof stuur op hofstryd af

Die slag van Grey-kollege Sekondêr stuur af op ’n onafwendbare hofstryd wat die jarelange tweespalt tussen die beheerliggaam en die skoolhoof en “die onverkwiklike redes” daarvoor in die openbaar op die spits gaan dryf.

Die sage oor die beheerliggaam se besluit om Deon Scheepers, die skoolhoof, weens ’n “vertrouensbreuk” van sy beheerraadspligte te onthef, het Donderdag kinkels bygekry.

Lede van Grey-kollege Sekondêr se eerste rugbyspan het op Donderdag se sangsessie in aanloop tot die naweek se skolederby teen die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria vir Jurie Geldenhuys, hoof van Grey Primêr, op hul skouers getel. Geldenhuys, wat ingevolge ’n beheerraadsbesluit nou tydelik oorhoofse skoolbestuurder is, is deur die seuns toegejuig. Die eerstespanstut Herman Agenbag is die speler wat Geldenhuys hier omhoog help hou. Foto: Verskaf

In sy eerste optrede by die sekondêre skool as die beheerliggaam se tydelike oorhoofse skoolbestuurder, is Jurie Geldenhuys, hoof van Grey Primêr, deur die eerste rugbyspan skouerhoog opgetel en deur die seuns toegejuig.

Voorts verskil die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), namens Scheepers, en die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), wat die beheerliggaam bystaan, heftig oor die regmatigheid van die beheerliggaam se ingryping.

Een mening is selfs dat die Grey-geval kan ontwikkel in ’n geregtelike proefsaak oor wat die aanspreeklikhede van die beheerraad ingevolge die Skolewet is; of hy gemagtig is om wel op te tree teen die skoolhoof, en, indien wel, wat die regmatige proses dan sou wees.

Deon Scheepers. Foto: Mlungisi Louw

Dit is nou ook bekend 17 deelnemende lede van die beheerraad het Dinsdagaand met stembriefies ’n meerderheidsbesluit geneem dat Scheepers van sy gedelegeerde pligte ontneem word, maar dat hy as ’n amptenaar van die Vrystaatse onderwysdepartement aanbly as skoolhoof, met aanspreeklikheid vir die akademie. Geldenhuys is tydelik as oorhoofse skoolbestuurder aangestel.

Scheepers, wat die vergadering as ’n lid van die beheerliggaam bygewoon het, het homself daarna verskoon.

Hy het Donderdag gesê hy win die afgelope dae regsadvies in en was nie by die skool nie.

Hannes Peyper, prokureur, het bevestig hy tree namens Scheepers op om die “gewraakte besluite” van die beheerraad te laat herroep. Hy het ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting die beheerraad tot Donderdag laat kans gegee om dokumente oor die besluit te verskaf, en sy redes teen Vrydag.

“Indien dit nie gebeur nie, sal ’n hofaansoek beslis volgende week volg,” sê Peyper.

Henry Büchner, voorsitter van die beheerraad, het namens die beheerraad gesê weens die regstryd kan hy nie kommentaar lewer nie.

“Die volle, feitelike waarheid sal in die hof ontvou.”

Reniël Lodewyk, Vrystaatse sekretaris van die SAOU, het die besluit van die beheerraad “by een van die land se spogskole” as skokkend bestempel.

Volgens hom skep dit ’n bose kringloop deurdat ander skole dit kan navolg, terwyl die skoolhoofpligte ingevolge die Skolewet onskeibaar is.

“Hoe kan daar twee skoolhoofde wees? X kan nie oor finansies en Y oor onderwyssake besluit nie. Dis ’n resep vir chaos.”

Jaco Deacon, uitvoerende adjunkhoof van Fedsas, sê Fedsas steun die beheerliggaam in die uitoefening van sy statutêre aanspreeklikheid. Dat dit nie ’n ideale situasie is nie, is te wyte aan die vertrouensbreuk.

By die sangsessie vroeg Donderdag met die oog op die naweek se Grey-stryd met die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria, het WJ Steenkamp, rugbykaptein, Geldenhuys nader gewink. Herman Agenbag, stut, en ander spelers het Geldenhuys skouerhoog opgetel terwyl die seuns hom toegejuig het.

Geldenhuys het daarna die saalperiode met skriflesing – met Spreuke 1:7 dat “kennis begin met die dien van die Here” as teks – en gebed geopen. Daarna het die personeel die saal verlaat en hy het die seuns alleen toegespreek.

Op sy vraag aan die seuns wie die grootste leier ooit was, het hulle spontaan “Jesus Christus” geantwoord, het hy later Donderdag gesê. Sy boodskap was dat hy eerstens hier is om hulle (die seuns) te dien.

Nadat die skoollied gesing is, het Geldenhuys en Lappies Labuschagné, ’n oud-Grey wat vir die Cheetahs en Haaie flank gespeel het, saam met die seuns in ’n sirkel aan die “War cry” deelgeneem. Labuschagné was die spreker.

Geldenhuys het teenoor Netwerk24 benadruk dat hy steeds hoof van Grey Primêr is, met die bykomende aanspreeklikheid vir die skoolaktiwiteite van die hoërskool. Scheepers bly hoof van Grey Sekondêr met akademiese aanspreeklikheid.

Meer oor:  Grey  |  Jurie Geldenhuys  |  Deon Scheepers  |  Bloemfontein  |  Hofstryd
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.