Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
SAOU teen plan om dié leerlinge net deur te sit

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) staan die nasionale onderwysdepartement se planne teen om dit onmoontlik te maak vir leerlinge in die grondslagfase om ’n jaar te herhaal.

Chris Klopper, hoof van die SAOU, sê in ’n verklaring Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het onlangs weer haar planne beaam dat leerlinge in gr. 1, 2 en 3 outomaties na die volgende graad deurgesit moet word en nie teruggehou moet word nie.

“In ’n antwoord op ’n skriftelike parlementêre vraag van dr. Wynand Boshoff, VF Plus-parlementslid, het Motshekga haar omstrede mening dat leerlinge in die grondslagfase outomaties deurgesit moet word en nie moet druip nie, herhaal,” lui die verklaring.

Dit kom nadat Motshekga vroeër in haar departement se begrotingsrede gesê het dat verskeie kenners van mening is dat dit op ’n opvoedkundige vlak geen sin maak om kinders tussen ses en tien jaar ’n graad te laat herhaal nie.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys. Foto: Joshua Sebola

“Volgens die kenners put die kinders absoluut geen voordeel daaruit om ’n graad te herhaal nie. Inteendeel is die herhaling van ’n graad ’n sterk teken van mislukking vir baie leerlinge, iets wat lewenslank by dié individu bly,” het Motshekga vroeër gesê.

Volgens die SAOU geld dié outomatiese vordering nie tans nie, maar sê die onderwysdepartement is reeds besig met planne om dit in die grondslagfase in te stel.

“Leerlinge se agterstande gaan gewis nie aangespreek of verbeter word indien hulle vinniger deur ’n spreekwoordelike drukgang gejaag word nie,” sê Klopper in die verklaring.

Prof. Kobus Maree, ’n opvoedkundige sielkundige aan die Universiteit van Pretoria (UP), het Dinsdag by navraag gesê leerlinge wat bevorder word ten spyte daarvan dat hulle bepaalde beginsels nie bemeester het nie, sukkel dikwels uitermate in die daaropvolgende jare.

“Ek stem saam dat dit nie vir ’n leerling lekker is om ’n graad te herhaal nie, maar hoe ons as volwassenes en hoe hul maats optree, bepaal in ’n groot mate hoe leerlinge die herhaling van ’n graad beleef.”

Prof. Elda de Waal, navorsingsprofessor in die veld van openbare skole aan die Noordwes-Universiteit (NWU), sê sy deel Motshekga se kommer oor die hantering van leerlinge wat in laer grade teruggehou word.

De Waal sê sommige skole fokus daarop om hul rekords skoon te hou in plaas daarvan om leerlinge wat werklik sukkel, te help.

Sy sê onderwysers moet eerder pogings aanwend om leerlinge wat nie so vinnig soos ander vorder nie, te help.

“Daar moet spesifieke ingrypings en strategieë wees om leerlinge te help, eerder as om hulle net uit die stelsel te werk.”

De Waal sê Motshekga neem dringende en ingrypende aksie omdat sy weet hoe sommige skole swakker leerlinge uit die skolestelsel uitwerk.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die nasionale onderwysdepartement, het Dinsdag by navraag bevestig die minister wil die vereistes vir bevordering in die grondslagfase hersien om die stelsel doeltreffend te maak.

“Om leerlinge ’n graad te laat herhaal het geen voordele nie. Wat benodig word is ondersteuning vir die leerlinge om deur te kom sonder dat hulle grade hoef te herhaal,” sê Mhlanga.

Meer oor:  Chris Klopper  |  Onderwys  |  Onderwysdepartement  |  Saou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.