Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
'Satan se kuns': Seun is getraumatiseer

Die matriekseun wie se kunswerke vir die eindeksamen die afgelope week as satanisties veroordeel is, is geweldig getraumatiseer nadat hy gesien het hoe mense hom onder meer dood wens en dreig om sy skool aan die brand te steek, sê sy ma.

Een van die omstrede kunswerke

Selfs die sekretaresse van die Grantleigh Curro-skool in Richardsbaai was tot trane gedryf deur mense wat aanhoudend gebel en haar en die skool geskel en beledig het.

Die herrie het losgebars nadat pastoor Andrew Anderson, wat ook kinders in dié skool het, in ’n baie emosionele video op sosiale media teen dié uitstalling te velde getrek het.

In sommige van die sketse wat op sy video gesien kan word, word Jesus uitgebeeld as Ronald McDonald.

Vir oningeligtes kom dit dalk godslasterlik voor, maar dit is in werklikheid ’n kritiese blik op georganiseerde godsdiens.

Van die ander figure is volgens Anderson uitbeeldings van “demone en demoniese magte”.

Daar is ook ’n decoupage-werk wat met opgeskeurde Bybelbladsye bedek is.

Anderson vra mense om die video te deel om standpunt in te neem teen die kunswerke.

Die kunstenaar het verskeie toekennings by die skool se prysuitdeling ontvang.

Maar Anderson sê dit laat hom voel asof hy in die skare staan en juig – terwyl “ons Jesus wéér kruisig”.

Van die omstrede kunswerke.

Die seun wat die kuns geskep het, is nou besig met sy matriek-eindeksamen en wou nie met Rapport praat nie.

Hy het egter in ’n verklaring verduidelik dat sy kunswerke “die kommersialisering van kontemporêre georganiseerde godsdiens verken” asook “die geldelike uitbuiting van gelowiges deur geldgierige individue wat agter die dekmantel van die kerk of soortgelyke vroom instellings skuil”.

Hy sê hy wou met sy werk deur die gebruik van godsdienstige beelde praat oor hoe hedendaagse godsdiens oppervlakkig geraak het.

“Pleks daarvan om op ’n diep en betekenisvolle vlak met hul geloof om te gaan en die moed te hê om metafisiese vrae te vra, verbruik baie mense hul godsdiens op dieselfde manier as enige ander produk (vandaar die gebruik van Ronald McDonald as simbool vir dié verbruikerskultuur).”

Sy ma sê haar kind het niks verkeerd gedoen nie.

Sy ma sê haar kind het niks verkeerd gedoen nie en dat sy werke uit verband geruk is deur “oningeligte” mense.

“Hulle beoordeel ongelukkig die kunswerk op sigwaarde.

“Vir oningeligtes kom dit dalk godslasterlik voor, maar dit is in werklikheid ’n kritiese blik op georganiseerde godsdiens,” sê sy.

Sy sê Anderson was moedswillig.

Matrieks se kunswerke vir die eksamen moet ingevolge die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) se voorskrifte uitgestal word, maar in dié geval is haar seun se kunswerke agter ’n gordyn, in ’n hoek afgesonder met ’n waarskuwing dat dit mense kan ontstel.

Een van die kunswerke.

Kinders is ook nie toegelaat nie en mense is gevra om nie foto’s of video’s daarvan te neem nie.

“Die eksamenraad se instruksies is eenvoudig geïgnoreer,” sê sy.

Die ma sê wat gevolg het, is niks anders as kuberteistering nie.

Sy het egter geen plan om Anderson daaroor te konfronteer nie.

“Wat my seun betref, sê ons vir hom om sy kop hoog te hou.

“Hy is ’n ongelooflik talentvolle en volwasse kind en ons is baie trots op hom en sy prestasies.

“Hy verdien nie al hierdie negatiewe aandag nie.”

Andrew Anderson, ’n ouer en ’n plaaslike pastoor.

Hulle is self Christene en het die seun na Grantleigh gestuur omdat dit ’n skool is wat Christelike waardes ondersteun, sê sy.

Sy sê sy is teleurgesteld met die skool se hantering van die saak.

Die skool het in ’n verklaring om verskoning gevra.

Die skool sê hy het sy plig versuim om leiding en sorg aan die leerling te gee om die implikasies van sy werk te oorweeg.

Die werk is reeds deur die eksamenraad aanvaar en geëvalueer.

Intussen het leerlinge van die skool berading gekry.

Party van hulle is nou bang dat hulle aangeval gaan word en dat die skool afgebrand gaan word, sê Jason Currie, ’n plaaslike pastoor wat ook met die berading gehelp het.

Dit kom nadat Anderson in die video gewaarsku het dat die uitstalling “demoniese magte in die skool inbring” en mense genooi het om daarteen te betoog.

“Ons het net twee weke gelede gewelddadige betogings in Richardsbaai gehad. Mense se ledemate is toe in xenofobiese aanvalle met pangas afgekap.

“Wanneer ons kinders dus die woord betoog hoor, verstaan hulle dit as chaos, verwoesting en dat hulle aangeval gaan word,” sê Currie.

Anderson het aan Rapport gesê hy voel hy het geen keuse as om op te tree as daar ’n bespotting van sy godsdiens gemaak word nie.

“Wat ek met my oë gesien het, het vir my ’n storie vertel.

“Daar was Bybel-bladsye wat opgeskeur was.

“Dit is godslasterlik.

“Ek het daarom die reg om te vra dat dit verwyder word,” sê hy.

Hy sê hy verkwalik nie die seun wat die kuns gemaak het nie, maar die stelsel wat hom toegelaat het om dit uit te stal.

Hy is tevrede met die skool se verskoning, sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.