Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Saus dreig met verdere kampussluitings

Die Suid-Afrikaanse Unie vir Studente (Saus) sê hulle sal nie hul pogings laat vaar om die land se 26 openbare universiteite te sluit nie.

Thabo Shingange, woordvoerder van Saus, het Dinsdag gesê dat met betogings wat Maandag by die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN), Unisa se Durban-kampus, die Fort Hare-Universiteit in Oos-Londen en die Sentrale Universiteit van Tegnologie in die Vrystaat begin het, kan nog protesaksie die week verwag word.

Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, wetenskap en tegnologie. Foto: Nico Gous

“Die sluitings gaan môre voort. Die minister (van hoër onderwys, wetenskap en tegnologie, dr. Blade Nzimande) het in gebreke gebly om in goedertrou op te tree en dit het ’n dooipunt tot gevolg gehad,” het Shingange gesê.

Saus het langer as ’n week gelede ’n lys met 15 eise aan Nzimande gestuur van kwessies wat verband hou met studentebefondsing, -akkommodasie en veiligheid.

Die studenteorganisasie het ook geëis dat alle studente met historiese skuld toegelaat moet word om by alle universiteite te registreer en dat die departement alle historiese skuld moet laat vaar.

Nzimande het in sy reaksie onlangs in ’n verklaring gesê dat baie van die kwessies wat die unie ophaal, die aandag van sy ministerie geniet.

Sondag het Ndzimande ’n reaksie op Twitter geplaas op al 15 die eise.

“Ek hoop dat die kanale van wisselwerking tussen die verteenwoordigende studenterade, universiteite en die departement oop genoeg is om voortgesette betrokkenheid op die medium- en langertermynkwessies sowel as enige dringende kwessies toe te laat,” het Nzimande gesê.

Ishmael Mnisi, Nzimande se woordvoerder het ’n beroep op studente wat met die betogings besig is, gedoen om daarmee op te hou omdat die minister besig is om aandag aan hul griewe te gee.

“Ons doen ’n beroep op studente om op te hou betoog. Die kwessies waaroor hulle betoog, daardie is die kwessies waaroor ons antwoorde gegee het. Daar behoort geen rede te wees vir sluitings nie. Die deure vir onderhandeling is nie toe nie,” het Mnisi gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.