SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Onderwys
EKSKLUSIEF: Geskorste juffrou: Dit was nie haar klas

Netwerk24 berig uit Schweizer-Reneke soos wat die nuus ontvou. Vir die jongste nuus, verfris die blad en rol af na onder.


 

10:28

Hoewel die Laerskool Schweizer-Reneke in Noordwes Vrydag oop is, het die meerderheid van die ouers nie hul kinders skool toe gestuur nie weens kommer oor hul veiligheid.

schweizer
Jozeph du Plessis, voorsitter van die beheerliggaam by die Laerskool Schweizer-Reneke waar daar tans 'n rasseherrie heers. Foto: Deaan Vivier

Jozeph du Plessis, voorsitter van die skoolbeheerliggaam, sê net sowat 70 van die skool se meer as 300 leerlinge het opgedaag.

"Die ouers is bekommerd oor die kinders se veiligheid en hou die situasie dop," sê Du Plessis.

Die skool se personeel is egter op hul pos. Besorgde ouers het tydens Donderdag se betoging by die skool hul kinders deur 'n palissadeheining van die skool se terrein af gekry.

Dit kom nadat 'n rasseherrie ontstaan het oor 'n foto wat op sosiale media geplaas waarop gesien kan word dat die swart en wit kinders van 'n gr. R-klas van mekaar geskei is.

Volgens Du Plessis oorweeg die skool dit tans om 'n private veiligheidsdiens aan te stel. 'n Onderwyseres van die skool is Donderdag hangende 'n ondersoek in verband met die voorval geskors.


10:54

schweizer
Die skoolsaal naby die hoofingang van die Laerskool Schweizer-Reneke. Net sowat 40 leerders het vandag opgedaag omdat ouers in massas te bang was vir die veiligheid van hul kinders. Foto: Deaan Vivier


11:03

schweizer
Carla Lyon, provinsiale sekretaris van die SAOU daag saam met Johan Kruger, bedryfsdirekteur van SAOU by die Laerskool Schweizer-Reneke op vir 'n vergadering. Foto: Deaan Vivier


11:43

Juffrou vlug uit vrees

Die onderwyseres wat geskors is weens die Schweizer-Reneke-foto wat ‘n rasseherrie veroorsaak het, is erg getraumatiseerd en het vir haar eie veiligheid vir eers die dorp verlaat, berig Charles Smith.

’n Vriend van haar en pa van een van die kinders in die klas sê sy en haar gesin het te midde van al die bohaai vir eers na ‘n ander bestemming vertrek.

Die ouers is baie ontsteld omdat sy weens politieke redes gebrandmerk is, maar sy is heeltemal onskuldig. 

“Sy het niks met die bohaai te doen nie. Dit is nie eens haar klaskamer nie. Sy het net die foto’s geneem om vir die ouers te stuur.”

Die pa sê die onderwyseres in beheer van die betrokke klas is ‘n uitstekende leerkrag wat juis baie moeite met die kinders doen.

“Die hele ding word uit verband geruk om sekere politieke persepsies te pas. Dit het niks met apartheid te doen nie. Die kinders is vir die oomblik eenkant geplaas omdat hulle nie Afrikaans of Engels magtig is nie sodat sy spesiale aandag aan hulle kan gee.

“Die kinders kry elke jaar die beste onderrig denkbaar. Aan die einde van die jaar kan daardie kinders Afrikaans en Engels praat en is volledig ingeskakel by die skool en Suid-Afrika. Is dit nou apartheid?"

Die pa sê hulle gaan ondanks ‘n beroep dat die kinders teruggestuur word skool toe, dit weens veiligheidsredes nie doen nie. Hulle sal teen Dinsdag kyk wat die situasie is. Hy is ook omgekrap omdat die beheerliggaam nie die moeite gedoen het om aan die poltici te verduidelik dat die geskorste onderwyseres onskuldig is nie.


13:38

Dit was nie geskorste juffrou se klas

Die geskorste onderwyseres van Schweizer-Reneke is ingelig dat sy haar pos moet ontruim – selfs al was 'n foto wat 'n rasseherrie ontketen het, nie in haar klaskamer geneem nie.

Freddy Sepeng, woordvoerder van die departement, het dit Vrydag aan Christiaan du Plessis bevestig.

Die foto wys hoe swart en wit kinders apart sit.

"Sy is geskors op gronde daarvan dat sy die foto geneem en aangestuur het. Sy moes weet dat wat sy gesien het verkeerd was," het Sepeng gesê.

Die onderwyseres het 'n beheerliggaamspos, en die skoolbeheerliggaam het Donderdag met die departement ooreengekom om haar te skors. 

Die klas waar die foto geneem is, is die klas van 'n ander gr. R-onderwyseres.

"Ons ondersoek nog die beweringe teen die klasonderwyser wat glo die kinders apart laat sit het," sê Sepeng.

Die verslag oor die ondersoek sal na verwagting teen Maandag aan Sello Lehari, LUR vir onderwys en sportontwikkeling, oorhandig word.

Die geskorste onderwyseres moes vanoggend uit die dorp vlug uit vrees vir haar lewe.


 

14:51

Schweizer
'n Advertensiebord buite die Laerskool Schweizer-Reneke. Foto: Deaan Vivier


 

3:10

Gemeenskap nou skrikkerig om te praat

Baie gemeenskapslede in Schweizer-Reneke bly kwaad nadat ’n foto op sosiale media verskyn het wat wys hoe swart en wit leerlinge apart sit.

Die foto is in ’n gr. R-klas van die Laerskool Schweizer-Reneke geneem. Netwerk24 het met verskeie gemeenskapslede in die eens rustige plattelandse dorp gepraat, waar die foto sedertdien ’n rassestorm ontketen het. 

Almal wou anoniem bly. “Sê jy iets, dan word dit uit verband uit geruk. Môre kom mense ook na jou toe en vra hoekom jy dit vir die koerante gesê het,” het ’n vrou gesê. 

“Ons wil nie eintlik praat nie, want ons wil hê dinge moet weer rustig raak. Ons wil nie nog meer moeilikheid veroorsaak nie,” sê sy.

Nog ’n gemeenskapslid sê die gemeenskap wonder of daar nie dalk meer agter die foto skuil nie. 

“Dit maak ’n mens bekommerd, want die kinders is klein. Jy wil hulle leer om verdraagsaam te wees teenoor mekaar wanneer hulle klein is,” sê hy. Volgens dié gemeenskapslid bly dit sleg dat daar landswyd oor die skool berig word. Hy het gesien hoe sy dorp se naam byna oral op sosiale media verskyn.

“Ek dink dit is reg dat die skool onder die soeklig geplaas word, en dat die departement reg was om teen ’n onderwyser by die skool op te tree. Die ondersoek moet bepaal of sy skuldig is,” sê hy. 

’n Ander man het weer gesê die hele voorval word uit verband uit geruk. “Dit blaas onnodig rassehaat in ons dorp aan. Ek wil graag hê dat ons dorp net moet terugkeer na soos dit was voor die foto geneem is,” sê hy.


4:22

Lees die oorsig "

Nog ’n juffrou van Schweizer dalk geskors" hier.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.