Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Schweizer: Departement sien ook nie kans vir hof

Noordwes se onderwysdepartement gaan nie meer Solidariteit se dringende aansoek in die arbeidshof teenstaan dat die skorsing van Elana Barkhuizen, ’n onderwyseres van die Laerskool Schweizer-Reneke, onwettig was nie.

Die departement het Woensdag kennis gegee dat hy sy aanvanklike voorneme om dié aansoek teen te staan, terugtrek.

Elana Barkhuizen
Elana Barkhuizen. Foto: Deaan Vivier

Die beheerliggaam van die skool in Noordwes waar Barkhuizen geskors is, gaan ook nie die aansoek teenstaan nie.

Solidariteit bring Donderdag om 10:00 die dringende aansoek in die arbeidshof in Johannesburg om Barkhuizen se skorsing in Januarie ter syde te laat stel sodat sy heraangestel kan word.

Die skool se beheerliggaam het haar aangestel, maar met volle salaris geskors toe sy in ’n rasseherrie beland het oor ’n foto wat op die eerste skooldag geneem is.

Jozeph du Plessis, voorsitter van die skool se beheerliggaam, het vroeër gesê die beheerliggaam het haar in samewerking met die provinsie se onderwysdepartement geskors.

Solidariteit meen haar skorsing was onwettig omdat sy nie, soos arbeidswetgewing vereis, vooraf in kennis gestel is van die voorneme om haar te skors of geleentheid gegee is om redes aan te voer hoekom sy nie geskors moet word nie.

Du Plessis het Woensdag gesê die beheerliggaam gaan die aansoek Donderdag nie teenstaan nie en sal berus by die hof se besluit.

Die skorsingsdebakel het ontstaan nadat ’n foto wat Barkhuizen op die eerste skooldag van die jaar in die klas van haar kollega Elsabé Olivier geneem het, wyd op sosiale media gedeel is.

Swart en wit gr. R-leerlinge sit op dié foto apart. Barkhuizen sê in haar beëdigde verklaring kinders wat nie Afrikaans kan verstaan nie, word aanvanklik aan die begin van die skooljaar tydens formele onderrig apart geplaas sodat ’n tolk spesiale aandag aan hulle kan gee.

Ander foto’s in Solidariteit se hofstukke wys hoe die swart en wit kinders op ander tye van dieselfde dag geïntegreerd speel en in die klaskamers sit.

  • Hou Netwerk24 dop vir meer.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.