Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Schweizer: Elana gaan huis toe

Elana Barkhuizen het Vrydag die eerste keer sedert die rasseherrie uitgebreek het oor ’n foto wat sy geneem het, na haar tuisdorp Schweizer-Reneke in Noordwes teruggekeer.

’n Verligte Elana Barkhuizen Donderdag nadat die arbeidshof in Johannesburg in haar guns beslis het.Foto: DEAAN VIVIER

Dié gr. R-onderwyser by die Laerskool Schweizer-Reneke het Donderdag ’n oorwinning behaal toe die arbeidshof beslis het haar skorsing is onwettig en sy kan terugkeer skool toe.

Sy gaan ná die bohaai eers verlof neem en sal later weer voor haar klas staan.

Barkhuizen het die omstrede foto van swart en wit kinders wat op die eerste skooldag apart in ’n gr. R-klas gesit het, geneem. Nadat oproer uitgebreek het en die skool landwyd as rassisties gebrandmerk is, het die skoolbeheerliggaam haar die volgende dag in samewerking met Noordwes se onderwysdepartement geskors.

Barkhuizen het Vrydag voor die Suid-Afrikaanse Raad van Opvoeders (SACE) se etiese komitee verskyn oor bewerings van onprofessionele gedrag oor die gewraakte foto.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die vakbond Solidariteit, wat Barkhuizen verteenwoordig, het Vrydagmiddag gesê hulle is baie tevrede met die verloop van die ondervraging. “Ons is oortuig daarvan ons het genoeg gedoen om te bewys enige verdere optrede teen Elana sal onregverdig en onbillik wees, en grens aan kwaadwilligheid. Ons standpunt is presies dit wat regter Connie Prinsloo in die arbeidshof bevind het: ‘Moenie rassisme soek waar dit nie bestaan nie.’ ”

Hermann sê Barkhuizen is deur “ ’n boendoehof” skuldig bevind en deur ’n wettige hof onskuldig bevind. “Sy moet nou uitgelos word sodat haar lewe weer kan normaliseer. Elana wil by haar man wees en weer begin skoolhou.”

Barkhuizen en haar twee laerskoolkinders het die dorp uit vrees vir hul veiligheid verlaat nadat die herrie en oproer oor die foto uitgebreek het. Haar eie kinders kon in dié tyd nie skoolgaan nie.

Sy moet nou uitgelos word sodat haar lewe weer kan normaliseer. Elana wil by haar man wees en weer begin skoolhou.

Dis onseker wanneer Barkhuizen terugvoer van SACE sal kry. SACE is ’n professionele liggaam waar alle onderwysers geregistreer moet wees om te kan skoolhou. Hermann sê die raad het dus die bevoegdheid om onderwysers as lede te skors wanneer hul lede nie aan die etiese vereistes voldoen nie. Indien dit gebeur, hou dit verreikende gevolge in omdat die onderwyser dan nie meer kan skoolhou nie.

Daar was Vrydag geen oproer by die skool ná die hofbeslissing Donderdag nie.

Die parlementêre portefeuljekomitee oor basiese onderwys sou die skool Vrydag besoek, maar daarvan het niks gekom nie omdat die komitee met Sello Lehari, LUR vir onderwys in Noordwes, vergader het oor verskeie kwessies by skole in die provinsie.

Dit is nie seker wanneer die Noordwes-onderwysdepartement se ondersoek na die foto afgehandel sal wees nie. Lehari het vroeër te kenne gegee nóg twee personeellede kan geskors word weens die foto-debakel, maar nie name bekend gemaak nie.

* Barkhuizen het die gewraakte foto wat in Elsabé Olivier se klas geneem is, op ’n geslote WhatsApp-groepie gedeel. ’n Ouer wat gegrief was oor skoolgeld, het dit na bewering verder op sosiale media versprei. Netwerk24 het die ouer gebel, maar die foon is doodgedruk nadat die joernalis haarself geïdentifiseer het. Dit was daarna aanhoudend beset.

McGluwa verwelkom hofbeslissing

Joe McGluwa, die DA-leier in Noordwes, het die hofbeslissing dat Barkhuizen se skorsing onwettig was, verwelkom. “Ons moet waak teen populistiese politieke retoriek wat mense volgens ras verdeel.”

Luyolo Mphithi, die DA se nasionale jeugleier, kry die wind van voor omdat hy die foto versprei het sonder om die kinders se gesigte te verbloem, en te velde getrek het daaroor.

Mmusi Maimane, die DA-leier, het agterna gesê Mphithi is ook ’n “slagoffer” van die sage nadat hy “oneerlik ingetrek is by die EFF en ANC se optrede, terwyl hy eintlik net antwoorde gesoek het”.

Athol Trollip, die DA se federale voorsitter, het Maandag in ’n skrywe aan DA-takke gesê Mphithi het niemand ’n rassis genoem nie, maar bloot gereageer op ’n foto wat nie die “waardes van eenheid” wat die DA nastreef, weerspieël het nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.