Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Schweizer: Gemoedere loop hoog agter geslote deure

Gemoedere het Maandag glo hoog geloop agter geslote deure waar die Menseregtekommissie (MRK) met die Laerskool Schweizer-Reneke in Noordwes se beheerliggaam vergader het.

Só het Chris Klopper, bestuurshoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), laat Maandagoggend gesê nadat Noordwes se onderwysdepartement amptelik begin het met sy ondersoek na beweerde rassisme by dié laerskool.

’n Rasseherrie woed sedert verlede Woensdag by die skool nadat ’n foto op sosiale media versprei is waarop wit en swart gr. R-leerlinge by aparte tafels sit.

Oproer die volgende dag by die skool het daartoe gelei dat ouers gebel is om hul kinders te kom haal.

Die situasie by die skool sal nog hierdie week normaliseer sodat die kinders kan terugkeer.

Gopolang Valtyn, die Noordwes-onderwysdepartement se subdistriksbestuurder in die Schweizer-Reneke-omgewing, sê die ondersoek na die beweerde rassisme kan tot drie maande duur.

“Die situasie by die skool sal nog hierdie week normaliseer sodat die kinders kan terugkeer.”

Daar was Maandagoggend geen oproer by die skool nie, maar toegangsbeheer is as ’n voorsorgmaatreël toegepas.

’n Private veiligheidsmaatskappy was op die skoolterrein en mans, onder wie lede van die skool se beheerliggaam, het die hekke bewaak.

Van hulle was aanvanklik gewapen.

Net sowat 60 van die 350  leerlinge in die skool het Maandag opgedaag omdat hul ouers verdere oproer vrees.

Dit het tot gevolg dat onderrig nie soos normaalweg kan voortgaan nie.

Een van die ouers, Amanda Naudé, sê dit is vir hulle baie sleg en dat die situasie met die foto “uit verband geruk word”.

“Dis nie verkeerd dat iemand oor die foto gekla het nie, maar nou word die kinders benadeel omdat hulle nie in ’n veilige omgewing kan skoolgaan nie. Ons hou ons kinders ook uit die skool uit vrees vir onrus.”

Adv. André Gaum, kommissaris by die MRK verantwoordelik vir die reg tot onderwys, het die gemeenskap, ouers, leerlinge en onderwysers Maandag gevra om koelkop te bly en die ondersoek ’n billike kans te gee.

“Net soos sterk opgetree moet word teen bewese rassisme, mag niemand sonder die nodige feitelike ondersteuning as rassiste gebrandmerk word nie. Die MRK ondersoek die saak onafhanklik en onpartydig, ons loop nie dinge vooruit nie.”

Volgens Gaum is die MRK deel van ’n taakspan vir transformasie wat die onderwysdepartement saamgestel het om die skool te ondersoek. Onder meer arbeidsregtelike kwessies oor die hantering van die betrokke onderwysers sal ondersoek word.

Die onderwysdepartement moes lankal ingegryp het, die skool is nie getransformeer nie.

Elana Barkhuizen wat die gewraakte foto in Elsabé Olivier se se gr. R-klas geneem het, is geskors hangende die ondersoek.

Olivier is nog nie geskors nie, terwyl die departement ondersoek hoekom die kinders apart gesit het. Dis glo gedoen omdat die swart kinders nie Afrikaans of Engels kan praat nie en hulle apart aandag gekry het met die hulp van ’n tolk.

Gaum sê die MRK ondersoek ook of onderwysers se regte geskend is, die skool se taalbeleid en of die skool ’n teenrassistiese beleid het wat toegepas word.

“Ons is veral bekommerd dat so min kinders nou skoolgaan en hul reg tot basiese onderwys geskend word. Ons doen ’n beroep op almal om grondwetlike voorskrifte in enige protesoptrede te volg.”

Valtyn van die onderwysdepartement het die gewapende mans Maandaoggend beveel om hul wapens van die terrein te verwyder omdat skole wapenvrye gebiede is.

Gaum sê ook wapens traumatiseer kinders verder en dat dit nie in hul beste belang is om gewapende mense binne die skoolterrein te sien nie.

Lede van die SAKP het later die oggend by die skool opgedaag. Hulle is ontevrede omdat daar glo te veel wit kinders en personeel by die skool is.

“Die onderwysdepartement moes lankal toegesien het dat daar meer swart kinders, onderwysers en personeel is,” sê Sandile Kgosieng, een van die lede.

“Die onderwysdepartement moes lankal ingegryp het, die skool is nie getransformeer nie.”

Klopper van SAOU sê “al wat ’n swart leerling is” probeer nou by die laerskool inskryf – “tot so oud as 17 jaar”.

“Dis vermoedelik om hul saak van beweerde diskriminasie by die MRK te versterk.”

Regslui

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) en die laerskool se beheerliggaam is ook teenwoordig tydens die ondersoek. SAOU verteenwoordig onderwysers by die skool om seker te maak hulle word nie geviktimiseer of geïntimideer nie.

Donald Phango, hoofopvoedingspesialis in beheer van arbeidsverhoudinge by Noordwes se onderwysdepartement, verteenwoordig die departement in die ondersoek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.