Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Schweizer-herrie: Hoekom bekyk DA sy optrede nou eers?

Dis vir die Schweizer-Reneke-onderwyseres om wie se kop daar in Januarie ’n rasherrie losgebars het, vreemd dat die DA nóú eers sy reaksie op die voorval ondersoek.

Elana Barkhuizen vroeër vanjaar in haar huis in Schweizer-Reneke.
Elana Barkhuizen vroeër vanjaar in haar tuin in Schweizer-Reneke.

Elana Barkhuizen sê “selfs nadat die (arbeids)hof bevind het my optrede was nie rassisties nie en dat my (tydelike) skorsing by die laerskool onregmatig was, het die DA en die onderwysdepartement geswyg”.

“Niemand het toe gesê hulle is jammer oor wat hulle aan my, die skool en die dorp gedoen het met hul oorreaksie nie. Ek verwelkom egter die ondersoek nou in die hoop dat dit herstel sal bring ná die DA se skadelike uitlatings.”

Die herrie het ontstaan toe ’n foto wat sy geneem het van ’n gr. R-klas waar wit en swart kinders apart sit, wyd op sosiale media gedeel en as rassisties veroordeel is nog voordat die konteks bekend was.

Ook Luyolo Mphithi, die DA se jeugleier, het dadelik in ’n twiet gesuggereer dit is rassisties. Later het dit egter geblyk die kinders het bloot op die eerste skooldag apart gesit sodat daar vir die Tswanasprekende kinders in die Afrikaansmediumskool getolk kan word totdat hulle Afrikaans beter verstaan.

Mmusi Maimane, DA-leier, het destyds vir Mphithi geskerm en gesê hy is ook ’n “slagoffer” van die sage nadat hy “oneerlik ingetrek is by die EFF en die ANC se optrede, terwyl hy eintlik net antwoorde gesoek het”.

Ook Athol Trollip, die DA se federale voorsitter, het gesê Mphithi het niemand ’n rassis genoem nie, maar bloot gereageer op ’n foto wat nie die “waardes van eenheid” wat die DA nastreef, weerspieël het nie.

Barkhuizen het Dinsdag gesê dit gaan nou goed met haar, haar kinders en haar man. Hoewel dinge by die skool na normaal teruggekeer het, “hang die wolk van die gebeure” steeds oor haar kop.

Solly Malatsi, DA-woordvoerder, het Dinsdag bevestig Refiloe Nt’sekhe, adjunkvoorsitter van die DA se federale raad, sal die ondersoek na die Schweizer-debakel lei. “Ander voorvalle wat rasverdeling uitgebuit het, sal ook ondersoek word.”

Die hantering van die Schweizer-geval het gewys die DA se interne kommunikasie oor die hantering van sulke gebeure moet verbeter, en dat party-verteenwoordigers nie meer net op gebeure kan reageer sonder om hulself van die feite te vergewis nie.

Solidariteit, wat Barkhuizen deurgaans ondersteun en ook haar sege in die hof gelei het, het die DA se ondersoek verwelkom. “Ons sit met ’n uiters gepolariseerde samelewing waar mense deur populistiese retoriek opgesweep word sonder dat diegene wat dit aanvoer hulself van die feite vergewis,” sê Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se regsdienste, in ’n mediaverklaring. “Die konteks van ’n situasie moet in ag geneem word voordat dit as rassisme uitgemaak word.”

Theo Venter, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se sakeskool, het Dinsdag gesê die DA se destydse hantering van die gebeure in Schweizer-Reneke is simbolies van hoe ver die party uit voeling met kiesers geraak het.

Dit was een van die gebeure wat waarskynlik gelei het tot ’n migrasie van kiesers uit die DA na die VF Plus. Die VF Plus se steun in Noordwes het met die nasionale verkiesing in Mei vanjaar tot 4% gestyg, vergeleke met sy 1,6% steun in 2014. Die VF Plus het ook hele Schweizer-Reneke-dorpsgebied verower.

Venter meen dis voor die hand liggend dat die DA se ondersoek na onder meer die Schweizer-gebeure saamval met die verkiesing van Helen Zille die afgelope naweek as die DA se federale voorsitter. “Dis ’n poging om verlore kiesers terug te wen. Die hantering van die Schweizer-geval het gewys die DA se interne kommunikasie oor die hantering van sulke gebeure moet verbeter, en dat party-verteenwoordigers nie meer net op gebeure kan reageer sonder om hulself van die feite te vergewis nie.”

Venter sê die groot vraag is of die DA se optrede nou, nadat die skade gedoen is, genoeg sal wees om sy reputasie te herstel.

Meer oor:  Da  |  Elana Barkhuizen  |  Schweizer-Reneke  |  Schweizer  |  Rasherrie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.