Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Schweizer: Juffrou Elana terug by skool

Dit is vir Elana Barkhuizen “oorweldigend lekker” om weer terug te wees in haar gr. R-klas by die Laerskool Schweizer-Reneke in Noordwes.

Sy het verlede Woensdag die eerste keer teruggekeer skool toe ná die rasseherrie oor ’n foto wat sy op die eerste skooldag van die jaar op ’n geslote WhatsApp-groep aan ouers gestuur het. Barkhuizen het die foto in ’n ander onderwyser se klas geneem. Dit wys dat swart en wit leerlinge apart in die klas sit. ’n Ouer – na bewering iemand wat gegrief was oor skoolgeld – het die foto op sosiale media versprei. Dit het tot oproer by die skool gelei en Barkhuizen is geskors.

Elana Barkhuizen in haar kombuis in haar huis in Schweizer-Reneke. Foto: Mia Slabbert

Sy het gesê die kinders het in daardie stadium apart gesit omdat die swart kinders nie Afrikaans verstaan nie en daar vir hulle in Tswana getolk is. Die kinders meng glo andersins en foto’s daarvan is ook versprei. Twee swart ouers het Barkhuizen se weergawe onafhanklik van mekaar aan Netwerk24 bevestig.

Die arbeidshof in Johannesburg het einde Januarie beslis haar skorsing deur die beheerliggaam en Noordwes se departement van onderwys is onwettig, onder meer omdat sy geskors is voordat sy kans gegun is om haar kant van die saak te stel. Sy kon onmiddellik terugkeer skool toe, maar het eers verlof geneem. Ná ’n vergadering verlede Dinsdag met die skool se beheerliggaam, het sy Woensdag teruggekeer werk toe.

“Dis heerlik om weer tussen die kinders te wees. Kinders in al die grade het my oorval met soene en drukkies, dis oorweldigend.”

Barkhuizen het op die mat met haar gr. R-klas gesit en vir hulle verduidelik sy moes ’n tydjie weggaan omdat sy geboelie is. “Elke keer as ek nou uit die klas gaan, vra hulle waarheen ek gaan, hoe lank ek weg gaan wees en of ek weer terugkom. Dan stel ek hulle gerus en sê ek gaan vyf minute personeelkamer toe of net gou vir ’n minuut badkamer toe.”

Barkhuizen sê sy is “so in die stilligheid” terug skool toe sonder ’n groot ophef, om moontlike verdere oproer te voorkom. “Die ouer kinders verstaan beter wat gebeur het. Hulle sê hul harte is seer oor hoe alles ontvou het. Ek is so dankbaar vir die baie leerlinge en mense in die plaaslike gemeenskap, asook mense van oor die land heen wat my ondersteun. Ek staan in verwondering. My lojaliteit lê nog altyd by die skool, my kollegas en die skool se beheerliggaam.”

Sy is egter nog onseker oor die pad vorentoe omdat haar gesprekvoering met die beheerliggaam nog nie afgehandel is nie.

Die spanning word vererger omdat nie die onderwysdepartement, die Menseregtekommissie (MRK) of die Suid-Afrikaanse raad vir onderwysers se ondersoek na die gebeure afgehandel is nie. “Ek hoor niks van hulle nie. Intussen fokus ek op die kinders.”

Adv. André Gaum, die MRK-kommissaris wat verantwoordelik is vir die reg tot onderwys, het Donderdag gesê die kommissie se ondersoek is reeds ver gevorder. Freddy Sepeng, woordvoerder van Noordwes se onderwysdepartement, sê die departement se ondersoek is feitlik afgehandel. “Sodra dit afgehandel is, sal ons ’n aankondiging maak en ’n mediakonferensie belê.”

Sello Lehari, LUR vir onderwys in Noordwes, het vroeër gesê nog personeellede kan moontlik geskors word wanneer die departement se ondersoek afgehandel is. Lehari het nie name genoem nie, maar Elsabé Olivier, die gr. R-onderwyseres in wie se klas die gewraakte foto geneem is, en Alwyn Henning, die skoolhoof, is moontlik in die visier. Henning en Olivier is departementele aanstellings.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.