SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Onderwys
Schweizer: Kinders op grond van taal geskei - skool

By die Laerskool Schweizer-Reneke, die spilpunt van ’n rasseherrie wat op sosiale media ontstaan het, het emosionele oomblikke hulle Donderdag afgespeel toe bekommerde ouers hul kinders deur ’n gat in ’n palisadeheining “gered” het.

Ouers is die oggend deur dié skool in Noordwes laat weet om hul kinders te kom haal weens betogers wat op die skool toegesak het.

’n Ouer leen sy selfoon vir ’n leerling van die Laerskool Schweizer-Reneke in Noordwes om haar ma te laat weet sy moet afgehaal word by die skool. Langs haar staan ’n maatjie in trane oor die chaos wat Donderdag by die skool geheers het. Foto: Christiaan du Plessis

Sommige van die ouers het met koeëlvaste baadjies opgedaag.

“Ons oorreageer nie. Dit gaan oor ons kinders se veiligheid,” het ’n ouer, wat anoniem wou bly, vertel.

’n Foto wat wys hoe wit en swart leerlinge in ’n gr. R-klas by die skool apart sit, is Woensdag wyd op sosiale media versprei. Dit het skerp kritiek uitgelok en daartoe gelei dat ’n groep betogers, in T-hemde van onder meer die ANC en die EFF, Donderdag vroegoggend die skoolterrein binnegedring het. Die skool het toe die ouers ontbied om hulle kinders te kom haal.

Van die kleiner kinders was in trane en te midde van die chaos het emosionele ouers uitgeroep na hulle kinders. Een meisie is deur ’n ouer bygestaan om haar ma op sy selfoon te bel terwyl ’n maatjie langs haar staan en huil.

Nadat die kinders by die skoolterrein uit is, het Sello Lehari, LUR vir onderwys en sportontwikkeling in Noordwes, betogers toegespreek.

Hy het onder luide toejuiging aangekondig dat ’n onderwyseres hangende ’n ondersoek oor die bewerings geskors is. Sy sal glo intussen betaling ontvang.

Ek het nie nou enige rede om die skoolhoof (Alwyn Henning) te skors nie. Ek behoort teen Maandag ’n beslissing oor die skoolhoof te maak wanneer ’n verslag oor die kwessie aan my gegee word.

“Ek het nie nou enige rede om die skoolhoof (Alwyn Henning) te skors nie. Ek behoort teen Maandag ’n beslissing oor die skoolhoof te maak wanneer ’n verslag oor die kwessie aan my gegee word,” het Lehari gesê.

Die skool beweer dat die leerlinge op grond van taal en nie ras nie, geskei is.

Jozeph du Plessis, skoolbeheerliggaamvoorsitter, sê die eerste dag van skool was dol en die onderwyseres het gespook om die kinders te kalmeer.

“Deur hulle aanvanklik in taalverband te laat sit, het sy gedink sy sal beter orde kan handhaaf,” sê Du Plessis.

Sello Lehari
Sello Lehari, LUR vir onderwys en sportontwikkeling in Noordwes kom gister by Laerskool Schweizer-Reneke in Noordwes aan. Foto: Christiaan du Plessis

Die Laerskool Schweizer-Reneke is ’n Afrikaansmedium skool en daar word van leerlinge van ander taalgroepe verwag om Afrikaans aan te leer.

Du Plessis wys daarop dat daar buiten die omstrede foto ook ander foto’s op sosiale media gedeel is wat wys hoe dieselfde kinders gemeng in die klaskamer sit.

Sommige sosiale mediagebruikers het dit afgemaak as ’n foefie om die aanvanklike “rassisme” te verdoesel.

“Die ander foto’s is nie ná die tyd geneem nie. Die een foto word uit verband geruk,” sê Du Plessis.

’n Aflosonderwyser sal nou vir die gr. R-klas skool gee en onderrig by die skool sal na verwagting Vrydag normaal voortgaan.

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie het aangedui dat hy die skool Vrydag sal besoek.

Meer oor:  Sello Lehari  |  Schweizer-Reneke  |  Laerskool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.