Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Schweizer: LUR sê oor nóg skorsings by skool

Sello Lehari, LUR vir onderwys in Noordwes, gaan na verwagting Donderdag bekend maak watter personeellede van die Laerskool Schweizer-Reneke in Noordwes óók geskors gaan word weens die rasseherrie wat oor ’n foto van kinders in ’n klaskamer ontstaan het.

Hy het Woensdag op ’n mediakonferensie by die skool gesê die ondersoek na die foto van wit en swart gr. R-leerlinge wat apart van mekaar sit, is byna voltooi en dat twee mense daarby betrokke was. Die foto het gelei tot bewerings van rassisme by die skool, maar die kinders is glo verlede Woensdag geskei sodat apart getolk kon word vir die Tswanasprekende kinders wat nie Afrikaans verstaan nie.

Alwyn Henning, hoof van die Laerskool Schweizer-Reneke, sit agter sy lessenaar. Sello Lehari, LUR vir onderwys, sit langs hom. Mmamotho Semaswe, hoof van Noordwes se onderwysdepartement, sit heel regs. Foto: Susan Cilliers

Die skool se beheerliggaam het Elana Barkhuizen, die onderwyseres wat die omstrede foto in ’n ander onderwyser se klaskamer geneem het, in samewerking met die onderwysdepartement met haar salaris hangende die ondersoek geskors ter wille van “haar eie, die skool en die gemeenskap se veiligheid”.

Lehari het Woensdag met onderwysers, ouers, die skoolhoof, gemeenskapsleiers en die skool se beheerliggaam vergader. Die meeste van die ouers het hul kinders uit die skool gehou uit vrees vir hernude oproer in afwagting van die LUR se besoek.

’n Swart ouer wat die vergadering met Lehari bygewoon het, sê hy is kwaad oor die “ongevraagde” herrie oor die foto. Die ouer sê hy wil nie sy naam gee nie, omdat hy gedreig word. Volgens hom is meeste swart mense in die gemeenskap baie teleurgesteld in hoe die sage oor die foto ontvou het. Hy sê daar is bende-elemente in die swart gemeenskap wat rassetwis en oproer aanhits.

Alwyn Henning, hoof van die Laerskool Schweizer-Reneke, en Sello Lehari, LUR vir onderwys in Noordwes. Foto: Susan Cilliers

“Wit mense in die dorp het my nog nooit sleg behandel nie, ek is vriende met hulle. My kind is nou in gr. 1. Hy was verlede jaar in Barkhuizen se klas. Ons gee mekaar drukkies. Die skool is nié rassisties nie.

“Swart en wit kinders speel saam. Die wit kinders se ouers kom haal my seun in die township om by hul kinders te gaan speel.”

Petalje voor skool se hek

Thami Moremi, ’n EFF-lid wat Maandag toegang tot die skoolterrein probeer kry het deur voor te gee hy het ’n kind in die skool, het Woensdagoggend met ’n minibustaxi voor die skoolhekke gestop.

Terwyl die musiek kliphard daaruit geblêr het, het hy gedreig om mense aan te ry en die skool se hek af te breek sodat hulle kan inkom.

Die polisie het hom later toegang tot die terrein geweier omdat hy aggressief was. SAKP- en ANC-leiers is wel toegelaat om met Lehari te vergader. Hy het hulle tot kalmte gemaan.

Pule Ramabodu, ’n SAKP-leier, sê hulle eis dat die skoolhoof en die onderwysers wat by die foto betrokke was, geskors moet word.

“Ons wil ook groter transformasie en regstellende aksie- aanstellings by die skool sien.”

Kenny Moroleng, streekleier van die ANC, sê swart en wit moet saam sit en die probleme oplos.

“Rassisme het geen plek in ons demokrasie nie.”

Volgens die ouer is die swart kinders baie bang wanneer hulle in gr. R kom en nie die wit kinders ken of Afrikaanse kan praat nie.

“Hulle hou hulle eers eenkant, maar die kinders begin gou meng. My seun het binne vier dae Afrikaans begin praat. Hy is erg getraumatiseer oor wat by die skool gebeur het en wil nou nie skool toe gaan nie.”

Dié ouer en ander ouers soos Tiaan Brand en Corné van Niekerk, wou by Lehari en brig. Tshenolo Tlotleng van die polisie weet wat hulle gaan doen om die kinders se veiligheid by die skool te verseker.

Alwyn Henning, hoof van die Laerskool Schweizer-Reneke, sit agter sy lessenaar. Sello Lehari, LUR vir onderwys, sit langs hom. Mmamotho Semaswe, hoof van Noordwes se onderwysdepartement, sit heel regs. Foto: Susan Cilliers

Dít nadat oproermakers verlede Donderdag die skool se palisadeheinings afgebreek het. “Ons voel in die steek gelaat en verraai (deur die owerhede). Die polisie het niks gedoen nie,” sê Brand.

“Dis hoekom ons ons kinders (vir eers) uit die skool gehou en private veiligheidsdienste gekry het. Ons wil nie hê hulle moet verder getraumatiseer word nie.”

Lehari en Tlotleng het belowe hulle sal seker maak die kinders is veilig en het die ouers gevra om hul kinders weer Donderdag skool toe te stuur. Die polisie het die private veiligheidsdiens beveel om hul afstandbeheertoestelle vir die skoolhekke aan die polisie te oorhandig omdat die polisie nou die skool beveilig.

Mmamotho Semaswe, hoof van Noordwes se onderwysdepartement, sê dis veral noodsaaklik dat die kinders terugkeer skool toe omdat die departement traumaberading vir hulle reël.

Lehari sê sy departement is ook besig met ’n wyer ondersoek na beweerde rassisme by skole in Noordwes, wat nog tot ses maande kan duur.

Meer oor:  Laerskool Schweizer-Reneke  |  Sello Lehari  |  Elana Barkhuizen  |  Noordwes  |  Lur  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.