Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Schweizer: ‘My lewe is verwoes’ – juffrou

Elana Barkhuizen, die geskorste onderwyseres van die Laerskool Schweizer-Reneke, wil verhoed dat wat met haar gebeur het met ’n ander onderwyser sal gebeur.

Sy is verlede week geskors nadat ’n foto, waarop swart en wit leerlinge by aparte tafels sit, ’n rassestorm ontketen het. Die onderwysdepartement het later aan Netwerk24 bevestig dat dit nie haar klas is nie en dat sy geskors is omdat sy die foto geneem en versprei het.

Solidariteit, wat haar verteenwoordig, het Maandag in Centurion op ’n mediakonferensie aangekondig dat hy ’n dringende aansoek in die hof gaan bring om haar skorsing op te hef. Hy oorweeg ook stappe teen politici wat ten koste van Barkhuizen uit die saak probeer munt slaan.

In ’n verklaring wat Barkhuizen voorgelees het, het sy herhaaldelik gesê die voorval het haar lewe verwoes. Sy het ook by herhaling gesê: “Ek is ’n goeie onderwyser.”

Elana Barkhuizen op die nuuskonferensie. Foto: Deaan Vivier

Sy was by tye te emosioneel om verder te lees.

“Verlede week het my wêreld verander. ’n Foto wat ek van ’n gelukkige klas vol kindertjies op hul eerste skooldag geneem het, is deur opportuniste teen my kindertjies, teen my skool én teen my gebruik.”

Sy en haar gesin het Schweizer-Reneke verlede week uit vrees vir haar lewe verlaat.

“Ek gaan baklei. Ek gaan doodseker maak dat wat met my gebeur het, nooit weer met enige ander onderwyser gebeur nie. Ek is dit verskuldig aan my eie klassie, aan my mede-onderwysers en aan elke kind in Suid-Afrika wat goeie onderwysers nodig het,” het Barkhuizen gesê.

Sy het nie vrae beantwoord nie omdat die ondersoek na die voorval steeds aan die gang is en omdat die skoolbeheerliggaam haar versoek het om nie met die media te praat nie.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê die skorsing is onwettig.

Die skoolbeheerliggaam het Donderdag met Sello Lehari, LUR vir onderwys en sportontwikkeling in Noordwes, en ander amptenare van die departement ooreengekom om Barkhuizen te skors.

Sy is glo ’n minuut voordat Lehari haar skorsing aan ’n saal vol betogers by die skool aangekondig het, ingelig dat sy haar pos moet ontruim.

Volgens Herman was Lehari se optrede oorhaastig en is sy deur ’n “boendoehof” skuldig bevind.

Die DA-jeugleier het selfs op radio gesuggereer dat waar rassisme betrokke is, is vooraf-ondersoeke nie nodig nie en het die betrokke onderwyseres se naam in ’n mediaverklaring genoem.

“Ons glo die proses wat gevolg is, is onwettig. Die onderwysdepartement het geen sê oor Barkhuizen se skorsing nie, omdat sy vir die skoolbeheerliggaam werk. Lehari het haar ook geskors sonder om te noem dat sy bloot die foto geneem het.”

Solidariteit vra verder dat Mmusi Maimane, leier van die DA, tugstappe teen die DA se jeugleier, Luyolo Mphithi, doen.

“Die DA-jeugleier het selfs op radio gesuggereer dat waar rassisme betrokke is, is vooraf-ondersoeke nie nodig nie en het die betrokke onderwyseres se naam in ’n mediaverklaring genoem,” het Hermann gesê.

Solidariteit oorweeg dit om ná die ondersoeke ’n lastereis in te stel.

Hermann was versigtig om vrae te beantwoord oor die onderwyseres wie se klas dit is.

“Dit is ’n Afrikaanse skool en die kinders kon nie Afrikaans of Engels praat nie, slegs Tswana. Dit was die gr. R’e se eerste dag en hulle was skrikkerig. Hulle is in taalverband laat sit om hulle gemakliker te laat voel.

“Die groot probleem is dat die onderwysdepartement nie die infrastruktuur skep om Tswana te help nie. Nou word onderwysers belas daarmee om oplossings vir die departement se gebreke te soek. Onderwysers op die platteland gaan uit hul pad om leerlinge tegemoet te kom,” het hy gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.