Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Schweizer-onnie ‘mag nooit weer skoolhou’, sê EFF
Ouers kom haal Vrydag hul kinders na skool by Laerskool Schweizer-Reneke. Foto: Deaan Viviers

Die EFF wil sien dat die geskorste onderwyseres van die Laerskool Schweizer-Reneke heeltemal uit die onderwys geskop word.

Die party meen die Suid-Afrikaanse Raad van Opvoeders (Saro) moet haar registrasie as leerkrag opskort sodat sy “nooit weer in Suid-Afrika kan skoolhou nie”.

’n Onderwyseres van dié skool is geskors hangende ’n ondersoek van Noordwes se departement van onderwys oor ’n foto wat ’n rasseherrie op sosiale media ontketen het.

Op dié foto wat glo deur die onderwyseres vir ’n Whatsapp-groep van ouers geneem is, sit wit en swart gr. R-leerlinge afsonderlik in ’n klas.

Freddy Sepeng, woordvoerder van die departement, sê hoewel dit nie die betrokke onderwyseres se klas is nie, het sy die foto geneem en sy moes geweet wat sy sien, is verkeerd.

’n Tweede onderwyseres, die een in wie se klas die foto geneem is, kan moontlik ook geskors word.

Chris Klopper, uitvoerende hoofbeampte van die Suid-Afrikaanse Onderwys Unie (SAOU), sê die vakbond gaan die onderwyseres se skorsing betwis.

Die organisasie sê die redes vir die onderwyseres se skorsing is twyfelagtig. 

Klopper het aan News24 gesê arbeidswetgewing is nie gevolg toe die onderwyseres geskors is nie. Hy sê sy het nie 'n brief ontvang wat haar moes inlig van die die voorneme om haar te skors en die redes daarvoor nie.  

’n Advertensiebord by die Laerskool Schweizer-Reneke in Noordwes. Foto: Deaan Vivier

Dirk Hermann van Solidariteit het op Twitter gesê Solidariteit het die “beste regspan” aangestel om die onderwyseres te verteenwoordig.

“Dit was (’n) boendoehof wat haar (in die) openbaar skuldig bevind het,” skryf Hermann. Hy sê ook die feite gaan “talle hoë profiel mense met rooi gesigte laat.”

Netwerk24 het vroeër eksklusief berig dat die onderwyseres vir haar veiligheid uit Schweizer-Reneke padgegee het. 

Dit het ook Saterdag bekend geword dat van die ouers van die kinders wie se gesigte op die foto’s te sien is, besig is om regsadvies in te win.

’n Senior staatsaanklaer sê talle ouers het haar genader om uit te vind of hulle regstappe teen die mense kan doen wat die foto’s van hul kinders op sosiale media geplaas het.

Die aanklaer sê die wet moet eers bestudeer word waarna ’n besluit geneem sal word of daar ’n kans op suksesvolle vervolging is.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê die voorval by die laerskool dien as bewys dat die sosiale kohesie in Suid-Afrika lostorring weens die verdelende beleid wat die ANC die afgelope 24 jaar gevolg het. Politieke partye speel met vuur om die spanning verder op te jaag deur rassisme te misbruik vir politieke gewin,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.