Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Schweizer-pa: Ek moet my 5-jarige nou leer van ons geskiedenis

“Ek moet vanaand aan my vyfjarige kind ’n deel van ons land se geskiedenis verduidelik wat ek nie nou al gereed was om te doen nie.”

So sê ’n pa van Schweizer-Reneke in Noordwes nadat ’n rasseherrie ontstaan het oor ’n foto op sosiale media waarin swart gr. R-leerlinge van wit leerlinge geskei is en by ’n aparte lessenaar in ’n klas in die Laerskool Schweizer-Reneke sit.

Die man word nie geïdentifiseer nie om sy minderjarige kind te beskerm.

“Ek weet nie presies wat Dinsdag in die klas gebeur het nie. Al wat ek weet, is dat die arme kindertjies nie weet waaroor dit gaan nie.”

Dit is absoluut belaglik dat so iets by ’n skool gebeur. Die kinders is almal baie ontsteld en geskok.

Die man sê hy weet ook nie wat die ware toedrag van sake was of watter foto wat die ronde doen eerste op ’n WhatsApp-groep aan ouers gestuur is nie.

Die eerste foto wat op sosiale media verskyn het, wys vier swart leerlinge wat alleen by ’n tafel in ’n klaskamer naby die deur sit. Die wit leerlinge sit almal by ’n lang tafel. ’n Tweede foto wat geplaas is, wys wit en swart leerlinge saam.

Die ouer sê sy kind het geen bewustheid van apartheid of segregasie nie. Die kind het ’n goeie verhouding met kinders van alle rasse. Hulle woon op ’n plaas buite die dorp en sy kind speel saam met die plaaswerkers se kinders.

“Ek is hartseer oor wat by die skool gebeur het,” sê hy.

Die skool het Donderdag die ouers gebel en gevra om hul kinders by die skool te kom haal nadat ’n groep betogers oproerig geraak het.

“Dit is absoluut belaglik dat so iets by ’n skool gebeur. Die kinders is almal baie ontsteld en geskok.”

Hy sê dit gaan reeds broekskeur met die gemeenskap van Schweizer-Reneke weens die ekonomie wat druk.

Die dorp word geraak deur ’n verskriklike droogte wat die streek lamlê. Die meeste boere kon nie mielies plant nie.

“Ons moet mense behandel soos ons self behandel wil word. Die laaste ding wat ons nou in die dorp nodig het, is konflik.”

Hy sê almal is onseker oor wat nou gaan gebeur.

“Dis nie soos in die stad waar daar ’n wye keuse van skole is nie. Dorpe is ver uitmekaar en nie almal kan bekostig om ’n kind in ’n ander skool te sit nie.”

Volgens hom moes ’n behoorlike ondersoek eers gedoen gewees het voordat die onderwyseres van die gr. R-klas deur die departement van onderwys in Noordwes geskors is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.