SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Onderwys
Schweizer-Reneke: 'Kinders verstaan nie'

Nou sal hy maar vir sy kind moet sê.

“Ek moet vanaand aan my vyfjarige kind ’n deel van ons land se geskiedenis verduidelik wat ek nie nog nie gereed was om te doen nie,” het ’n pa van Schweizer-Reneke in Noordwes Donderdag gesê oor die rasseherrie wat by sy kind se skool ontstaan het.

Die man word nie geïdentifiseer nie om sy kind te beskerm.

 Laerskool Schweizer-Reneke
’n Ouer leen sy selfoon aan ’n leerling van die Laerskool Schweizer-Reneke in Noordwes om haar ma te laat weet sy moet gehaal word. Langs haar staan ’n maatjie in trane oor die chaos wat gister by die skool geheers het. Foto: Christiaan du Plessis

Die herrie gaan oor ’n foto waarop swart gr. R-leerlinge van wit leerlinge geskei is. Hulle sit by ’n aparte lessenaar in ’n klaskamer by die Laerskool Schweizer-Reneke.

Die foto is op sosiale media geplaas.

“Ek weet nie presies wat Dinsdag in die klas gebeur het nie. Al wat ek weet, is dat die arme kindertjies nie weet waaroor dit gaan nie,” sê die pa.

Emosionele tonele het hulle Donderdag afgespeel toe ouers hul kinders by die skool gaan oplaai het. ’n Klein groepie mense het die oggend by die skool betoog en die skool het ouers laat weet om hul kinders te kom haal toe die betogers oproerig raak.

Die ouer sê sy kind het geen bewustheid van apartheid of segregasie nie.

Die kind het ’n goeie verhouding met kinders van alle rasse. Hulle woon op ’n plaas buite die dorp en sy kind speel saam met die plaaswerkers se kinders, sê hy.

“Ek is hartseer oor wat by die skool gebeur het.”

Die skool sê die leerlinge is op grond van taal geskei. Dit was die eerste skooldag en die skool sê dis makliker om te skei tussen Engels en Afrikaans.

By die skool is ’n stuk van die palissadeheining Donderdag oopgebreek om die kinders uit te kry.

Van die ouers het gehuil omdat hulle nie hul kinders kon opspoor nie.

’n Span onder leiding van Sello Lehari, LUR vir onderwys en sportontwikkeling in Noordwes, het die skool besoek om ondersoek in te stel. Die orde is omstreeks 11:00 herstel.

Lehari het aan die skare gesê die skool het probeer verduidelik hoekom leerlinge apart gehou word.

'Taal was die skeiding'

“Die skool sê die leerlinge is op grond van taal geskei. Dit was die eerste skooldag en die skool sê dis makliker om te skei tussen Engels en Afrikaans. Die departement veroordeel wat hier gebeur het, ten sterkste.”

Hy het gesê ’n onderwyseres is geskors. Toe hy sê ’n plaasvervanger-onderwyser is gereël tot nadat die ondersoek afgehandel is, het verskeie betogers geëis dat ’n swart onderwyser aangestel word.

Lehari het gesê hy het nie nou ’n rede om die skoolhoof te skors nie. “Ek sal Maandag ’n beslissing oor die skoolhoof maak nadat ’n verslag oor die voorval opgestel en aan my oorhandig is.”

Polisielede het ’n beskermende “muur” voor amptenare van die departement gevorm toe betogers op die skoolsaal se verhoog klim.

MRK sal ondersoek

Die Menseregtekommissie (MRK) het ook reeds die skool besoek en doen ondersoek, sê Gail Smith, woordvoerder.

Dit is nie duidelik watter foto wat die ronde doen, eerste op ’n WhatsApp-groep aan ouers gestuur is nie.

Die eerste foto wat op sosiale media verskyn het, wys vier swart leerlinge wat alleen by ’n tafel in ’n klaskamer naby die deur sit. Die wit leerlinge sit almal aan ’n lang tafel.

’n Tweede foto wys wit en swart leerlinge saam.

Schweizer-Reneke

Die pa wat sê hy moet aan sy kind verduidelik wat aangaan, sê wat by die skool gebeur het, “is belaglik”.

“Die kinders is almal baie ontsteld en geskok.”

Hy sê dit gaan reeds broekskeur met die gemeenskap van Schweizer-Reneke weens die ekonomie wat druk.

Die dorp word geraak deur ’n verskriklike droogte wat die streek verlam. Die meeste boere kon nie mielies plant nie.

“Ons moet mense behandel soos ons self behandel wil word. Die laaste ding wat ons nou in die dorp nodig het, is konflik.”

Hy sê almal is onseker oor wat nou gaan gebeur.

“Dis nie soos in die stad waar daar ’n wye keuse van skole is nie. Dorpe is ver uitmekaar en nie almal kan bekostig om ’n kind in ’n ander skool te sit nie.”

Ons moet mense behandel soos ons self behandel wil word. Die laaste ding wat ons nou in die dorp nodig het, is konflik.

Leerkrag is geskors

Verwarring het nog teen Donderdagaand geheers oor wie die onderwyseres is wat die gr. R-kinders afsonderlik laat sit het.

Daar was ook onsekerheid of die onderwyseres wat geskors is die klasjuffrou is en of sy die foto geneem het.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), het bevestig dat die onderwyseres ’n lid van die SAOU is. Die vakbond win regsadvies in oor die tydelike skorsing van die onderwyseres en sal Vrydag die skool besoek.

“Ons is ontevrede oor die manier waarop ons lid geskors is. Dit voldoen beslis nie aan beginsels soos voorgeskryf deur die arbeidsreg nie,” het Klopper gesê.

'Partye misbruik dit'

AfriForum het Donderdag alle politieke partye veroordeel wat reeds hul oordeel gevel het oor die gebeure by die skool. Alana Bailey, uitvoerende adjunkhoof van AfriForum, sê ’n behoorlike ondersoek moes eers gedoen word alvorens politieke partye “uitsprake maak vir hul eie ideologiese gewin en daardeur kinders misbruik”.

Die ANC, DA, EFF en bekendes soos prof. Thuli Madonsela, voormalige openbare beskermer, asook prof. Jonathan Jansen van die Universiteit Stellenbosch, het die voorval ten sterkste veroordeel. Joe McGluwa, DA-leier in Noordwes, het by die skool die skorsing van die onderwyseres verwelkom.

schweizer-reneke

'Dit is net een oomblik'

Die foto is ’n enkele oomblik in ’n klaskamer en nie ’n weerspieëling van die ware karakter van die skool nie.

Jozeph du Plessis, voorsitter van die Laerskool Schweizer-Reneke se beheerliggaam, sê in ’n verklaring die skool is trots op sy geïntegreerde karakter.

“Die skool se etos is geskoei op inklusiwiteit as ’n toonbeeld van die breër Suid-Afrikaanse gemeenskap.”

Hy sê die foto is geneem om ouers te wys hoe gaan dit met hul kinders op die eerste dag in gr. R. Hy sê die beheerraad sal opleiding verskaf in integrasie waar dit nodig blyk te wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.